Jong onderwyseres dood aangetref

Argieffoto: Kent Williamson

Die polisie in Noordwes ondersoek ’n saak van moord nadat die liggaam van ’n 25-jarige onderwyser vroeër vandeesweek naby Rustenburg aangetref is.

Mmaphefo Matsemela, provinsiale LUR van onderwys, het Woensdag in ’n verklaring gesê die onderwyseres is Maandag vermoedelik by haar huis in die Magong-nedersetting verwurg.

Volgens Matsemela was die slagoffer oorspronklik van die Makgobistad-nedersetting naby Mahikeng waar sy haar onderwysgraad by die Noordwes-Universiteit se Mahikeng-kampus in 2018 verwerf het. Sy het van 2019 klas in lewensoriëntering by die Makoba Secondary School gegee.

“Dit is hartverskeurend om ʼn jong onderwyseres te verloor wat ʼn lang loopbaan in die onderwyssektor kon gehad het,” het die LUR gesê.

“Hierdie tragiese voorval gebeur in ’n tyd wat ons land ’n stryd teen geslagsgebaseerde geweld voer. Dit is een sterfgeval te veel. As departement veg ons teen ʼn gemeenskaplike vyand genaamd Covid -19 en ons verwag nie om ons onderwysers op hierdie manier te verloor nie,” het Matsemela gesê.

Die LUR het nou ’n beroep op die polisie gedoen om die skuldige aan die pen te laat ry.

Maroela Media het ’n navraag aan die polisie gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sobymykoolkop

Volgens matsemela is die EEN moord te veel. Moet ek lag of nog meer huil.