Jong ouers neem eie lewe dag uitmekaar

Jason Jonker en Rochelle Drury het hul eie lewens ’n dag uitmekaar geneem. (Foto: Verskaf)

Die geliefdes van ʼn jong ouerpaar is in rou gedompel nadat hulle ʼn dag uitmekaar hul eie lewe geneem en twee klein kinders agtergelaat het.

Jason Jonker (26) en Rochelle Drury (24) is onderskeidelik Dinsdag en Woensdag oorlede. Besonderhede oor die paartjie se dood word uit respek vir die familie weerhou.

Hulle het ʼn 10 maande oue babaseun en Drury het ʼn vierjarige seuntjie, uit ʼn vorige verhouding.

Dit is nie duidelik wat die paartjie gedryf het om hul eie lewe te neem nie.

Jonker, ʼn kranige rugbyspeler, was ten tyde van sy afsterwe in Griekwastad, waar hy as ʼn bouterreinbestuurder gewerk het.

Volgens sy sussie, Jessica (27), het Jonker bykans elke naweek Bloemfontein toe gery waar hy en Drury saam met hul kinders in Gardeniapark gewoon het.

Drury was ʼn skoonheidsterapeut op die dorp en is in Bloemfontein oorlede.

Jessica sê dit is nie in dié stadium duidelik by wie die kinders nou sal woon nie.

“Dit is ʼn besluit waaroor albei families gaan praat wanneer die ergste eers verby is.”

Sy sê Drury en haar broer was “ongelooflike mense”.

“My boetie was onmenslik lief vir haar gewees. Hulle het hul probleme gehad, maar jy kon sien hulle was lief vir mekaar.

“Hulle het altyd alles gegee vir hul kinders. Die kinders het soveel liefde en omgee van hulle af gekry.”

Jessica het nie op Drury se afsterwe kommentaar gelewer nie, maar gesê dat sy nooit vermoed het dat Jonker sy eie lewe sou neem nie.

“Die moeilikste is om te weet hy het dit so ver weg van ons af gedoen en dat daar geen teken was dat hy van plan was om so iets te doen nie. Hy is en was altyd die sterkste mens,” sê Jessica wat in Bainsvlei, Bloemfontein, woon.

“My boetie was een van die ongelooflikste mense wat ek in my lewe gehad het. Hy het soveel mense in sy lewe se harte aangeraak en ons almal rou. Daar is nie een persoon wat vir my kan sê hy was ʼn slegte mens nie.

“Ek was en sal altyd onmenslik lief wees vir hom. As sy ousus moes ek hom beskerm het teen dié donker stryd, maar ek was nie daar nie en dis iets wat my elke dag vang.”

Jason Jonker het Dinsdag sy eie lewe geneem. (Foto: Verskaf)

Ook Jonker se ma, Maureen Labuschagne, sê daar was geen aanduiding dat haar seun homself om die lewe sou bring nie. Sy het die nuus vroeg Dinsdagoggend gekry toe die polisie haar telefonies oor die voorval ingelig het.

Hy het glo ʼn paar uur voor sy dood nog met vriende gepraat en het planne met Labuschagne en haar man, Riaan, aan wie Jonker baie geheg was, gehad. Hy het ook twee dae voor sy dood ʼn lawwe video opgeneem waar hy met hul babaseuntjie speel en het volgens Labuschagne gelukkig gelyk.

Labuschagne sê sy gaan haar seun baie mis – ook die gereelde oproepe en boodskappe wat sy elke dag van hom ontvang het.

“My kind was ʼn pragkind. Hy het sy nukke gehad, maar was tot sy dood altyd daar vir ander.”

Jonker was ook ʼn orgaanskenker.

Jessica sê sy sal haar broer se aansteeklike glimlag en terggees nooit vergeet nie.

“Ek vra elke aand om hom terug te kry, want ek kan my nie ʼn wêreld sonder hom voorstel nie.”

Huldeblyke het ook vir die paartjie op sosiale media ingestroom.

Drury se pa het op sy Facebook-blad geskryf sy dogter se plek is “leeg”.

“Dad se hart is onbeskryflik seer, my kind. Ek mis jou so baie alreeds. Jy is so ʼn mooi kind en mamma en nou is jy weggeneem van ons af.

“Nooit sal ons jou stem en lekker lag hoor nie. Nooit sal jy weer jou arms om my nek of lyf vou en vir my sê ek het ʼn lekker boepens nie. Nooit sal jy weer vir raad of hulp vra nie. Jy was altyd so opgewek en pittig, vir niks in die lewe teruggestaan nie, my kind. Jou stem is nou stil, my kind, maar dit weergalm in my ore en hart. Ek weet nie hoe ek en mamma dit sonder jou gaan maak nie, want die seer is rou in ons. Ek belowe jou een ding, my kind, Dad en Moeksie sal als in ons lewe doen dat jou kinders sal weet wie hul mamma is. Ons sal hulle mooi grootmaak, my kind, dit belowe ek jou.”

Bewusmaking

Jessica en Labuschagne hoop dat hulle ʼn verskil in ander se lewe sal kan maak deur oor Jonker se dood te praat.

“Ek wil hê mense moet weet jy hoef nie bang te wees om te praat oor wat in jou hart of kop gebeur nie – veral mans.

“Daar is ʼn wanopvatting dat mans nie mag huil of hul gevoelens toon nie. Elke mens het iemand nodig met wie hulle kan praat, of selfs net iemand wat ʼn oor kan leen of ʼn skouer gee om op te huil. Almal breek en almal het seer. Niemand moet dit wegsteek oor die wêreld se onnodige opvattings oor hoe jy moet wees nie,” sê Jessica.

Sy sê selfmoord laat dié wat agterbly met soveel onbeantwoorde vrae.

“Dit is ʼn seer wat nooit einde kry nie. Die onwerklikheid daarvan sit nog steeds in my kop. Ek sit elke dag en wag vir ʼn oproep of ʼn boodskap van hom. Die ‘hoekom-vraag’ is een wat nooit ʼn antwoord gaan kry nie, want ons weet nie hoekom dit gebeur het nie en dít maak die seerste.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

40 Kommentare

Wielspore ·

Dit is ‘n stille tragedie, sterkte aan die familie en vriende.

Cheryl ·

Seker een vd hartseersde gevalle ooit. My hart breek vir die pragtige kinders en familie. Sterkte. Woorde beteken nie veel nie maar ons bid vir vertroosting, krag en verstaan. Hoe kry mens ooit antwoorde. Here vou asb U arms om hierdie familie en vertroos soos net U kan.

Blomme ·

Dis nou ń tragedie… Mag die familie op die regte tyd vertroosting vind.

Zombie ·

Ek bid hulle kry deurentyd vertroosting. Is daar ń verkeerde tyd om vertroosting te vind?

Elmarie ·

Waar lees jy dat hulle mekaar vernietig het. Dit kan dalk hulle omstandighede wees. Moenie oordeel nie

Perdeby ·

Baie tragies, maar as jy so tussen die lyne lees klink dit maar of hy nie so ‘n maklike mens was nie, en dat daar maar wel probleme in die verhouding was. Dit bly baie hartseer, want 2 klein kindertjies gaan groot word sonder ‘n mamma en pappa.

Lubbe ·

Toetie, dink dit is baie swak van jou om enigsins iets te wil se oor iemand wat jy nie geken het nie.

twaalfboor ·

Toetie is seker geregtig tot ñ opinie. Dis hoekom hierdie platform hier is.

Retha ·

Beslis nie om reeds stukkende familie nog meer hartseer te besorg nie. Toetie se siening is heeltemal onvanpas

Willie ·

Hi Toetie, huil eerder saam met hierdie twee families in hierdie tyd. Moet nie jou aannames publiseer nie, jy lees dalk heetemal verkeerd tussen die lyne. Dink ook aan die kindertjies wat albei hul ouers verloor het en bid vir die grootouers vir wysheid om hierdie pragtige kindertjies groot te maak.

Elmarie ·

Ek dink jy lees verkeerd. Elke mens het sy issues, so as sy ma se hy het nukke gehad beteken dit nie hy was ‘n moeilike mens nie

Elke verhouding het struikelblokke, deur is hard-op in die media te erken beteken die familie is nie skynheilig nie.

Maggies ·

‘n Ongelooflike hartseer berig. Mag hierdie familie vertroosting vind en met baie liefde die twee kindertjies versorg. My opregte meegevoel met hulle verlies.

Tipper ·

Daai arme klein kindjie, hoe gaan dit aan hom verduidelik word, onmoontlik,hy gaan nie verstaan nie,sal elke oomblik sy ma en pa soek, hulle is daar nie meer nie.

twaalfboor ·

Dis maklik. Vertel die kind hoe selfsugtig sy ouers was.

Zombie ·

Ek dink jy soek maar net bietjie aandag met jou simpel, hardvogtige kommentaar. Hier kry jy dit nou.

Jacobus ·

Baie hartseer.
Ek bid dat God hierdie twee families die krag sal gee om hierdie tragiese gebeure te verwerk en hierdie twee seuntjies goed groot te maak.

Leon ·

Was deur dieselfde met my jonger broer. Ook niks gese en ons het niks vermoed. Hy het nog vleis gekoop wat hy die middag wou braai, toe kry ons die nuus wat ons hele wereld verander het. Die vraag “hoekom” dra ek elke dag, 8 jaar saam met my. Sy 2 pragtige dogters word nou voor my groot.

Sterkte aan al die Familie en vriende

Karinda ·

So jammer, my broer het dit in 2004 gedoen, steeds bly die seer met mens.

annie ·

Baie, baie Afrikaners, jongmense en oumense kry deesdae bitter swaar. Hulle sien nie ‘n uitkoms nie. Hul naaste wil meestal nie klagtes aanhoor nie met die gevolg dat hul in stilte ly. Baie is ook te trots om te kla want dit gaan beter met hul naaste of dié sal nie wil uithelp nie… Jy of julle wou mos, ens. En dan is daar die wredes onder ons wat bly is dit gaan sleg met so of so… Hul gaan mos nie kerk toe nie of sy pa of ma was mos sulke dit of dat… En skenk eerder vir hul verstes… Tog so vroom…

piet ·

Jy’s reg met hierdie een Annie. Dis ongelukkig so dat ons as Afrikaners nie daaraan gewoond is om mekaar in so ‘n mate te help (veral nie in familieverband nie) soos mens sou sien in die swart gemeenskappe nie. Baie veroordelend teenoor die wat “dit nie maak nie”. Sal eerder op die ou trap wat swaarkry as om hom te help want hy is mos nou “sleg”.

Mariaan ·

Ek verstaan…en ek verstaan ook nie…wat van mens se kinders?? Ai..dis tragies..sulke mooi mense…sterkte aan die families…wens so die paartjie kon eerder hulp kry…vir jou kinders…vir jouself…die wereld is n wrede plek

TO ·

Dis ‘n verskriklike seer, my hart breek in ‘n miljoen stukke vir hierdie families en die kindertjies. Mag Jesus julle troos wees in die bitter seer.

Di ·

Sjoe my hart gaan uit na beide hierdie pragtige jong mense se families. Die lewe is deesdae so moeilik en baie van ons raak so moedeloos met al die dinge wat aangaan in hierdie land. Mag hulle in vrede rus en mag die Hemelse Vader beide hulle familielede, vriende en kollegas die krag gee om deur hierdie moeilike tyd te kom. My gebede gaan ook uit na hierdie 2 pragtige kinders wat nou ouerloos gelaat is. God sal voorsien.

Chantel ·

Sjoe, hoe bitter hartseer is dit nie. Sterkte aan die families en die klein kindertjies. Ai tog.

Elmarie ·

Baie sterkte vir albei families. My hart gaan uit na die twee seuntjies toe. Mag God julle almal dra en genadig wees.

Toy ·

Twee pragtige mense, ek voel so jammer vir die kindertjies. Dit is bitter hartseer..my innige simpatie aan die families.

piet ·

Hierdie ou lyk bekend vir my. Iewers op tv gewees? Nee, herinner my aan Dale Steyn waarskynlik.

Waarnemer ·

My hart gaan uit na beide hierdie families toe.Dit is tragies maar ek wil net vir julle se,mense se”toemaar tyd sal die seer genees,dit is n lieg storie,dit word NOOIT beter nie,die seer bly daar elke dag .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.