Jong pa geopereer ná gemsbokhoring hom deurboor

Marco Schoonwinkel.

Die omvang van Marco Schoonwinkel se beserings sal eers vasgestel kan word wanneer hy nie meer verdoof word nie.

Schoonwinkel, ʼn beroepsjagter, is Sondag beseer toe hy deur ʼn gemsbokbul se horing deurboor is op ʼn plaas in die Thabazimbi-omgewing in Limpopo.

Die jong pa het reeds twee noodoperasies ondergaan nadat hy per helikopter na Pretoria oorgeplaas is.

Volgens die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika (Phasa) het die voorval tydens ʼn wildverskuiwingsoperasie plaasgevind.

Die gemsbokbul se horing het Schoonwinkel net onder sy naeltjie deurboor, dwarsdeur na sy rugwerwels deurgedring en ʼn hoofslagaar geskeur.

Die span wat saam met hom was, het onmiddellik noodhulp begin toepas om bloedverlies te probeer keer. Volgens Phasa is noodprotokol toegepas en is Marco per helikopter na ʼn hospitaal in Thabazimbi geneem waar hy noodbehandeling ontvang het.

Schoonwinkel is later met ʼn Netcare 911-helikopter na ʼn hospitaal in Pretoria gevlieg waar hy ʼn noodoperasie van bykans vier uur ondergaan het. Hy moes weens inwendinge bloeding nog ʼn noodoperasie ondergaan.

“Ons vra vir gebede vir sy volle herstel en wil ook al ons lede vra om versigtig te wees. Marco se familie en vriende wil almal bedank vir hul omgee en wense.

“Ons werk met wilde diere en enigiets kan binne ʼn oogwink skeefloop.” Phasa het sy lede ook aangemoedig om seker te maak noodprotokol word ingestel vir noodsituasies aangesien dit lewens kan red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
ES

Sjoe, wens jou alle sterkte toe, dis nie elke dag dat so ‘n ongeluk gebeur nie.

Swerwer

Sterkte aan hom en sy familie. Jul bly in my gebede

S'kgaapie

shame, dis nie iets wat jy baie hoor nie, sterkte Meneer.

Sanja

Baie baie sterkte ons vertrou en bid dat jy ten volle sal herstel.