Jong pa het ‘om sy lewe gepleit’

Juandré en Johanette Kidson. (Foto: Facebook / Johanette Kidson

ʼn 29-jarige pa van Brits in Noordwes het om sy lewe en dié van sy gesin gepleit voordat gewapende rowers hom Saterdagaand koelbloedig doodgeskiet het.

Maroela Media het vroeër berig dat Juandré Kidson besig was om ʼn beskadigde motorband op die N4 buite Brits te ruil toe drie mans hom oorval het. Kidson het saam met sy vrou, Johanette, en hul eenjarige dogtertjie op die hoofweg gery toe hulle oor klippe gery het wat glo opsetlik in die pad geplaas is.

Kidson se jonger broer, Marco (20), sê sy boetie is een keer in die kop geskiet en Johanette in die skouer. Sy sterk tans by haar skoonouers, Brian en Tiena Kidson, se huis in Rustenburg aan. Die jong gesin het Saterdag daar gekuier voordat hulle na hul huis in Brits teruggekeer het. Kidson het sy eie onderneming, aQuam Vivam, op dié dorp bedryf.

Marco sê die rowers het boonop probeer om die babadogtertjie uit haar ma se arms te ruk.

“Sy [Johanette] moes veg vir haar kind se lewe. My boetie het hulle gesmeek om alles te vat en te gaan. Hy het gesmeek vir sy lewe en nog steeds het hulle hom geskiet.

“Hulle het ook probeer om die kind by Johanette te gryp, maar sy het met alles in haar baklei. Sy is so erg gebreek. Op die oomblik gaan dit nie goed nie,” het hy Maandag aan Maroela Media gesê.

Kapt. Aafje Botma, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê dat die rowers met selfone en ander items gevlug het. Hulle is steeds soek.

“Hulle was daar vir een rede: Om te moor. Die rowers het alles gehad wat hulle wou hê en nog steeds het hulle my boetie geskiet en gepoog om my skoonsussie te vermoor.

“Dit is die hoeveelste geval op die N4 en ek as boetie soek baie graag ’n antwoord van die polisie oor wat aan dié wrede moorde gedoen word en watter pogings daar al was om dit veiliger te maak.”

Marco wil ook weet wat die polisie tans doen om sy broer se moordenaars op te spoor.

Hy sê die familie is verpletter deur Kidson se dood.

“Hy was altyd vriendelik en het almal moed ingepraat. Hy was ’n Godvresende man wat ’n reguit pad met die Here gestap het. Hy was altyd daar as iemand hom nodig gehad het.”

Marco sê sy broer het altyd die goed in ander raakgesien en sy hande stomp gewerk vir sy vrou en kind.

“Hulle was sy alles.”

Dis veral langs die viswaters waar Marco sy broer die meeste gaan mis. “Dís waar ons so na aan mekaar gekom het.”

Hul kleinboet, Ruben (13), kry net so swaar. Hy het ʼn hegte band met Kidson gehad en het Saterdag nog aanlyn speletjies saam met hom gespeel.

Kidson sou volgende maand sy 30ste verjaardag vier. Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

55 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

Ek huil van woede!!! So ‘n jong gesin en nou die trauma en sinnelose dood. RIV en simpatie met die gesin. Ons as volk, dra julle in gebed op.

Swerwer

Dit is hartverskeurend! Die woede het nie meer grense nie, hoekom onskuldige mense van hul lewens ontneem moet word en die moordenaars is aan bewind en absoluut niks word gedoen om die koelbloedige wreedardige moorde te stop nie.

Vettiemaragartos

So jammer oor jul verlies. Dan wil ek sê dagvaar die rook uit Sanral en Bakwena en die Polisie uit. Hierdie probleem kom al jare op daardie pad voor en dan is die polisie se kommentaar ons moet liewers nie in die aand rond ry nie. Daar was net voor hierdie insident ‘n ander voertuig wat gekaap is. Gelukkig het die bestuurder weg gekom en by mense op de Wildt aangeklop om hulp. Mens kan amper nie eens meer in die dag daar rondry nie. Doen liewers jul werk waarvoor jul betaal word en waarvoor ons tolgeld betaal.

Frederick

Hoekom word die 48uur aksie plan nie ook vir die gesin in werking gestel nie.

Christo

Die hartseer deel is dat die diere weg gaan kom met dit. Geen politieke party kan stemme werf uit die sinnelose moord soos met Hillary Gardee s’n nie, so dis die laaste wat ons van dit hoor… Maak my siek