Jong pa se toestand verswak ná skietaanval

Gerald van Jaarsveld is ses keer tydens ’n huisroof geskiet. (Foto: Verskaf

Gerald van Jaarsveld (32) sal Dinsdag vir die sesde keer geopereer word om ’n septiese maagwond skoon te maak nadat hy op 29 Julie ses keer in sy huis in Brakpan geskiet is.

Hy is ook sedert Maandag op dialise geplaas aangesien sy nierfunksie oor die afgelope paar dae baie verswak het.

Maroela Media het vroeër berig dat Van Jaarsveld, sy verloofde, Kathleen van Wyk, die paartjie se ses kinders (tussen drie en 16 jaar oud), asook twee pensioenarisse wat by die gesin woon deur sowat vyf gewapende mans oorval is. Van Jaarsveld is vyf keer in die been en een keer in die maag geskiet. Van Wyk is ook een keer in die maag geskiet, maar is vier dae ná die voorval uit die hospitaal ontslaan.

Van Wyk en Van Jaarsveld is ná afloop van die voorval na die Verre Oos-Rand-hospitaal in Springs geneem waar Van Jaarsveld drie noodoperasies ondergaan het, onder meer om sy lewer te bind en sy buik skoon te maak.

Hy is kort daarna na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas waar hy steeds om sy lewe veg. Van Jaarsveld het ook intussen sepsis in sy buik ontwikkel wat glo toenemend vererger. Hy moes Donderdag en Sondag wéér operasies ondergaan om sy maag skoon te maak.

Sy suster, Sonika Hugo, sê dit gaan in dié stadium nie baie goed met haar broer nie.

“Dokters het nie geweet of hy Maandagaand deur die nag sou oorleef nie. Hulle beplan om hom vandag weer teater toe te neem om sy septiese maagwond skoon te maak.”

Dokters het Sondag aan die familie gesê die sepsis in Van Jaarsveld se maag vorm vinniger as wat hulle dit kan dreineer.

Gerald van Jaarsveld en sy verloofde, Kathleen van Wyk. (Foto: Verskaf)

Benewens die agteruitgang van sy nierfunksie is Van Jaarsveld se bloeddruk ook baie laag. Hy is steeds aan ’n ventilator gekoppel.

Van Wyk is Maandagaand toegelaat om haar verloofde vir die eerste keer te sien sedert sy oorplasing na dié hospitaal ’n week gelede.

“Al Gerald se medikasie is Maandag verander en hy word nuwe antibiotika toegedien.

“Hy moet ook nuwe adrenalien ontvang aangesien dié wat die hospitaal aanvanklik vir hom as deel van sy behandeling gegee het, glad nie gewerk het nie. Dokters sê verder dat die lae bloeddruk moontlik weens die dialise kan wees.”

Van Wyk sê sy het amper ’n uur by Van Jaarsveld gestaan, aan hom gevat en met hom gesels.

“Ek hom vertel hoe lief ons almal vir hom is en dat almal vir hom bid. Toe ek die kinders se name vir hom opsê en by hom pleit om aan te hou veg, het hy sy oë gerek en daar het trane uitgeloop. Ek het geweet hy kan my hoor en dit was vir my ’n teken dat hy nie sal opgee nie.

“Terwyl ek by Gerald gestaan het, het ek in Jesus se naam lewe oor hom uitgespreek. Ek weet Jesus hou hom vas en stap hierdie pad na herstel saam met hom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Persheks Adri ·

Mag ons Vader sy hand van beskerming oor jou hou!!!

Toy ·

Ek bid vir hom, sy familie en verloofde dat die Here hom tenvolle herstel en gesond maak.

Harley Davidson ·

Ons moet so gou moontlik n tuisstaat kry n besoek aan n staatshospitaal is in die meeste gevalle n doodsvonnis en met die huidige staat raak dit net nie beter nie ,ek weet nie hoekom ons belasting betaal nie,sterkte meneer ons bid dat jy sal oorleef nadat die huidige regering jou twee keer gefaal het.

koos10 ·

Jasper. Ek kan getuig oor die teendeel oor staatshospitale. Spesifiek Steve Biko. My broer, pa en skoonpa is net goed behandel!

Tiptol ·

Bly jul het ‘n goeie ondervinding gehad, maar my neef het sepsis in Steve Biko gekry en daardeur sy been verloor.

minnie muis ·

hul salnooit tuis staat vir blankes gee nie…. ek nie negatief nie , net logika …

Harley Davidson ·

Ek praat van ‘n onafhanklike staat met sy eie regering ,wette,polisie almal wat wil kan daar kom bly ,die weskaap is ‘n goeie voorbeeld van dit maar ongelukkig val die weskaap onder sa reels en regulasies en dit is wat uitgehaal moet word ‘n nuwe grondwet en almal wat daar bly wit,swart Chinees, Indiër val onder daardie reels en regulasies.

Elinette ·

Kom maar almal eerder Wes-Kaap toe en stem volgende keer óf VF+ òf DA … Hier (meesal) kan ons darem nog sê dat ons dorpe skoon, netjies, in werkende toestand is en ons hospitale en klinieke nie “death traps” is nie.

koos10 ·

Julle moet baklei en aanhou bid. My skoonpa is deur sipsis in die maag so 2 jaar terug. Ons het reg gemaak vir die ergste maar geveg en gebede het hom vir ons gespaar.

Faraway ·

Mag JESUS die seun van GOD wie se NAAM jy nie geskroom het om te noem nie , jou ooreenkomstig jou geloof gee waarvoor jy/julle bid!

Blomme ·

Is die skurke wat dit gedoen het al gevind of word daar na hulle gesoek? Die traagheid vd gereg is die oorsaak dat sulke gewetenlose misdadigers nie 2 keer dink om jou binne jou huis te kom aanval nie. Hul weet hul kom weg daarmee.

Micheal ·

Eintlik in so n geval moet n persoon wat aangeval is in n privaat hospitaal behandel word en die staat moet moet ten volle verantwoordelik gehou word vir die persoon se onkostes – asook enige verliese van inkomsten agv aanval- belasting word betaal maar die staat vaal die belasting betaler

Elinette ·

En as so ‘n persoon te sterwe kom, moet daar uit die staatskas fondse kom vir ‘n begrafnis en vergoeding vir die onmiddellike familie ………… Dink net hoe lekker sal dit DAN in Azania gaan!!!!!!!!!!

Althes ·

In die Naam van Jesus Christus, wees Gerald van Jaarsveld genadig, en herstel hom volkome.

MJ ·

Ek spreek die kosbare Bloed van Here Jesus oor hom , in die naam van Jesus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.