Jong pa skok dood

Clarence by sy ma Charmaine.

Clarence by sy ma Charmaine.

Clarence Thompson (26), ʼn pa van twee, is die naweek dood nadat hy tydens ʼn fratsongeluk in Randfontein ʼn elektriese skok gekry het.

“Ons en sy drie broers gaan hom verskriklik baie mis. Hy was ʼn sonskynkind en sy ogies het altyd so mooi geblink. Hy het so ʼn lekker laggie gehad,” het Charmaine Thompson, Clarence se ma, aan Maroela Media gesê.

Clarence was Saterdag buite sy huis in Robinson besig om ʼn verlengkoord reg te maak. Hy was kaalvoet. Daar was glo ʼn plas water naby en hy het ʼn elektriese skok gekry. “Sy broer Kosie is dadelik soontoe en het vir Clarence mond-tot-mond-asemhaling gegee om hom te probeer bybring.” ʼn Ambulans is ook intussen ontbied.

“Die ambulans het nie gekom nie en Kosie het Clarence in sy bakkie gelaai en hospitaal toe gejaag. Hy is egter met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar. Kosie verwyt homself oor wat gebeur het.”

Volgens Thompson was haar jongste seun altyd met die minste tevrede. “Niemand kan ʼn ma se pyn wegvat nie. Ek het nooit gedink ek sal my baby moet begrawe nie. Ek het geen woorde nie en sien nie kans vir môre nie.” Clarence word Vrydag begrawe.

Clarence laat ook sy twee seuns, onderskeidelik drie jaar en drie maande oud, en sy meisie en die kinders se ma, Cindy Botha (23), agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pendoring ·

Daar is fout by die verspreidingskas. Clarence moes slegs ‘n prikkeling gevoel het voor die krag uitgeklink het. Hierdie dood was voorkombaar. Sterkte aan die naasbestaandes.

Paul ·

Eintlike vraag is waarom hy aan ‘n koord gewerk het met die krag klaarblyklik nog aangeskakel?

Ek moet seker ook nie te gou praat nie – ek het eenmaal toe ek nog so 13 of 14 was self geskok toe ek ‘n elektriese skakelaar herstel het sonder om die krag af te skakel. Gelukkig niks oorgekom nie, maar van toe af maak ek seker die krag is AF en dat almal weet hulle mag dit nie aanskakel nie, voordat ek aan elektriese goed werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.