Jong pa voor broer in supermark doodgeskiet

Marco Doria (Foto: Facebook)

Marco Doria (34) van Kempton Park, Gauteng, was Vrydag op die verkeerde plek op die verkeerde tyd toe hy tydens ’n sakeroof in ’n plaaslike supermark doodgeskiet is. Sy broer, Gino Doria, was saam met Marco in die supermark en moes sy broer se moord aanskou.

Volgens sers. Barbara Ferreira, polisiewoordvoerder, het drie verdagtes omstreeks 18:00 die Edleen-supermark in Duvenhage-straat binnegekom. Hulle het die klante beveel om op die vloer te lê. Hulle het sigarette en geld geëis.

Ferreira sê een van die verdagtes het Marco in die kop geskiet. Geen ander klant is beseer nie.

“Die verdagtes het in ’n grys Nissan-bakkie van die toneel gevlug,” bevestig Ferreira.

Paramedici kon nie Marco red nie weens die aard van sy kopbeserings (Foto: Verskaf)

Gino het op Facebook geskryf dat hy saam met die paramedici alles in hul vermoë gedoen het om sy broer te red, maar hy het later in die hospitaal aan sy wonde beswyk. Marco is die pa van drie dogters.

“Die prentjie in my kop oor die voorval is te grusaam om te beskryf. Ek het ook nie woorde om te beskryf hoe ek voel nie,” het Gino geskryf.

Marco was ’n werknemer by die Dave Sheer Guns-geweerwinkel in Johannesburg.

Volgens Gino was Marco geliefd onder sy vriende, familie, kollegas en klante.

’n Hartgebroke Nicole Doria, Marco se vrou, het aan Maroela Media gesê haar hart is stukkend.

“Ons familie is verpletter en ek is stukkend en leeg,” het Nicole gesê.

Nicole sê Marco was die vriendelikste mens wat sy geken het.

’n Beloning van R100 000 is uitgeloof vir enigiemand met meer inligting wat tot die verdagtes se inhegtenisneming kan lei.

Enigiemand met meer inligting kan die ondersoekbeampte, ao. Christiaan Pretorius by 082 804 2677 bel of Guardian Security by 082 697 2090 skakel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Pieter ·

Gemors!!! Waar is daai hoed nou- Daai karakter weet niks wat buite aangaan nie want hy slaap en eet lekker elke aand.

piet ·

Wat moet hoed doen? Daar is nie genoeg polisiemanne om ooral te wees om elke hoekie en gangetjie van die hele misdaadhool te polisieer nie. So wat stel jy voor moet gedoen word want die polisie kan nie die blaam dra vir die hele misdadige gemors in die land nie?

Deon ·

Hoed kan genoeg mense aanstel, hy kan ook, seker maak sy manne is reg opgelei, en reg die werk doen, dan kan hy ook sommer seker maak dat dat sy mense goeie en sterk bewyse het sodat die kriminele wat gevang word vervolg kan word. Hy kan ook al die polisie lede wat op skorsings is, terug roep werk toe en begin werk daarvan maak om hulle reg of weg te kry…..

Kokerboom ·

Lewe beteken absoluut NIKS vir die goed!! Innige simpatie aan familie

Mariana ·

Ek verwens die uitvaagsels. 3 kinders beroof van hul pa en vrou van haar man. Dis tyd dat kriminele ophou om so beskerm te word. Wanneer gaan SA opstaan en sê genoeg is genoeg.

Kobus ·

Geleerde woord is ANARGIE! Misdadigers weet dat hulle kroonwild is. Slegs 15% van moorde word suksesvol opgelos.

Louis ·

Ja ou cele. Jy en jou kaders is hopeloos. Die kriminelel het n lekker tyd in sa.

Di ·

Waarvoor ‘n onskuldige man in die kop skiet? Net om te wys hy MAG en KAN maar!! Hoop hulle vang die gemors

Jacobus ·

Lyk my dis redelik algemeen om nou op die verkeerde tyd en verkeerde plek te wees?
Kruger Nas Park ook verkeerde plek? Plase ook verkeerde plek?
Cele dit is betreurenswaardig!!

Jr ·

Hierdie land is in sy ” nut (wat op n bout draai in Afrikaans) in . No consequences. Net ‘n land in” arnarchie “.

Samuel ·

Dit is tragies, hartseer, verontrustend. Innige meegevoel met die naasbestaandes.

Linda ·

Die rowers het nie daar gehoort nie, daar is nie n verkeerde tyd en plek nie.

JohanR ·

Hulle moet altyd iemand op die toneel vermoor. Is dit net omdat hulle lus voel, of net om te se moenie ons aanvat nie. En dan kan die man in die straat nie ‘n geweer lisensie kry nie, maar hulle hardloop met ‘n paar rond.

Swerwer ·

Vuilgoed! Innige simpatie en meegevoel met sy familie. Dan word ons blankes skuld gegee vir rassisme.

Grassie ·

Aaag Maroela – ek sal maar weer probeer. Die toename in gewelddadige misdaad in ons land is m.i. weens toenemende wekloosheid. Die hopelose regering van die land wat die sakewêreld strem en hoë geboortesyfer is die belangrikste oorsaak daarvan en hulle het nie die vermoë om dit reg te stel nie – te min grysstof in die boonste verdieping. Hef aan lê nog voor.

Petrus Johannes ·

Om te se verkeerde tyd en verkeerde plek maak my rooi sien Hy was op die regte plek en tyd .In die hof het landdros ook gese ek en my vrou was op verkeerde ty en ple. Syt my werk toe geneem op die regte tyd en regte plek,die trok drywer was op verkeerde kant van pad in digte mis en my vrou dood en ek baie ernstig beseer

WILLEM ·

Wet en orde is nie deel van sekere dele van ons bevolking nie. Die “Regering” behoort hoort die doodstraf terug te bring – dalk sal dit help. Suid Afrika moet ook ‘n nuwe naam kry. Raai wat??

Astrain ·

Dit is in sulke situasies waar die doodstraf gladnie die krimineel se menseregte “aantas” nie. Dis nodig en belangrik dat die krimineel ontneem word van dit wat hy sy slagoffer ontneem het. SA tronke het GEEN rehabilitasie vermoë nie, dit weet ons almal. Daardie mens kom daar uit nog meer van ‘n monster en verwoes nog lewens!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.