Jong polisiebeampte doodgeskiet

Die polisie en die nooddienste vanoggend op die toneel. (Foto: Twitter)

Die polisie is op die spoor van moontlike verdagtes nadat ʼn polisiebeampte Dinsdag in die vroeë oggendure in Pinetown in Kwazulu-Natal doodgeskiet is.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê in ʼn verklaring die 25-jarige polisiebeampte is omstreeks 01:30 in Ridgeweg in New Germany doodgeskiet.

Volgens Naidoo is die jong polisiebeampte se liggaam met ʼn skietwond aan sy kop in die bestuurdersitplek van een van die staat se Quatum-bussies aangetref. Die polisiebeampte se dienspistool was steeds in die bussie.

Die omstandighede of motief agter die moord is in dié stadium onduidelik.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het dadelik ʼn soektog na die verdagtes gelas.

“Ons sal nie rus totdat ons diegene verantwoordelik vir die moord op ons jong kollega gevind het nie. Ek het gelas dat alle hulpbronne gemobiliseer word om diegene verantwoordelik te identifiseer en so gou as moontlik aan die pen te laat ry,” het Sitole gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae