Jong PTA-vrou help om aanvaller aan te keer

Een van Tanya de Lange se foto's van die twee verdagtes.

Een van Tanya de Lange se foto’s van die twee verdagtes.

Tanya de Lange (24) se vinnige optrede het Donderdag daartoe gelei dat ʼn aanvaller in Silverton, Pretoria aangekeer is kort ná ʼn aanval op ʼn bejaarde man.

Twee verdagtes het die slagoffer, Frank Nichols (72), omstreeks 12:30 in die oprit na sy huis oorval nadat hy R2 500 by ʼn kitsbank onttrek het. Een van die verdagtes het hom met ʼn baksteen oor die kop en op sy bene geslaan, en sy beursie en selfoon gesteel. Daar word vermoed dat die aanvallers hom van die bank af agtervolg het.

Frank Nichols lê bebloed in die oprit na sy huis.

Frank Nichols lê bebloed in die oprit na sy huis.

De Lange, wat saam met haar verloofde die erf langs Nichols sʼn gekoop het en bouwerk daar doen, het kort ná die aanval verby Nichols se huis gery en een van die bouers het haar van die aanval vertel.

Sy het dadelik na die Silverton-polisiestasie, wat ʼn blok daarvan af is, gery. “Polisiebeamptes het buite gestaan,” het De Lange Vrydag aan Maroela Media gesê. “Ek het vir hulle vertel wat gebeur het.”

Intussen het dieselfde bouer die verdagtes agtervolg en De Lange het by hom aangesluit. “Ek het die mans ongeveer 5 minute lank agtervolg en foto’s geneem totdat die polisie opgedaag het.”

Die twee verdagtes het van mekaar geskei. Een van die verdagtes het oor ʼn dagsorgsentrum se muur geklouter en op die dak probeer wegkruip. Kobus Koekemoer van die Silverton Buurtwag, het die man kort daarna op die dak in hegtenis geneem.

Die ander verdagte kon egter daarin slaag om met Nichols se beursie en selfoon te vlug. Die polisie is steeds op soek na hom. Koekemoer het Vrydag aan Maroela Media gesê te danke aan De Lange se foto’s weet hulle hoe hy lyk en hulle is op die uitkyk vir hom.

“Ek het die man, wat in hegtenis geneem is, al baie hier sien ronddrentel en hy is ʼn stoepslaper in die omgewing,” het Koekemoer gesê.

De Lange het gesê sy was nie bang toe sy die verdagtes agterna gesit het nie. “Ek het eers ná die tyd besef wat ek gedoen het, was gevaarlik,” het sy gesê.

Hanna Breedt, Nichols se skoonsuster, het Vrydag aan Maroela Media gesê hy het ernstige kopbeserings opgedoen. Hy is na die aanval na die Steve Biko-hospitaal geneem waar hy tot omstreeks 23:00 in die traumasaal behandeling ontvang het. “Hy is nog nie uit die traumasaal oorgeplaas nie,” het Breedt gesê. “Hy het baie seer gekry, en is deurmekaar en naar. Hy het vermoedelik bloeding op sy brein en het glo ook ʼn oordrom gebars. ʼn Breinskandering is gedoen en ons wag nog vir die uitslae,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SNEL ·

Ja, baie dapper vrou en sterkte aan die Oom, hoop hy herstel vinnig!!!!

charmaine ·

Give that lady a BELLS!!!

Dis reg ons as vrouens moenie wys ons is bang nie, hy moes eintlik n klip teen die kop gekry het!

Nicolene ·

Jammer dat weerlose oumense so verniel word. Net dankbaar een is darem vasgetrek te danke aan vinnige optrede

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.