Jong SA man sterf in fratsongeluk oorsee

Renco Booyse. Foto: Facebook

’n Jong Suid-Afrikaanse man is in ’n fratsongeluk op ’n plaas in Kansas in die VSA dood.

Renco Booyse (25), wat die afgelope drie jaar vir Hearn Farms in Stafford gewerk het, is Donderdag oorlede.

Manuel Fick, uitvoerende hoof van USAFARMLABOR, ’n maatskappy wat seisoenale werkers verskaf aan plase reg oor die VSA, het gesê ’n ondersoek na die voorval het vasgestel Booyse het op die sleepwa van ’n tienwiel Ford-vragmotor geklim of teen dit geleun en in die proses per ongeluk teen ’n skakelaar gestamp.

“Die skakelaar het die hidroulika van die wip-gedeelte van die vragmotor ontkoppel en dit het op hom geval. Dit is so ’n ongelukkige voorval en tragedie.” Fick het die inligting gedeel op ’n fondsinsamelingsblad op GoFundMe waar gepoog word om geld in te samel vir die gesin.

Die geld wat ingesamel word, is om Booyse se familie na die VSA te laat vlieg en vir begrafnisonkoste. Booyse sal veras word waarna sy oorskot terug na Suid-Afrika gebring sal word.

Renco en sy broer Alex. Foto: Facebook

Booyse, van Newcastle in KwaZulu-Natal, was ’n ywerige diepseevisserman. Hy laat sy ouers en broer, Alex, agter. Alex het intussen op Facebook hulde gebring aan sy broer. “Jy was deel van almal se lewe vir ʼn klein rukkie. Maar jy was deel van my hele lewe. Van die dag toe ek my oë oopgemaak het vir die eerste keer en al is jy nou nie meer hier nie sal jy nog steeds deel wees van my lewe tot ek my oë toemaak vir die laaste keer.”

Alex het gesê daar is nie woorde om te beskryf wat sy broer vir hom beteken het nie. “As mens elke sandkorrel op elke strand moes tel sou dit nog steeds nie dieselfde hoeveelheid wees as wat ek jou lief het nie. Ek hoop net jy het geweet dat ek ontsettend trots was op die man wie jy is. Ek is lief vir jou. Rus sag.”

Besoek die GoFundMe-blad vir Booyse om by te dra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Elphia ·

My bloed het nou in my are geys! Ek het op 17 Junie 2014 ‘n soortgelyke boodskap gekry – my kind wat in North Dakota op ‘n plaas werk is dood in ‘n ongeluk terwyl hulle besig was om silo’s skoon te maak. My hart gaan uit na die hele familie maar veral sy ouers en sy broer. Mag julle krag vind in hierdie tyd en omring wees met mense wat lief is vir julle.

Nicolene ·

Elphia, ek ken jou nie, maar ek onthou die nuus oor die voorval en ek dink so baie daaraan as ek by silos verbyry. My broer en my suster se seuns werk gereeld in Amerika op plase. Berigte soos die van jou seun en hierdie jongman laat (soos wat jy tereg sê) die bloed in my are ys. Baie sterkte vir alle ouers wat kinders ver het en elke dag bekommerd is. En vir die ouers wat kinders verloor het – ek het geen woorde nie!

Fransie ·

Sterkte aan die familie. Dit is bitter seer en iets wat jy nooit kan verwerk nie. My seun ook in 2003 in Kansas oorlede waar hy op n plaas gewerk het

Hannelie ·

Elphia ek onthou die voorval waar jou seun gesterf het. Toe ek hierdie berig lees toe dink ek aan julle. Dis snaaks hoe mens so iets onthou. Sterkte aan jou en Fransie en die familie wat hul seun nou verloor het. Veral omdat die kinders so ver is, is dit sleg vir ‘n ouer want jy wil so graag daar wees by jou kind. Ek dink aan julle.

Gesiggie ·

Elphia… so jammer om te verneem van jou hartseer ” om n kind te verloor moet een van die ergste ooit wees… aan die jong man se ouers en broer wat hom so lief gehad het.. als wat mooi is, mag daar weer vir jul n sonskyn dag kom, mag Jesus jul dra deur die tyd van hartseer.. RIP Renco…

Ma ·

So bitter jammer, sterkte aan al die geliefdes. Glo dis mensereg en is deel van arbeidsbeleid werêldwyd dat VEILIGHEIDS regulasies van werkers, tydens enige arbeid, prioriteit is om verlies van lewe en ongelukke uit te skakel.

Lientjie ·

Dit is baie tragies sterkte aan die familie. My dogter se verloofde werk ook in Amerika op ‘n plaas.

Thia ·

Ons as familie wil ook ons innige meegevoel teenoor julle familie uitspreek.Ons bid ons Hemelse Vader se vertroosende Hand oor julle.Net Hy kan jul herstel.Liefde

Theo wolfaardt ·

Ons is so ongeveer 2500 SA boer seuns en dogters in die VSA. Ons harte is baie seer. Die jaar het ons 5 SA manne verloor in die VSA. Dis hartseer en ek maak ekstra moeite die kant om die spanne bewus te maak van ongelukke en veilig werk.
Sterkte aan die familie van Rynco. Ons hier in die VSA is nog steeds stom geslaan.
Ons kort nogsteeds geld om sy familie by te staan. Dis baie duur om als gereel te kry so asb maak n donasie. Groete Liefde uit die VSA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.