Jong SA-ner haal ‘Forbes’-lys

Avthar Aniruth (Foto: Facebook)

’n Jong entrepreneur van Durban in KwaZulu-Natal het die Forbes Africa-tydskrif se lys van Top-30 jonger as 30 in die sakekategorie gehaal.

Avthar Aniruth (21) het maar drie jaar gelede die maatskappye Epic Motion Pictures en Audience Networks op die been gebring en vervaardig deesdae met sy nuutgeboude groenskermateljee in Umhlanga programme vir DStv, SABC 1, 2 en 3.

“Ek wou nog altyd ʼn entrepreneur wees. My obsessie om video’s te maak het my gedryf om van die ouderdom van 11 die nodige vaardighede aanlyn aan te leer. Video is die toekoms en ek het alles wat ek weet aanlyn geleer. Tydens my besoek aan die NAB-skou in Las Vegas het ek die geleenthede in groenskermtegnologie raakgesien en geweet dat dit die toekoms van video-produksie is,” vertel Aniruth.

“Met meer as die helfte van Suid-Afrika se jeug wat werkloos is, moet jong mense innoverend wees om suksesvolle entrepreneurs te kan word,” hou hy vol.

“Duisende gegradueerdes is moedeloos om tuis te bly ten spyte daarvan dat hulle kwalifikasies het. Werksukses hang af van werkservaring en gegradueerdes kry nie die geleentheid om ondervinding op te doen nie.”

Aniruth glo dat entrepreneurskap die oplossing vir baie van Afrika se werkloosheidskwessies is.

Met verskeie ysters in die vuur het hy ook ʼn nuwe en innoverende model genaamd “Business Blueprint” geskep – ʼn model wat in wese ʼn gedetailleerde en vereenvoudigde gids is van alles wat benodig word om ʼn sakeonderneming, groot of klein, van die grond af te kry. Dié model is ook goedkoop en vir almal op die internet toeganklik.

Hy sê hoewel baie mense oor goeie sake-idees beskik, hulle bloot nie weet waar om te begin nie.

Die Forbes Africa-lys van 30 top-presteerders jonger as 30 is verlede Vrydag in die Houghton-hotel in Johannesburg aangekondig.

Dit is die vyfde jaarlikse Forbes-lys van dié aard wat in Julie vanjaar in ʼn spesiale uitgawe van Forbes Africa verskyn. Dit sluit 120 jong mense in Afrika in wat positiewe verandering en innovering op dié vasteland te weeg bring. Dit is ook die eerste keer dat 30 finaliste in elk van die vier kategorieë wat sake, tegnologie, reklame en sport insluit, aangewys word.

Volgens Renuka Methil, besturende redakteur van Forbes Africa, het dié lys die afgelope vyf jaar ʼn hoogs gerespekteerde en gesogte aanduiding van leiers van die toekoms geword.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jaco ·

is hy van die regte ras? darem nie n verteenwoordiger van wit monopoliekapitaal nie, maar ook nie “black enough” in terme van regstellende aksie vereistes nie…

Cherokee ·

jaco, wat jy eintlik probeer sê verstaan ek nie maar gee erkenning waar dit verdien word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.