Jong SA onnie verdwyn in Viëtnam

John Bothma (Foto: Facebook)

Die familie van John Bothma (22) is rasend van bekommernis nadat hy soos ʼn groot speld in Viëtnam verdwyn het.

Daar was aanvanklik geen rede tot kommer toe Bothma verlede November Viëtnam toe is om soos menige Suid-Afrikaner in dié land te gaan skool gee nie, vertel Santjie Dixon, Bothma se tannie, aan Maroela Media.

“Hy was mal oor die land. Die kinders was gek oor hom en hy het homself daar uitgeleef,” sê sy.

Bothma het by Dixon in Weltevreden Park in Johannesburg gewoon voordat hy Viëtnam toe is en was volgens haar nog nooit so gelukkig soos die afgelope tyd oorsee nie.

Dié twee het oor die afgelope ses maande byna daagliks oor en weer boodskappe gestuur en oproepe gemaak. Dit is egter nadat Bothma sowat twee weke gelede Ho Chi Minh-stad toe is om tydens die Viëtnamese somervakansie by ʼn Suid-Afrikaanse vriend te gaan kuier, dat Dixon nie meer oproepe van haar broerskind ontvang het nie.

Dixon het op 18 Mei omstreeks 13:00 vir die laaste keer met Bothma gepraat. Sy selfoon is sedertdien afgeskakel.

Sy verduidelik dat Bothma in dié week saam met ʼn vriend, Jacques Koekemoer, gaan koffie drink het in die stad. Hy het nie gedurende hierdie tyd by Koekemoer gewoon nie, maar in ʼn hostel. “Ek het nog die middag van die 18de met hom gepraat en hy het nie lekker geklink nie. Hy het gesê hy hou nie so baie van Ho Chi Minh-stad nie, maar dat Koekemoer se dogtertjie die volgende dag verjaar. Hy sou die partytjie bywoon en wou daarna graag Kambodja toe gaan met die bus voordat hy op 1 Junie vir ʼn rukkie huis toe sou kom, maar het nie genoeg geld daarvoor gehad nie.”

Dixon verduidelik dat sy daarop aangedring het om geld in sy rekening in te betaal sodat hy Kambodja kon besoek. “Ek het vir hom gesê hy is so naby daaraan, kom ek gee vir jou die geld,” vertel sy. Dit is die laaste wat sy van Bothma gehoor het.

John Bothma en sy vriendin, Jody Kurash. (Foto: Facebook)

Dixon het die volgende oggend omstreeks 01:00 oproepe van Bothma ontvang, maar het ongelukkig die oproepe gemis. “Dit was vir my vreemd, want dit het nog nooit gebeur dat hy so laat bel nie,” verduidelik sy nou.

Hoewel Dixon toe al onraad vermoed het, het sy eers gedink dat Bothma moontlik wel oor die grens na Kambodja gereis het en dat dit bloot die rede was dat sy hom nie in die hande kon kry nie. Drie dae later het sy egter steeds nie van hom gehoor nie. Bothma het toe ook nooit die verjaardagpartytjie bygewoon nie, sou sy later by Koekemoer hoor.

Dit is toe dat Dixon haar broerskind as vermis aanmeld en die Suid-Afrikaanse ambassade in Hanoi genader het. Later is sy na die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) wat haar sedertdien bystaan en in kontak is met die Viëtnamese owerhede.

Wat Dixon wel in dié stadium weet, is dat Dirco nog geen slegte nuus rakende Bothma ontvang het nie. “Hulle het my verseker dat hulle nog geen nuus ontvang het soos dat hy in die tronk is of in ’n hospitaal opgeneem is nie.

“Dit is verskriklik moeilik. Ek was aanvanklik nie seker of hy regtig weg was nie. Ek is nou nog nie seker of hy regtig vermis is nie,” sê sy.

Bothma het tydens sy verblyf in Viëtnam ʼn vriendin, Jody Kurash, ontmoet en Kurash het ook nog nie weer van hom gehoor nie. “Sy het op 17 Mei laas van hom gehoor en is ook verskriklik bekommerd.”

Kurash het sedertdien ʼn veldtog op sosiale media geloods om inligting rakende Bothma se verdwyning te verkry.

Om sake te vererger, het Bothma se werkvisum ook einde verlede maand verval.

Die enigste hoop in dié stadium is dat Bothma sy betaalde vliegkaartjie gebruik en op 1 Junie in Suid-Afrika sal land soos beplan.

John Bothma (Foto: Facebook)

Dixon verduidelik dat Bothma slegs Viëtnam toe kon gaan met die voorwaarde dat hy ʼn retoer-kaartjie bespreek. Hy sou op 1 Junie vir ʼn ruk terug kom aangesien dit skoolvakansie in Viëtnam is en hy nog paar dinge in Suid-Afrika moes afhandel.

Dixon en van sy ander familielede sal dus Saterdag angstig by die lughawe op Bothma wag.

Op die vraag oor hoe sy sal reageer as Bothma nooit regtig vermis was nie, antwoord sy: “Ek gaan hom ʼn helse pak slae gee as hy daar aankom,” terg sy.

In dié stadium probeer Dixon, Coleen Bothma, Bothma se ma, en Leandri Pereira, sy suster, positief bly hoewel hulle baie bekommerd is.

“As daar hoop is, is daar lewe. Ons kan nie opgee as ons nog nie ’n antwoord gekry het nie,” sê Dixon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Anja ·

Is dit nie die Suid-Afrikaanse man wat in Viëtnam in die ongeluk was nie, na wie se familie hulle soek nie?

jean ·

Ons bid dat hy veilig sal tuiskom.!!……..Hoe rasend van bekommernis moet hulle wees….

Elzette ·

Christine Brophy het n post op haar facebook ppr hom hulle soek na sy familie

Lucy ·

Ek is nou nogal nuuskurig om te weet of die man wel more op daardie lughawe is of nie… Ai dit kan nie maklik wees vir die familie nie.

Nico Strydom ·

Dagsê Bolla
Jammer vir die oorsig, die berig is reeds reggestel.
Vriendelike groete
Maroela Media

CHELA ·

Ek hoop hul laat weet indien hy wel opdaag

ek hoop regtig waar so

Expat ·

As hy deur doeane na Kambodja met ‘n vervalde werksvisum gaan, is die kans ongelukkig goed dat hy probleme opgetel het. Hoop van harte DIRCO kan uitvind waar hy is.

Mari Booysen ·

Gaan kyk op my Facebook blad. Ek is amper 100% seker dit is Mnr Botma wat ernstig beseer is bestemming.

Aita ·

Sal net like mense moet bietji na di regte ma toe gaan en by hoor hoe sy voel oor alles en ni heeltyd die verkeerde een anhang ni , gan hoor ha kant ook wat net reg sal wees……

Stephanie ·

Ek het informasie op facebook gesien oor die jong man. Gaan kyk asb op Christine Brophy se blad.

Carol ·

Hi julle. Dit is dieselfde man wat skynbaar n baie ernstige ongeluk ondergaan het.
Christine Brophy het n foto op fb geplaas en gevra dat as iemand die man ken moet hulle asb sy familie laatweet

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.