Jong SA sjef leef droom in Frankryk

Siyabulela Booi (Foto: ANA)

Deur Megan Gittins

ʼn Jong sjef van Gugulethu in Kaapstad is vandag op pad Frankryk toe om sy passie vir fyngebak uit te leef en meer oor dié kookkuns te leer.

“Siyabulela Booi het vanjaar ’n beurs ontvang om vir ses weke in Frankryk te studeer. Vennote soos die Vineyard Hotel koester die jeug van Suid-Afrika, glo in hulle en laat hulle toe om groot te droom. Danksy hierdie vennootskap sal Siya Frankryk eerstehands kan ervaar, terwyl hy die Le Calabash Chefs Training Academy bywoon,” het die Amy Foundation se Jeugvaardigheidsontwikkelingsprogram (YSD) in ʼn verklaring gesê.

In 2016 het die 19-jarige Booi dit geniet om te bak en brou, maar nie geweet wat dit vereis om ʼn professionele sjef te wees nie. Hy het egter besluit om uit te vind en het toe vir die hospitaliteitsprogram by YSD ingeskryf. Hy is tans ʼn afgestudeerde van hierdie program.

Nadat Booi in 2016 ʼn maand lange internskap by die Twaalf Apostels Hotel en Spa voltooi het, het hy sy ware passie vir kookkuns ontdek.

Later dieselfde jaar het Booi vir ʼn internskap van ses maande by die Vineyard Hotel en Spa in Newlands aangesluit. Nadat hy sy vaardighede behoorlik ten toon gestel het, het die hotel besluit om 50% van sy studiegeld te borg sodat hy ʼn driejaar‑diploma by die South African Chefs Academy (SACA) kan verwerf.

“Hy het ’n Vlak Een-sertifikaat van die Akademie ontvang en in April sy Vlak Twee‑diploma ontvang,” het YSD gesê. “Hy begin nou sy derde studiejaar waar hy in fyngebak spesialiseer.”

Hoewel Booi steeds studeer, werk hy ook voltyds vir die Vineyard Hotel as ʼn leerlingsjef. Hy geniet dit ook om op sy afdae as ʼn junior fasiliteerder by die Amy Foundation se Jeugvaardigheidsontwikkelingsprogram betrokke te wees.

“Siyabulela is ’n inspirasie vir ons nuwe studente en ’n wonderlike mentor,” sê Tracey Younghusband, die hospitaliteitsprogram se fasiliteerder.

Die Amy Foundation se program vir jong volwassenes is ontwerp om ’n veilige omgewing te bied vir diegene wat in uitgedagende en kwesbare gemeenskappe grootgeword het. “Hulle word ontwikkel tot emosioneel goedafgeronde kinders en jeug wat positiewe lewenskeuses maak en bydraende lede van die samelewing word.”

Wanneer Booi terugkeer Suid-Afrika toe sal hy weer in die Vineyard Hotel en Spa se kombuis werk en sy studies by die SACA voortsit.

“As gevolg van die geleenthede wat die Amy Foundation aan my gegee het, kan ek nou my toekoms sien en dit is opwindend,” sê Booi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.