Jong SA’ner vermis ná djihadiste Palma inval

Die 21-jarige Francois van Niekerk wat in Mosambiek vermis word. (Foto: Facebook/ Bringfrancoishome

ʼn Jong man van Suid-Afrika word vermis in Mosambiek nadat ekstremiste Woensdag die dorp Palma in die noorde van Mosambiek binnegeval het.

Maroela Media het vroeër berig sowat 200 buitelanders, onder wie Suid-Afrikaners, kruip in ʼn hotel in dié dorp weg nadat djihadiste Palma Woensdag binnegeval het. Een van die Suid-Afrikaners is dood toe hy saam met vyf ander buitelanders probeer vlug het. ʼn Helikopter probeer tans die groep in die hotel bereik, terwyl djihadiste nader aan die Amarula Palma-hotel beweeg.

Intussen is die Facebook-groep Bringfrancoishome gestig in ʼn poging om die 21-jarige Francois van Niekerk uit Mosambiek terug te bring. Hy werk vir sy pa se sakeonderneming in Mosambiek. “Op die 24ste Maart was daar ʼn terroriste-aanval in Mosambiek en ons het nog nie sedertdien van hom gehoor nie. Bid asseblief saam met ons dat hy veilig terugkom,” lees ʼn inskrywing deur die familie op die Facebookblad.

ʼn Plasing op die blad om 11:00 Saterdag lui: “Helikopters is op pad na Palma. Bid asseblief dat hy (Francois) homself sigbaar sal maak vir die helikopters wanneer hulle in die area kom. Daar is geen manier waarop ons hom kan kontak of ʼn boodskap by hom kan uitkry nie. Dis als in God se hande. Bid asseblief dat hy sal weet wat om te doen.”

Een van die werkers vir ʼn aardgasaanleg in die omgewing van Palma het aan AFP gesê ʼn helikopter het Vrydagaand probeer om van die mense in die hotel te bereik, maar was onsuksesvol. Die meeste van die buitelanders wat hier gevange is, is werksaam by dié perseel. ʼn Plasing om 13:27 lui dat die helikopters wel geland het en in die gebied gesoek het waar Francois moes wees, maar niks gekry nie.

Maroela Media het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking gevra vir inligting oor pogings deur die regering om gestrande Suid-Afrikaners terug te kry en wag nog op terugvoer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
JM

Hoop net ons regering skrik betyds wakker om ons mense uit Mosambiek te red. As dit teen dieselfde tempo gaan as ons Covid-19 inentings, is ek bevrees …

JohanR

My gooiste is daat niemand wat ISIS in Mozambique kan stop nie? Net ‘n hop, skip en jump, dan is hulle in Suid Afrika, of moet daar eers ‘n Suid Afrikaner se kop om tv af gekap word voordat iemand optree?

Casper

Ek mag dalk pessimisties wees maar ek glo hy is ontvoer en dit is gedoen om S Auit te lok on toe te tree tot die konflik in Mozambique.Die moslems is ons nie goedgesind nie.

Jaco

Klomp ander bronne rapporteer baie slegte nuus. Mosambiekse weermag het gevlug en burgelikkes op hulle eie gelos. Die Hotel is oorgeneem en daar is baie sterftes van burgelikkes. Daar was ook n konvooi burgelikkes wat in voertuie probeer vlug het en in n hinderlaag gery het. Daar is defnitief Suid Afrikaners onder die wat gesterf het

FM

‘n Paar warm klappe gaan nie meer betyds wees nie.

TYD VIR WAKKER SKRIK IS VERBY!!!

Die arme jong man het nie ondersteuning van die SA regering nie.

Ek bid dat ons Here ‘n wonderwerk redding vir jong Fransois bewerk. Dit vra en in die Naam van Jesus Christus. Amen