Jong seun (8) in waakeenheid ná spoegkobra hom pik

Johan Emmenes (Foto: Facebook)

ʼn Agtjarige seun van Mokopane in Limpopo is in die waakeenheid van ʼn Gautengse hospitaal opgeneem nadat ʼn Mosambiekse spoegkobra hom by sy ouerhuis in Mokopane in Limpopo gepik het.

Hestia Emmenes het Donderdag aan Maroela Media vertel haar seun, Johan, het Dinsdag ná rugby-oefening by die skool besluit om vroeg op sy bed te gaan lê. Sy vertel sy en haar man, Marthinus, het later by sy kamer ingeloer om te kyk of hy slaap, maar hy was rustig en was in daardie stadium nog nie deur die slang gepik nie.

Volgens haar het die egpaar omstreeks 22:00 dieselfde aand wakker geskrik van ʼn harde slag wat geklink het soos ʼn kind wat van ʼn bed af val. Sy sê sy wou nog ondersoek instel, toe is Johan reeds in hul slaapkamer.

“Hy het ons net so gekyk en gesê: ‘Ek is deur ʼn slang gepik.’ Ons het die lig aangesit en die slangbyt op sy voorarm gesien. Toe my man gaan ondersoek instel, het die spoegkobra regop gestaan op sy bed en hy het hom doodgeskiet,” sê sy.

Die egpaar het met Johan na die noodgevalle-afdeling in Mokopane gejaag en was omstreeks 22:30 by die hospitaal.

“Ons het aanvanklik eers gesukkel om ʼn bed en ʼn dokter te kry, maar is toe later gehelp. In die tussentyd het die dokters ʼn teengif toegedien om die verspreiding te probeer keer. Ons het ook met slangkenners in kontak getree wat ons en Johan regtig in retrospeksie deur die hele proses gedra het. Hulle het vir ons gesê presies waarvoor ons moet uitkyk en wat ons nié moet doen nie,” sê sy.

Johan is Donderdag na Centurion geskuif omdat die private hospitaal in Midstream beter behandeling vir dié wond kan bied. Sy sê Johan is intussen van sy skouer tot teen sy pols én op sy hand oopgesny in ʼn poging om die res van die gif te dreineer. Sy sê dit is veral dié dele wat erg opgeswel is.

“Die dokters het vir ons gesê ons kan baie dankbaar wees dat die spiere nie ook aangetas is nie. Dit is nogal vreemd, want dit was ʼn volwasse slang wat hom gepik het. Johan sal nou in die waakeenheid met die oop wonde bly tot ons seker is dat die gif heeltemal uitgeskraap is en dat ons ʼn veloorplanting kan doen. Hy kry baie pynmedikasie terwyl ons vir dié goedkeuring wag. Intussen het ek en my man reeds albei aangebied om die skenkers vir die vel te wees.”

ʼn Pediater en ʼn plastiese chirurg werk nou saam met die familie om Johan te behandel. Emmenes sê die herstelproses sal na verwagting ʼn minimumtydperk van ses maande neem.

“Johan het baie seer en hy is verskriklik ongemaklik. Die briefies en ondersteuning van sy skool maak dit beter, maar dis nie vir hom lekker nie. Ons is ook verpletter – dit was ʼn saak van lewe en dood. Nou glo ons hy is buite gevaar, maar daar is steeds die moontlikheid dat hy sy arm kan verloor. Ons bid dus net en bly hoop en glo. Daar is ook dinge waarvoor ons moet dankbaar wees; die dokters sê al sy organe kon aangetas gewees het en in dié stadium kan hulle net sien dat die niere bietjie skade gekry het.”

Emmenes het sosialemediagebruikers vir hulle boodskappe van gebede en bemoediging bedank. Johan word Donderdagaand weer geopereer.

Die Emmenes-gesin het gevra dat weldoeners in dié tyd nié ophou bid vir hulle gesin en Johan se herstel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Emsa ·

Vader sal U die seuntjie genees ons vra in Jesus Naam. Wees ook met sy ouers.

Marinda ·

Sterkte vir julle gesin in hierdie moeilike tyd. Ons bid vir julle.
Baie bly jou man het die slang dood geskiet. Te veel spoegkobra byte in die laaste tyd.

Marina Klocke ·

Baie, baie sterkte vir julle. Ek bid dat jul kosbare seuntjie volkome sal herstel.

Carl ·

Baie sterkte aan die familie. Dit is interressant hoe baie kinders die afgelope tyd deur die kobras (Mfezi) gepik word. Ek is self op kort afstand al gepoeg . Vir die wat weet, dit is “arc-eyes” maal x5. Verpeslike slang wat `n huis opsoek net voor die winter aanbreek, op soek na `n skuil plek.

ontevrede leser ·

dis so hartseer dat ‘n kind (enige mens) deur ‘n slang, veral spoegkobra gepik word, daar is soveel newe effekte wat kan volg. sterkte aan johan, bid vir mooi herstel, ondersteuning ook aan ouers

Cyril Blackburn ·

Dagsê Tersia
Dankie vir jou kommentaar! Ons vra om verskoning vir die oorsig – die berig is reeds gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

Lou ·

Elke keer word die kinders in hul bed gepik. Hoe kom die slang daar? Het hulle almal toevallig lae beddens of wat?

Vicki ·

Slange kan selfs deur n hoe venster n huis binnekom, moeilik, maar mense in veral beboste gebiede word aangeraai om hul vensters en deure so ver moontlik toe te hou, en hou maar n kat of twee ook aan in die huis. Het ook al baie van die slange tee gekom in ons omgewing en rondtom ons huis.

Martinet ·

Hi Lou,
Nee, as jy in Limpopo bly of daar grootgeword het sal jy verstaan slange gee nie regtig om vir lae of hoë beddens nie. Veral nie die een nie. Hulle klim ORALS in… jy sal hulle tot bo-op jou gordyne vind. Dis ‘n vieslike verpesting van ‘n slang die spoegkobra. Hulle glip ook so vinnig en ongesiens in dis nie eers snaaks nie! Almal van ons wat daar grootgemaak is WEET jy hou ‘n deur toe! Al ons deur en vensters het gaas aan…mense dink dis vir muskiete?! Ha! Dis om slange uit te hou… :)

fransa de beer ·

Die beste wat Johan nou kan hê is ouers soos jule…

Martinet ·

Boodskap van Johan se pa:

GROOT IS ONS GOD… WAT LEWE GEE EN NEEM… WAT WONDERWERKE LAAT GEBEUR!!!
Ons hemelse Vader het ons seun Johan Emmenes kom genees!!!
Na ons met ons eie oë gesien het… hoe dood die weefsel in sy armpie was… het die Dr vanaand vir ons kom sê daar is GEEN dooie weefsel nie…
Al wat hy verwyder het… was n stukkie waar die slang hom gebyt het, wat verrot was… n blokkie!!! Verder is ons kind gesond!!!!
Hulle gaan die armpie oop hou om elke 2de dag in teater skoon te maak om enige vorm v kwaad te verhoed… en dan wil hy volgende week toe werk… GEEN VEL OORPLANTING NIE!!!!
Ons loof en prys God!!! Alles aan Hom te danke!!! Hoe Hy deur elke man, vrou, kinders, spesialiste, dokters, slangvangers, professers, geleerdes, onderwysers, vreemdelinge, vriende, familie, verpleegsters, kerke, gebedsgroepe, whatsup groepe, sosiale media, ambulans manne, verkeer en mediese fonds IN EN DEUR HULLE GEWERK HET!!! Elk een het n deel in vanaand se dankbaarheid, se vreugde, se trane, se lag, se WONDERWERK!!! Dankie dankie dankie!!! Hou aan bid asb. Moet nooit ophou nie… bid vir jouself en vir jou geliefdes… Johan Emmenes is n lewende getuienis van God se handewerke en dat gebed onsettende groot krag he… gister, vandag, ewig!!!! AMEN!!!
Ons lief elke en iedere van julle daar buite!!! Baie baie liefde die Emmenes gesin
Marthinus Emmenes

Jaco ·

Groot is die Naam van die Here (Ek is) omdat Sy beloftes vas staan dat Hy die bedoelings van jou hart beoordeel en as jy daardeur geregverdig geag word deur Hom, jou gelowige gebed verhoor sal word. Alle eer aan Jesus wat die Koning van julle lewens is en alles doen tot eer van Sy grote Naam!

Denise ·

By ons is dit pofadders wat so lief is om in die bed te klim en ja slange seil teen mure ook op ons het baie verskillende slange hier nagadders, bergadders ,groenboomslang . kingkobra en nog vele meer bly in die bos so wat kan jy verwag hou net die werf skoon en niks sakke , borde moet plat le nie hulle woel vir hulle onder in en daar le hulle het al drie geel slange so gekry en toe besef die erf moet ekstra skoon bly ek kyk in die bome ook en as die voeltjies baie raas dan weet ek ! Sterkte aan die familie

kas ·

Gebed is sterker as atibiotika.Johan sal genees word.Geen slang is welkom in my huis nie.My vrou en dogter is deur “skadelose” spinnekoppe gebyt en moes in die hospitaal opgeneem word.Ek vra nie of hy giftig is of nie.Sterkte aan Johan met sy herstelproses en sy familie.

Liedie Odendaal ·

Isaiah 53:5 By His wounds we are healed. God is good all the time and all the time God is good. Ons bid saam julle vir volkome genesing.

Miekie ·

Ongelukkig weet ek nie veel van slange maar lyk my dit is beter om meer oor die reptiele op te lees. Dit is nou jare terug wat ons vriende in Nietverdiend se dogtertjie deur ‘n slang gepik is en hulle het sement-beddens gehad juis omdat hulle gedink het dit sal die slang dalk uit die bed hou maar dit blyk toe dat die slang koelte soek. As enige iemand my kan help asb ek weet adders se gif tas die weefsels aan en die mambas die senuwees of so het ek gelees, Watter tipe gif het die spoegkobras. Weet wel as die slang jou in die oe spoeg en jy kry nie gou genoeg hulp kan dit blindheid veroorsaak. Dankie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.