Jong seun (8) weer tuis ná spoegkobra-pik

Johan Emmenes is weer tuis (Foto: Verskaf)

Die ouers van die agtjarige Johan Emmenes van Limpopo sê mediese personeel van Gauteng meen dit is ʼn “wonderwerk” dat die laerskoolleerder só vinnig herstel het en minder as een maand ná hy deur ʼn spoegkobra gepik is byna heeltemal gesond is.

Die agtjarige is volgens sy ma, Hestia, reeds Sondag uit die Mediclinic Midstream-hospitaal in Centurion ontslaan.

Hestia vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media die Emmenes-gesin bly op hul knieë selfs nadat Johan herstel het – dít om dankie te sê vir die “wonderwerk” wat in die gesin se lewe gebeur het.

“Ons is baie verlig en ewe dankbaar dat hy weer tuis is,” vertel sy. “Ons kan dit byna nie glo nie. Al die dokters het aanvanklik vir ons gesê dat ʼn lang herstelpad hom in die gesig staar. Nou is hy reeds tuis, hy is weer sy ou self, hy skiet reeds teiken en is al klaar opgewonde om weer te begin sport speel.”

Hestia het vroeër vertel van Johan se ongelooflike genesing wat niks minder as ʼn “wonderwerk” is nie. Sy sê die dokters by die Mediclinic Midstream-hospitaal het gesê Johan hou ʼn spesiale “rekord” vir die minste vel wat nóg by ʼn persoon weggesny is nadat ʼn Mosambiekse spoegkobra hom of haar gepik het.

Sy sê dokters moes egter Saterdag ʼn veloorplanting doen omdat die vel wat oopgesny is sodat die wonde skoongemaak kan word, nie genoeg kan span om toegewerk te word nie. Volgens haar meen dokters dié vel kan egter later weer verwyder word wanneer sy vel volkome herstel het en elasties genoeg is.

“Ons was vanoggend weer by ons huisdokter omdat die pleisters wat op sy been geplak is waar die dokters ʼn stukkie vel verwyder het, na onder begin sak het. Die dokter het ons so gekyk en gesê: Hy het gewéét Johan gaan lank in die hospitaal moet wees en dat dié pad nie maklik gaan wees nie. Hy het uit sy eie mond gesê wat hy by Johan sien, is ʼn totale wonderwerk.”

Johan Emmenes in die hospitaal (Foto: Facebook)

Hestia sê Johan het intussen weer ʼn draai by die skool gemaak, en sy gemoed is “baie positief”. “Hy is weer die Johan wat ons al vir agt jaar lank ken,” vertel sy. “Hy was baie dankbaar dat die dokters gesê het hy sal dalk binne ʼn maand weer kan rugby speel en kan swem. As ek so na my seun kyk, lyk dit amper asof niks met hom verkeerd was nie. Hy het die hele voorval só goed hanteer en verwerk, maar ons weet dit is nie as gevolg van ons nie. Dis hoekom ons op ons knieë bly, want ons wéét hoeveel genade ons deur die hele proses ontvang het.”

Sy sê die gesin is ook “oorweldig” met die stories van hoop en boodskappe van bemoediging wat hulle van vreemdelinge ontvang. “Deur die hele proses was dit vir ons wonderlik om ook ander mense se getuienisse te hoor. Dit is wonderlik om te weet hoe God in Johan én in ander mense se lewens gewerk het.”

Johan sal weer volgende week die hospitaal besoek sodat dokters kan kyk of sy arm na wense herstel.

Maroela Media het vroeër berig die agtjarige is op 13 Maart deur ʼn spoegkobra gepik terwyl hy in sy bed by sy ouerhuis in Mokopane in Limpopo geslaap het. Sy ouers het eers met hom na die noodgevalle-afdeling in Mokopane gejaag waar teengif toegedien is voordat hy later na Mediclinic Midstream-hospitaal oorgeplaas is. Daar het aanvanklik vrese bestaan dat hy sy arm kon verloor, maar sy ouers het later sy herstel aan ʼn “wonderwerk van God” toegeskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bee ·

Wat n pragtige tuin; maar o hel ek dink daars baaaaie slange daar!! so bly die brawe klein knaap is op die been! sterkte jongman.

Von ·

Here dankie vir die wonderwerk ons loof en prys U grote Naam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.