Jong seun red vrou uit vloedwater: ‘Ek is hom my lewe verskuldig’

Cameron White. Foto: Facebook

Cameron White. Foto: Facebook

ʼn Durbanse vrou het Woensdag ʼn jong gr. 11-seun as haar “beskermengel” beskryf, nadat hy haar Maandagaand uit diep vloedwater gered het waar sy in haar sinkende motor vasgekeer was.

Swaar reënval het die afgelope paar dae in KwaZulu-Natal chaos op Durbanse paaie veroorsaak, met talle paaie wat deur vloede en modderstortings onbegaanbaar gemaak is. Shakila Singh het aan Maroela Media vertel sy wou Maandagaand met haar motor onderdeur die M4 in La Lucia ry toe vloedwater haar motor weggespoel het.

“Daar was net ʼn bietjie water oor die pad en ek het gedink ek sou maklik daardeur kon ry. Terwyl ek gery het, het die water skielik van alle kante af gedruis gekom. Dit was so vinnig dat ek dink dit was ʼn kitsvloed. Die een oomblik was daar niks en die volgende oomblik het my motor in die vloedwater rond gedobber,” het Singh gesê.

Shakila Singh. Foto: Facebook

Shakila Singh. Foto: Facebook

Sy vertel sy het nie meer beheer oor die voertuig gehad toe dit begin dryf het nie en kon net hulpeloos toekyk hoe die water haar motor teen die brug vasslaan. “Ek het probeer om die deure oop te maak, maar die druk van die water teen die motor het dit onmoontlik gemaak. Dit het al begin donker word en ek kon sien daar is mense wat op die kant staan, maar ek dink hulle was ook te bang om in te spring en te probeer help,” het sy gesê.

“Ek het my venster ʼn entjie afgedraai en my hand uitgedruk en gewaai, net sodat mense kan sien daar is iemand in die motor. Ek het gedink ek gaan dood.”

Die volgende oomblik het ʼn jong tienerseun deur die water na die motor geswem en die passasierdeur oopgetrek. Singh vertel die water het in die motor ingestroom, maar die seun het vir haar gesê om kalm te bly en uit die motor te kom. “Ek het vir hom gesê ek kan dit nie doen nie, maar hy het net gesê ek kan. Toe ek weer sien het hy my uit die motor getrek en met my tot by die kant geswem, waar mense my uitgehelp het.”

Singh vertel die seun se pa het op die kant gestaan en vir haar gesê die seun is ʼn lewensredder en dus ʼn sterk swemmer, wat noodsituasies kan hanteer. “Ek wou nog vir hom dankie sê, maar toe ek weer sien het hulle verdwyn,” het Singh gesê.

Shakila Singh se motor steek net-net bokant die water uit. Foto: Facebook

Shakila Singh se motor steek net-net bokant die water uit. Foto: Facebook

Nadat Singh se suster in ʼn inskrywing op sosiale media van Singh se beproewing vertel het, het dit uiteindelik aan die lig gekom haar “beskermengel” is Cameron White. Die plaaslike radiostasie, East Coast Radio, het die twee sedertdien bymekaar gebring en Singh kon White Woensdagoggend op die lug bedank omdat hy haar lewe gered het.

White het intussen aan Maroela Media gesê hy het bloot op instink reageer. “Ek het nie vir ʼn sekonde daaroor gedink nie, ek het dit net gedoen.”

Singh en White sal Donderdag ontmoet sodat sy persoonlik vir hom kan dankie sê. “Ek is hom my lewe verskuldig,” het Singh gesê. “Net gister het ons gehoor van ʼn vrou wie se liggaam gevind is nadat haar motor deur die vloedwater meegesleur is. Dit kon met my gebeur het as Cameron nie daar was nie. Hy is ʼn ware held.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Paul ·

En die “moral of the story” is – moet nooit deur enige bewegende water ry as jy nie ‘n idee het hoe diep dit is nie. ‘n Boer op sy plaas weet hoe diep ‘n drif is, en watter klippe waar onder die water lê, maar as ‘n pad oorstroom, lyk dit dalk net soos ‘n “bietjie water”, maar daai “bietjie water” lig jou kar baie maklik op en dan is dit “tickets”.
Moet dit eenvoudig nooit doen nie.

elizabeth ·

Moral of the story…daar is nog heros onder ons wat bevoeg is om noodsituasies vinnig op te som en op te tree….wel gedaan Cameron…die lewensredders waag baie keer hul lewe ook maar in rowwe see om mense te red so ek glo hyt geweet wat om te doen.
Natuurlik is jy nie veronderstel om n kans te waag nie maar soos sy se n dun stroompie het ontaard…selfde met n rivier wat afkom sonder waarskuwing.
Trots op jou jobgman!

Paul ·

Daardie storie oor die “dun stroompie” is presies waar sulke dinge gebeur, Elizabeth. Dis presies wat ek bedoel. Niemand ry ooit deur ‘n rasende stormwater nie, dis altyd net ‘n “stroompie” en dan word hulle “skielik” weggespoel.
My punt is juis – moet NOOIT eers deur ‘n “dun stroompie” ry as dit water is wat loop op ‘n plek waar dit nie moet loop nie. Jy dink dis ‘n dun stroompie, maar eintlik is dit dubbeld so diep soos jy dink en dan spoel jou kar weg.

Liewe heksie ·

Stunning verhaal in ons siek land give this man a Bell’s

Mielie ·

Dis hoekom ek ook glo daar is aardse engele. Dis n wonderlike storie.

susan@ ·

Wonderlik!!! Baie bly vir haar? en vir haar redder……..jy is n ster!! So n mooi en positiewe gebeurtenis.

Oosie ·

Ek stem saam! Net hartseer dat plunderaars kort na die voorval goedere uit die motor begin steel het…. (Soos by baie ander ongelukstonele…)

Karma ·

Dapper jong man! Dankie vir jou onbaatsugtigheid! Ek is bly me. Singh het ongedeerd uitgekom ….. maar ai, ek sou darem baie hartseer gewees het (lees: krokodiltrane gehuil het) as my kar só na die insident gelyk het ….. :-(((

Katrien ·

Ek salueer hierdie dapper jong man.God stuur Sy engele in baie gedaantes.

susan@ ·

Wonderlik!!!! So bly vir haar ? vir haar redder……Jy is n ster.!!! Positief en wonderlike einde ?

Alien ·

Vandag was weer ‘n beproewing, kan nie glo mense kan so lelik teenoor ander wees nie … toe lees ek hierdie berig.
As ons almal maar net so onbaatsugtig teenoor ons medemens kon optree. As die weldoeners maar net meer was as die boosdoeners. Ek wens daar was meer van hierdie tipe berigte en die negatiewe berigte ‘n uitsondering …

koos1 ·

Cameron White, jy is ‘n voorbeeld vir alle jong mense, ek dank jou innig, want met wat jy die waagmoed gehad het om op te tree, het jy ook rasse mure afgebreek! En nog beter, jy het gedoen wat jy moes en weg gegaan, ek skat jy voel maar net dat jy wou help en het geen bedanking verwag nie….. wel ek se dit nou vir jou in hoof letters: “JY IS ‘n HELD!!!! jy is die tipe person wat ek graag wil sien ‘n medalje kry by die president van die land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.