Jong sjef verlam ná duikslag in rivier

Gareth Flanagan voor die ongeluk. (Foto: Facebook)

ʼn Jong Australiese sjef sal dalk nooit weer kan loop nie nadat ʼn duikslag in ʼn rivier tydens ʼn besoek aan die Wes-Kaap hom verlam gelaat het.

Die 21-jarige Gareth Flanagan was in Suid-Afrika om sy oorlede broer finaal te groet deur sy as hier te kom strooi, maar dié besoek het die familie net in nog verdere hartseer gedompel.

News.com.au berig Flanagan en sy verloofde, Leisha Galluccio (21), het saam met nog familielede op 25 April in ʼn rivier naby Kleinmond in die Overberg-distrik geswem toe Flanagan van ʼn rots in vlak water ingeduik en sy kop gestamp het.

“Ons het net by die familie se vakansiehuis in Kleinmond aangekom, het al ons bagasie net neergegooi en rivier toe gegaan,” het Galluccio aan die nuusagentskap gesê. “Gareth was so opgewonde om te gaan swem.”

Sy sê Flanagan en sy pa het eers in die rivier geswem voordat Flanagan op ʼn rots geklim en in die water geduik het.

“Die oomblik toe hy die water tref, het ek geweet iets is nie reg nie. Dit het gelyk of hy terugskiet van die onderkant af. Hy het geskree ‘help’ en sy tannie se honde het na hom toe geswem en sy pa het ingespring. Al wat ons kon sien was bloed wat uit sy kop stroom en ek het gedink hy gaan moet steke kry, maar toe sy pa hom uiteindelik terug op die rots gekry het, het hy gesê hy kan nie sy bene voel nie.”

Flanagan is deur nooddienste na ʼn hospitaal gehaas waar X-strale en ʼn skandering getoon het hy het sy nek gebreek. Daar was ook erge swelling en kneusing rondom sy ruggraat. Galluccio sê sy het dokters gevra of Flanagan weer sal kan loop en hulle het gesê dit is onwaarskynlik.

Gareth Flanagan in die hospitaal. (Foto: www.gofundme.com)

9News berig Galluccio het vandeesweek gesê daar is wel effense verbetering by Flanagan te bespeur. Volgens die nuusdiens kon Flanagan daarin slaag om Donderdag sy tone effens te beweeg en het hy vir die eerste keer van ʼn rolstoel gebruik gemaak.

Volgens inligting op ʼn skarebefondsingswebwerf is Flanagan steeds van sy middel af ondertoe verlam. Hy is ook sedert die ongeluk op ʼn ventilator geplaas weens ʼn longinfeksie en sal eers rehabilitasie moet ondergaan voordat die familie daaraan kan dink om hom terug te neem Australië toe.

“Wanneer hy by die huis kom, sal Gareth uitgebreide rehabilitasie moet ondergaan. Nie hy of Leisha is tans nie in staat om te werk nie en daar sal baie aanpassings aan hul huis gedoen moet word sodat Leisha en Gareth gemaklik in hul eie huis kan woon,” lui die inligting op die webtuiste.

Teen Saterdagoggend is daar reeds 15 050 Australiese dollar (ongeveer R150 000) vir die paartjie ingesamel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Philip ·

Hoe tragies. Sterkte aan hom, verloofde en familie. Mense moet versigtig wees om in riviere te duik. Stel eers ondersoek in of dit veilig is. Dis wat ons maar gedoen het as ons “kloofing” gedoen het op ons “hikes”.

Jaco ·

Maroela Media, 15050 Australiese dollar is nie eens naby aan R200 000 nie. Die rand beloop onder die R10 vir n Australiese dollar. Dis nader aan R150 000.

Jaco ·

Hi Bianca, ek kan baie goed lees dankie. Die berig is reeds gewysig, daar het wel R200 000 vroeer gestaan. Het jy geweet hulle kan berigde weer wysig nadat die joernaliste foute begaan het?

Helena. ·

Baie ongelukkige voorval. Hoop hy word gesond en kan in die toekoms sy bene gebruik..hulle is so pragtige paartjie. Sterkte aan almal betrokke by hom.

Penellope Jones ·

Ag tog, wat ‘n ongelukkige gebeurtenis! Baie sterkte en voorspoed aan hom en sy familie!!

Mariaan ·

Ek kan skreeu as ek sulke goed lees!! HOE OP DEES AARDE DOEN MENSE NOG SULKE GOED..DUIK IN WATER wat jy nie kan sien wat is daar onder nie..HOE? Lees hulle nie? Soveel keer het so tragedie al gebeur…nee man! Sy broer reeds oorlede..ai..te veel hartseer…hoop op goeie herstel en sterkte vir almal….mense mense..leer hieruit ASB!!

willem Botha ·

Wat ek ook nie kan verstaan is daar dan nog riviere in Suid afrika wat skoon is dat n mens daarin kan swem sonder om n pes siekte op te tel

Gert van Wierdapark ·

Stem saam met Mariaan. Die tragedie is/was SO ONNODIG!!!

Randie ·

Stem ook saam met Mariaan, dit kon verhoed gewees het. So onnodig.

Heksie ·

Duik sommer net goedsmoeds in vreemde water in … dis jammer dat hy seergekry het, maar mens doen nie sulke onbesonne dinge nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.