Jong skaakspeler ernstig beseer in motorongeluk

Argieffoto

Argieffoto

Een van Suid-Afrika se belowendste junior skaakspelers, Michael Sweetbert (11), en sy pleegpa het albei ernstige beserings in ʼn motorongeluk naby Parys in die Vrystaat opgedoen.

Hulle was Donderdag van George in die Suid-Kaap onderweg na die Suid-Afrikaanse Junior Skaakkampioenskapsreeks wat tans by die Birchwood Hotel en konferensiesentrum in Boksburg, Gauteng, gehou word.

Michael sou die Eden Skaakunie in die o. 12-afdeling van die spankompetisie verteenwoordig. Hy was as nommer een in sy ouderdomsgroep gegradeer en het reeds gekwalifiseer om aanstaande jaar aan die SA Junior Geslote Kampioenskapsreeks deel te neem.

Volgens Human Coetzee van die Eden Skaakunie het Michael ernstige beserings aan sy regterbeen, inwendige beserings aan sy milt en lewer, asook ernstige gesigbeserings opgedoen. Hy is per ambulans na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas waar sy toestand as kritiek maar stabiel bestempel word.

Sy pa, Eduan Naudé, is steeds in die Parys-distrikshospitaal. Hy het ernstige kopbeserings en harsingskudding in die ongeluk opgedoen. Die gesin beskik nie oor ʼn mediese fonds nie en Naudé is ʼn pensioentrekker. Beverly Naudé, Michael se pleegma, het gesê sy is besorg dat haar man nie die nodige sorg in die Parys-distrikshospitaal ontvang nie, maar dat hulle nie oor die geld beskik om hom per ambulans na die Pelonomi-hospitaal te laat vervoer nie. Aangesien die gesin se enigste motor in die ongeluk afgeskryf is, kan sy ook nie tussen Bloemfontein en Parys reis nie.

ʼn Fonds is deur die Eden Skaakunie tot stand gebring om met vervoer- en mediese koste te help. Om tot die fonds by te dra, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.