Jong skaakspeler van PE maak skoonskip by Afrika-toernooi

Jesse February van Gqeberha (Port Elizabeth) is Donderdag as die wenner van die Afrika Individuele Skaakkampioenskap aangewys (Foto: Chess South Africa, Facebook)

Die 24-jarige Jesse February van Gqeberha (Port Elizabeth) is Donderdag as die wenner van die Afrika Individuele Skaakkampioenskap aangewys. Sy kom ook in aanmerking vir die titel van Vrouegrootmeester (WGM) in skaak. Nog net een ander Suid-Afrikaner kon ooit dié gesogte titel verower.

Die toernooi het vanjaar tussen 17 en 28 Mei in Lilongwe in Malawi plaasgevind. Van die voorste skaakspelers uit Afrika, onder wie spelers van Malawi, Uganda, Algerië, Zambië, Egipte, Nigerië, Botswana en Suid-Afrika, neem jaarliks aan hierdie toernooi deel.

Die toernooi het oor nege rondes gestrek. February het met sewe punte uit die nege rondes geëindig. Sy het twee keer gelykop gespeel en een spel verloor.

Afgesien daarvan dat sy as die wenner van die toernooi aangewys is, het sy ook in aanmerking gekom vir die Vrouegrootmeesterstitel in Afrika.

February, wat sedert ʼn jong ouderdom reeds skaak speel, sal amptelik die Vrouegrootmeesterstitel verwerf wanneer haar skaakgradering meer as 2 100 punte is. Voor die aanvang van die Afrika Individuele Skaakkampioenskap het haar skaakgradering op 1 824 punte gestaan. Sy kry nou die geleentheid om deur ander toernooie die 2 100-merk te behaal.

Melissa Greeff, wat die Vrouegrootmeesterstitel in 2009 verwerf het, is die enigste Suid-Afrikaner wat dié titel agter haar naam het.

Jesse February kom ook in aanmerking vir die titel van Vrouegrootmeester (WGM) (Foto: Reint Dykema)

February het in haar laaste spel gelykop teen Ayah Moaataz van Egipte gespeel.

“Toe die wedstryd eindig, het Ayah my gelukgewens en ek kon skaars asemhaal. Ek het besef dat ek die toernooi gewen het. Ek was oorweldig en kon dit amper nie glo nie. Trane van blydskap het oor my wange geloop,” vertel February aan Maroela Media.

“Ek dink nie die oorwinning het al heeltemal by my ingesink nie.”

February se ma, Jenny, het haar op die ouderdom van sewe leer skaak speel. Hoewel sy nie dadelik belangstelling daarin getoon het nie, het sy ʼn jaar later ʼn passie hiervoor ontwikkel.

“Ek het op agtjarige ouderdom by die skool begin speel en van toe af nooit weer opgehou nie. Ek wou sedertdien daardie skaakleertjie klim.”

Sy het later ʼn private afrigter gekry wat haar opgelei het en daarna het sy ernstig aan toernooie begin deelneem.

February werk tans as skaakspesialis vir ʼn skaakmaatskappy en gee ook aanlyn skaaklesse. Sy het ʼn aanlyn kanaal waar sy skaakafrigting doen.

“Ek sou elke dag van my lewe skaak wou speel, maar ongelukkig is dit nie volhoubaar om skaak as loopbaan in Suid-Afrika te beoefen nie.”

February beoog om in November na Europa te reis waar sy aan nog skaaktoernooie sal deelneem.

February vertel daar is baie voorbereiding wat ʼn skaakspeler voor ʼn skaakspel moet doen. Sy bestudeer graag ander spelgeleenthede en identifiseer daardie spelers se openinge en foute. Sy sê dis belangrik om jouself as skaakspeler sielkundig voor te berei en ook jou opponent goed te ken.

“Wanneer jy teen ʼn speler speel wat baie sterker as jy is, moet jy voor die wedstryd reeds jou gesindheid regkry. Jy moet te alle tye kalm en vol selfvertroue die spel aanpak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
SomeOne

geluk daarmee, pragtig om so vêr in skaak te gaan, bravo

Willem

Mooi Jesse! Die algemene persoon besef nie die inspanning vir skaak op hierdie vlak nie. Baie geluk!

Johanna

Dit is amazing hoe skaak jou hele brein ontwikkel. Baie baie geluk Jessy. Hou so aan.

Yvonne

Baie geluk..trots op jou

Dirk Mostert

Toe ek laas kompeterende skaak gespeel het (2003) was daar geen onderskeid tussens mans en vrouespelers nie. Almal het op gelyke vlak deelgeneem. Watti Kobese, seun van Arthur Kobesi (destyds president van Skaak S.A.), was nog ons enigste Internasionale Meester (I.M.). Daar was verskeie spelers met graderings van 2100 of meer in S.A. – het self teen sulkes gespeel (o.a. Mark Levitt, N-Tvl kampioen, omtrent 1991). Die kwalifiserende vlak vir I.M was 2400 en vir Grootmeester (G.M.) 2500.