Jong sokkerspeler sterf ná messteek

Oshwin Andries (19) is Saterdagaand oorlede. (Foto: Stellenbosch-sokkerklub)

’n Jong sokkerspeler (19) van die Wes-Kaap is Saterdag dood nadat hy ongeveer ʼn week gelede met ʼn mes gesteek is.

Kapt. Nowinga Sukwana, polisiewoordvoerder, het bevestig dat Oshwin Andries in die hospitaal dood is nadat familielede hom Saterdagaand inderhaas daarheen geneem het.

Dis nie in dié stadium bekend waar die voorval plaasgevind of wat presies gebeur het nie. Luidens ʼn inskrywing op die Orlando Pirates-sokkerklub se Facebook-blad, is Andries verlede Sondag twee keer by ʼn taverne gesteek. Hy is in die hospitaal opgeneem en ontslaan nadat hy beterskap getoon het.

“Die omstandighede van die stekery word nog ondersoek. Niemand is al in hegtenis geneem nie,” het Sukwana gesê.

Andries was ten tyde van sy dood aan die Stellenbosch-sokkerklub verbonde.

Oshwin Andries (19) is Saterdagaand oorlede. (Foto: Facebook / Oshwin Andries)

Die klub het Andries as ’n “begaafde jong sokkerspeler” beskryf wat sy professionele loopbaan op die ouderdom van 18 afgeskop het.

“Hy was later die klub se jongste speler nóg om ’n doel in die DStv-premierskap aan te teken, en was kaptein vir Suid-Afrika by die onlangse kwalifiserende rondes van die U-20 AFCON COSAFA.

“Sy teenwoordigheid sal op die veld sowel as van die veld af gemis word. Die klub se gebede en gedagtes is by sy familie, vriende en geliefdes.”

Andries se dood is ook deur Anroux Marais, die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, betreur.

“Oshwin was ’n jong man wat ’n blink toekoms voor hom gehad het. Hy was ’n sprekende voorbeeld van wat vermag kan word wanneer jong mense positiewe besluite in hul lewens neem en hul passie uitleef.

“Sy dood is ʼn reuseverlies vir die sport in die provinsie. Hy was ʼn baken van hoop vir ander jong spelers, aangesien hy gekies het om sy sokkerdrome na te streef vir toekomstige sukses. Hy het ʼn belowende sokkertoekoms voor hom gehad en ek is hartseer dat sy lewe deur ʼn sinnelose daad van geweld kortgeknip is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Miskruier ·

So dankbaar my seun is nie meer n ” bouncer” by klubs nie. Sommige in dié land funksioneer nie as daar alkohol in sy sisteem is nie.

Eugene ·

Wat maak Hy by n’ tavern? Is nog nat agter die ore. N’ saak het 2 kante.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.