Jong sportster-pa sterf in fratsongeluk

Wayne Gerber en sy dogtertjie, Avalee (1). Foto: Verskaf

Wayne Gerber (27), ʼn pa van ʼn eenjarige kind en ʼn groot sportfanatikus, is Sondag in ʼn fratsongeluk in Vereeniging dood.

Shana Racheal Bellamy, die vrou wat die afgelope sewe jaar met Gerber in ʼn verhouding was en die ma van hul dogtertjie, Avalee Gerber, het Woensdag aan Maroela Media gesê die voorval het Sondag tydens die Ice Block- nasionale kragbootresies op die Vaalrivier plaasgevind.

“Wayne en my pa, Raymond Bellamy (55), neem die afgelope vier jaar deel aan dié jaarlikse kompetisie waarin hulle met opblaasbare penpuntkragbote resies jaag. Die eerste keer wat hulle deelgeneem het, het hulle tweede in die resies gekom en die twee jaar daarna het hulle telkens gewen. Vanjaar se resies het egter sy lewe gekos,” het ʼn hartseer Bellamy gesê.

Bellamy het gesê haar pa en Gerber het met die boot om ʼn draai gegaan toe Gerber uit die boot geval en in die water beland het. ʼn Ander boot het hom toe getref.

“My pa het dadelik die boot omgedraai en tot by Wayne gery. Wayne het met sy gesig na onder in die water gedryf. Toe my pa hom omdraai kon hy sien Wayne is dood. Hulle het Wayne na die oewer geneem waar omstanders vergeefs probeer het om hom by te bring. Hy is op die toneel deur paramedici dood verklaar.”

ʼn Nadoodse ondersoek het intussen bevind Gerber is op slag dood en dat sy ruggraat morsaf gebreek het.

Bellamy het gesê dat haar kêrel, aan wie sy aan die einde van die jaar verloof sou raak, versot was op sport. Buiten kragbootwedrenne het hy ook uitgeblink in BMX-ry en gholf.

“Hy het die afgelope twee jaar as ʼn skrootmetaalhandelaar gewerk, maar lank voor dit aan BMX-kompetisies deelgeneem, ʼn BMX-baan ontwikkel en ook kinders dié sportsoort geleer. Hy het ook al reg oor die wêreld deelgeneem en talle trofeë verower. Hy was veral versot op gholf en wou ʼn professionele gholfspeler geword het.”

Gerber se dood word as ʼn groot verlies vir die sportgemeenskap bestempel.

Gerber het aan Hoërskool Elspark in Germiston gematrikuleer en woon die afgelope paar jaar saam met Bellamy in Meyersdal in Alberton.

“As hy by ʼn vertrek sou inloop, sou hy dit dadelik opgehelder het. Hy was vol energie en hy het die lewe ten volle geleef en geniet. Hy het ook altyd grappies gemaak en mense laat lag. Hy was mal oor die buitelewe, sy vriende en familie. Hy was ook ʼn wonderlike pa en was altyd daar vir my en Avalee wanneer ons hom nodig gehad het. Hy het my gelukkig gemaak en ek het hom met my hele hart lief gehad. Ek kan nie my lewe sonder hom indink nie,” het sy gesê.

ʼn Gedenkdiens word Woensdag om 13:00 vir Gerber in die Christian Faith Fellowship-kerk in Germiston gehou.

Buiten Bellamy en sy dogter, laat Gerber sy ma, Margot Gerber, sy suster, Nicole Gerber, en ʼn susterskind agter.

“Sy pa is ʼn paar jaar gelede dood. My pa was soos ʼn pa vir hom,” het Bellamy bygevoeg. “Dit is vir ons almal baie moeilik, veral vir sy ma, maar ons vind berusting daarin dat hy gesterf het tydens iets wat hy geniet het om te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gerda-Mari ·

Ai tog, nou moet daardie klein gesiggie sonder ‘n pappa grootword… Hartverskeurend.

Innige simpatie en meegevoel aan die naasbestaandes. Mens verstaan nie aldag hoekom sulke dinge gebeur.

raymond parsons ·

hart gaan uit na die familie. het vir Wayne skool gehou en hy was n ou vol energie. was altyd besig om iemand anders te laat smile. sterkte aan die gesin en familie.

Gesiggie ·

Dit is vir my altyd hartseer dan iemand wat sy passie uitleef moet sterf.. hierdie jong man het als wat hy gedoen het geniet, dit is so jammer dat dit vir wat hy lief was, van hom weggeneem moes word.. en my hart breek vir sy pragtigge dogterjie.. hoe sal sy verstaan waar haar papa is… sterkte aan Shana en die Familie, mag God jul dra deur die hartseer tyd..my innige meegevoel

CS ·

Dit is verskriklik hartseer, baie sterkte aan almal, kan nie dink waardeur julle gaan nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.