Jong strandgangers red tiener uit see

Storm_see_rotse_golwe_boekevat_ChristoBrits.jpg

Argieffoto: Christo Brits

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het twee jong mans van die Wes-Kaap as helde vereer nadat hulle Sondag ʼn 16-jarige meisie uit die see by Bakoven, Kaapstad, gered het.

Volgens David Rosenberg, adjunk-stasiebevelvoerder van NSRI in Bakoven, het die meisie van Observatory, Kaapstad, vermoedelik op die rotse gegly, haar balans verloor en in die water geval.

Wihan Koegelenberg (23) van die Paarl en Kyle Feldman (24) van Durbanville het die dag saam met hul meisies op die strand vertoef toe ʼn verbyganger hulle vertel ʼn meisie is besig om te verdrink.

“Koegelenberg en Feldman het na die rotse gehardloop en die meisie tussen die rotse in die water sien spartel. Haar kêrel (18) van Houtbaai het haar probeer help, maar die gladde rotse en rowwe seegolwe het sy reddingspoging belemmer,” vertel Rosenberg.

“Koegelenberg en Feldman het in die see ingegaan om die meisie uit die water te red.”

Tyra-Lee Penny (16) van Claremont, ʼn NSRI-lewensredder, en haar kêrel, Ethan Klerck (16) van Rondebosch, het intussen ook op die toneel met ʼn reddingsboei opgedaag. Klerck het die reddingsboei na die twee vriende en meisie wat steeds in die water was, gegooi.

“Hulle kon die meisie veilig op die strand kry.”

Die polisie, Kampsbaai-sekuriteit, plaaslike nooddienste en ER24 is ook na die toneel ontbied.

“Die Bakoven-NSRI het die meisie en haar kêrel vir hipotermie en kneusplekke behandel. Hulle familielede is daarna gebel om hulle te kom haal.”

Koegelenberg en Feldman het albei skrape, snye en kneusplekke opdoen.

Die NSRI het dié twee manne geloof vir hul vinnige reaksie en beskryf hulle as “barmhartige Samaritane”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anoniem ·

Koegelenberg en Feldman jul is beslis helde om jul lewens op die spel te plaas om ander wat in nood verkeer te red.

Toy ·

Ware helde, bly julle is ook ongedeerd. Julle moet verseker fiks wees, want die see is nie ‘n grap nie.

Prikkie ·

Gee vir hulle elkeen ‘n Bells (wanneer die alkohol verbod eendag opgehef is).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.