Jong sussies wil wêreldrekord laat spat vir kinderhospitaal

Abriella en Issataya (Foto: Verskaf)

Abriella (12) en Issataya (10) Bredell, van St. Francisbaai in die Oos-Kaap, wil hul swemtalent gebruik om twéé wêreldrekords vir een gesin op te stel – en dit als om geld in te samel vir die Rooikruis-kinderhospitaal se ongevalle-eenheid.

Abriella het twee jaar gelede reeds meer as R100 000 aan dié hospitaal geskenk nadat sy die “Everest van swem” aangepak en voltooi het.

Dié keer sal Abriella die 11,9 km om Robbeneiland swem terwyl Issataya die 8,5 km van Kaappunt tot Valsbaai aanpak. Hulle beoog om dit in Maart 2020 te doen. Indien hulle slaag, sal hulle die wêreldrekords verbeter vir die jongste mense wat al ooit dié twee swemroetes voltooi het.

Die twee susters wil nie net die wêreldrekords laat spat nie, maar ook hierdeur terugploeg in ʼn saak waaroor hulle passievol voel.

“Ons wil graag die geld insamel vir die Rooikruis-kinderhospitaal omdat dit vir ons moeilik is om te sien hoe ander mense sukkel. En terwyl jy daar swem en dalk moeg is of swaarkry, plaas jy net jouself in hulle skoene. Dan is die swaarkry wat jy ervaar en die swaarkry wat hulle op ʼn daaglikse grondslag moet hanteer, glad nie eens vergelykbaar nie,” sê Abriella.

Abriella en Issataya oefen saam (Foto: Verskaf)

“Hulle gaan deur soveel meer as ons. Ons kan in elk geval swem, so ons kan dit net sowel doen om hulle te help.”

Die Rooikruis-kinderhospitaal het R150 miljoen nodig vir noodsaaklike opgraderings en uitbreidings, waaronder psigiatriese kamers, beskerming-, brandbesering- en spesialissorgkamers, asook die verbetering van personeel- en opleidingsgeriewe. Hulle wil ook die teater en brandbehandelingskamers meer toeganklik maak.

“Dit neem tot agt minute om iemand in die teater te kry. En wanneer die pasiënte wat inkom kinders en babas is, het hulle nie altyd soveel tyd nie, hulle moet so gou moontlik behandel word. Deel van die opgraderings gaan wees om ʼn hysbak in te sit sodat die proses vinniger kan verloop,” sê Issataya.

Die hospitaal het in ʼn verklaring gesê die bouery sal teen die einde van 2020 klaar wees.

“Die doel vir die opgradering en uitbreidings is om die vloei van pasiënte deur die ongevalle-eenheid te verbeter en om seker te maak die families is gemaklik terwyl hulle wag vir hul kinders om sorg te kry.”

Abriella Bredell oorhandig die vorige geld aan die Rooikruis-kinderhospitaal (Foto: Versakf)

Abriella en Issataya het reeds begin oefen saam met ʼn afrigter om voor te berei vir die strawwe swemroetes.

“Ons het nou dieselfde oefenprogram,” sê Abriella. “Ons oefen in ʼn swembad van Maandag tot Donderdag, op Vrydae doen ons oopwater-swemoefeninge van so 2 km, en op Sondae doen ons nog ʼn oopwater-swem. Issataya swem dan 5 km en ek swem 6 km.”

Issataya sê hulle het besluit om te swem vir die geldinsameling omdat sy glo mense sou nie die geld vir hulle gee sonder ʼn rede nie. “Ek dink mense sal skenkings maak omdat hulle nie weet hoe ons dit sal regkry om so ver te kan swem op sulke jong ouderdomme nie. Ek wil hê mense moet dink dis onmoontlik sodat ons vir hulle kan wys enigiets is moontlik.”

Abriella en Issataya beoog om in Maart 2020 die roetes aan te pak, maar die spesifieke dag hang af van die weersomstandighede. Hulle sal ook nie albei op dieselfde dag swem nie, maar eerder ʼn paar dae uitmekaar sodat hulle daar is om mekaar te ondersteun.

Die algehele bedrag wat ingesamel word, word direk aan die hospitaal betaal. Om meer oor die susters uit te vind besoek hul Facebook-blad en om skenkings te maak, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Dan ·

Fantastiese gebaar! Mooi so sussies Bredell, julle maak my as ‘n Suid-Afrikaner weer TROTS voel op ons jonges! Mag almal julle voorbeeld volg en God se Hand van Beskerming oor julle 2 en julle reis wees!! Julle is pragtig!

Liza ·

Sterkte julle 2 sussie…….oefen hard en sal duim vashou…..pragtige gebaar van julle…..

Hennie ·

Pragtig van die 2 sussies om geld in te samel vir so n goeie doel. Julle sal eendag ryklik beloon word.

Angelique ·

Baie dankie julle 2 susters!!! God sal julle goed wees met al julle handelinge, omrede julle harte op die regte plek sit :) dankie namens almal in ons land!!

Anne ·

Wel gedaan! Trots op julle. Hoop julle kry dit gedoen. Julle is ysters.

Gary Miller ·

Wel gedaan Wellie & Taykie, laat julle vir Oupa & Ouma so trots maak van julle, Liewde Oupie Gary & Oumie Anthea

Kobus ·

Verby due Politiek en verby al die misdaad en moord vind jy twee karaktertjies soos hierdie. Voorspoed en Godsseen vir julle. Aan die ouers, dogters om.op trots te wees

blomkind ·

Wow, dankie vir julle 2jies. Ek gaan verseker julle dophou en ondersteun! Mag die Here julle werklik seen, ons kort nog mense soos julle xxx

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.