Jong swanger vrou sterf skielik

Natalie de Bruin. Foto: Facebook

Natalie de Bruin. Foto: Facebook

ʼn Familie is in rou gedompel nadat ʼn 28-jarige vrou van Jeffreysbaai in die Oos-Kaap, wat vyf maande swanger was met haar en haar man se eersteling, Dinsdag skielik gesterf het.

Natalie de Bruin, ʼn skoonheidsterapeut in die kusdorp, het Dinsdag by die werk van hoofpyn gekla voordat sy inmekaargesak het. Sy is per ambulans na ʼn kliniek gebring, maar is vermoedelik reeds voor haar aankoms daar oorlede.

Niel de Bruin, Natalie se skoonpa, het Donderdag aan Maroela Media gesê sy seun, Martin en Natalie is in Januarie 2013 getroud. Natalie was swanger met die egpaar se eersteling, ʼn dogtertjie, wat ook die eerste kleinkind in die familie sou wees. “Natalie was die middelste kind van drie susters. Sy en haar oudste suster was saam swanger,” het Niel gesê.

Hy vertel Natalie het Maandag die ginekoloog besoek, wat bevestig het sy is blakend gesond en dat die swangerskap heeltemal vlot verloop. Toe sy Dinsdagoggend opstaan, het sy egter gekla van ʼn ligte hoofpyn. “Martin het gesê sy moet ʼn Panado drink, want die dokter het vir hulle gesê sy mag Panado gebruik. Daarna is sy werk toe,” het Niel gesê.

By die werk het Natalie glo aan haar kollega gesê die hoofpyn pla steeds. Sy het in die kombuisie gaan sit en haar kollega het gou ʼn kliënt gaan help voordat sy terug kombuis toe is om vir Natalie tee te maak. “Toe haar kollega terugkom by haar, het Natalie haar kop vasgegryp en flou geval,” het Niel gesê.

Paramedici is dadelik ontbied en ʼn dokter was binne oomblikke op die toneel. Martin en Niel het hulle ook dadelik daarheen gehaas. Natalie is per ambulans na ʼn private kliniek gehaas, waar sy dood verklaar is.

Natalie en Martin de Bruin. Foto: Facebook

Natalie en Martin de Bruin. Foto: Facebook

Volgens Niel het Natalie aan ʼn aneurisme gesterf. “Hulle het gesê ʼn vrou wat swanger is se bloeddruk styg en daal en dit is dalk wat gebeur het. Sy was nog altyd baie gesond en het gereeld geoefen. [Haar dood] was ongelooflik skielik en onverwags,” het Neil gesê.

Neil het gesê die hele familie is platgeslaan deur Natalie se dood. “Martin is stukkend, heeltemal stukkend. Hy sê vir my, ‘Pa, ons lewe saam het dan nou net begin’. Sy broer het uit Skotland gekom om hier te wees en sy ander broer van Bloemfontein af. Die hele familie is hier om hom te ondersteun, maar dit bly maar verskriklik hartseer en swaar. Ons almal hou nou net vas aan ons geloof,” het ʼn emosionele Niel gesê.

“Natalie was ʼn pragtige mens en groot Christen. Sy was vir almal ʼn voorbeeld van ʼn model-eggenote. Ons sal haar vriendelikheid en hulpvaardigheid baie mis. Ons is baie lief vir haar, maar ons weet sy en haar baba sit nou aan die voete van die Here.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

46 Kommentare

Santa Ekkerd ·

Ons dink aan jul en sterkte, maar weet sy en die babatjie is by God in die Hemelhuis

Paul ·

My boetie was 15 jaar oud toe hy ook weens aneurisme gesterf het. Dit is iets wat redelik onbekend is aan Jan Alleman. Maar ek bid julle kry vertroosting by HOM. Natalie…..Lewe nou in vrede! Sterkte aan die familie.

m ·

Die lewe is so onregverdig maar ons sal nooit verstaan hoekom sekere goed gebeur nie. Baie sterkte aan die familie.

foxi ·

Wat n pragtige lieflike dame!
RIV Natalie. Al ons meegevoel aan die familie………???

Felicity ·

Ai, dis verskriklik hartseer. So ‘n pragtige vroutjie en hulle lyk na ‘n wonderlike paartjie. So bitter jammer vir Martin dat hy sy pragtige vroutjie en babatjie so skielik moes verloor. My gebede gaan aan die hele familie. Bly vashou aan julle geloof. Daar is nou twee pragtige Engele in Hemel saam met God ons Vader. Baie, baie sterkte aan julle almal.

Anne ·

Dis baie hatseer, sterkte aan die geliefdes.
So ‘n mooi jong vrou.

Marinda Duvenhage ·

Baie hartseer, mag Jesus elkeen van julle dra deur hierdie hartseer tyd.

Hanlie ·

Wil graag met julle Kat Kerr se praatjies oor die hemel deel. Soek op youtube na Kat Kerr ‘Revealing Heaven’ Audio Book. Baie insiggewend oor ons geliefdes se lewe by die Vader na hul dood. Baie sterkte en mag die Heilige Gees julle in hierdie tyd vertroos.

Christelle ·

Dit is baie, baie hartseer en my hart gaan uit na almal in die familie – sal ons ooit God se plan verstaan

BOLANDER ·

Ai, ek kry skoon hoendervleis toe ek die berig lees. Dit is hart verskeurend!! Baie sterkte aan haar man en familie. GOD sal troos.

Nog 'n Bolander ·

Dit is baie hartseer en ek is so jammer vir hierdie pragtige vrou se man en haar familie en vriende. Ek kan maar ook net sê baie sterkte vir hierdie hartseer tyd en mag ons Hemelse Vader jul styf vashou in hierdie tyd en troos net soos Hy kan! Die land huil saam met julle.

Nelita Boshoff ·

‘N Pragtige vrou.My hart gaan uit na al haar geliefdes,mag jul Mettertyd Jesus se vrede wat alle verstand te bowe gaan ervaar.Sy sal bly voortleef in jul harte en watter troos om te weet Sy is by Jesus.Sy het die dood oorwin,want haar hemelse pappa het ,…Mag dit jul dra wanneer die verlange teveel word.

Poppie ·

Mag jul in werklikheid God se teenwoordigheid ervaar en Hy jul sal vertroos in jul hartseer oomblikke….God Seën…

liza ·

Dis so seer, en wat ‘n pragtige dame is dit nie, dink aan elkeen van julle en mag julle rus en vrede kry. Rus saggies baba en mamma …….

Sophia ·

Sjoe, so bitter hartseer! Mag God julle styf vashou in hierdie donker tyd!!

Mel ·

Voorwaar ‘n pragtige dame, dis ‘n dubbele tragedie, baie sterkte aan haar man en naasbestaandes, dis ‘n verskriklike slegte tyd en dit voor Kersfees, Mag jul berusting vind en ek bid dat God se hand van vertroosting oor julle sal wees. RIV Natalie

Alete Muller ·

Sanet, jou middelkind was beeldskoon van binne en buite. Jesus hou jou en almal wat lief was vir haar styf vas.

Poppie ·

RIV Natalie. Maar ek dink Maroela het n foto van die sussie op waar sy alleen staan. Dit is nie sy nie.

Linda Ras ·

My innige simpatie aan man en ouers.
My seun is 4 maande gelede in ‘n motorongeluk oorlede en het sy 8 maande swanger vroutjie agtergelaat.
Ons was en is steeds stukkend, maar het darem sy dogtertjie wat ‘n maand na sy afsterwe gebore is , om aan vas te hou.
Haar ouers en man het die kindjie ook aan die dood afgestaan.
My hart breek vir hulle.

Vivian ·

My hart is seer saam julle. Mag jul God se nabyheid ervaar in die tyd.

Thomas ·

So jammer. Al ken ek jul nie, deel ek jul smart. Sy (en die baba) is nie weg nie. Hul is jul bloot vooruit. Mag jul vertroosting in hierdie ware woorde vind.

Elize ·

Grootste hartseer ooit. Innige simpatie aan die familie. Mag God jul dra in hierdie moeilike tyd.

Elize ·

Grootste hartseer ooit. Innige simpatie met die naasbestaandes. Mag God jul dra in die moeilike tyd.

Neil ·

Dit is regtig baie hartseer dat so iets moet gebeur. Baie sterkte aandie familie gedurende julle hartseer tyd.

Trane ·

Ek sukkel om die berig klaar te lees want die trane pla. Sterkte en genade aan u almal in ‘n moeilike tyd.

Azuni ·

Ek kan nie eers begin dink hoe Martin voel nie. My gebede is met hom en die hele gesin. Natalie lyk na ‘n baie gawe jong dame en dit is jammer om te hoor wanneer sulke mense so vroeg weg geneem word. Sterkte julle.

louna ·

My hart is baie seer so n pragtige mens .Sterkte mag GOD julle troos deur hierdie moeilike tyd

Belmarie ·

Jammer klink so afgesaag..so leeg…my hart is seer saam met julle..ek glo God sal julle toevou in Sy arms en julle omvou met Sy liefde

Jan ·

Martin…ek weet jy gaan hulle mis, maar onthou net hulle is nie weg nie. Ons wat Jesus ken en liefhet sal binnekort weer by ons geliefdes wees. Hou goeie moed.

Carlo ·

Baie sterkte vir julle gesin. My vrou nou op 39 weke en weet hoe dit voel om uit te sien na n lewe as gesin met jou eerste. Kan mens nie indink hoe n man kan voel na so slag nie. Innige simpatie en weereens sterkte.

Hermien Brittnell ·

Sjoe Martin, my hart is SO seer vir jou part! Sterkte vir die hele de Bruin gesin!

riana ·

Baie sterkte dit is n baie hartseer storie. Julle moet sterk wees dink aan julle. Om 2 te verloor is nie maklik nie. Wil net vir haar man se die Here se Hand is groot en hy sal jou deur hierdie moeilike tyd styf vas hou en bystaan.
jy moet sterk wees ek dink aan jou.

Ronell ·

Vreeslik jammer vir jul verlies. Sy was pragtig. Mag die Here jul vertroos in hierdie hartseer tyd.

Leo ·

Dis so hartseer. Ek sit sommer met ‘n knop in my keel. Hulle het nie eens kans gehad om afskeid te neem of om hul dogtertjie te ontmoet nie. Baie sterkte aan haar man en familie.

Maria Kolesky ·

Ek ken julle nie, maar ek bly ‘n mamma wat alreeds van ‘n seun moes afskeid neem en ek ken jul smart en verlies….dit is baie seer. Mag julle vertroosting vind by die Vader. Sy genade en liefde het geen einde nie. Ek dra jul op in gebed…wees sterk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.