Jong toeris sterf op Tafelberg

Argieffoto: David Bruiners, AMS

Argieffoto: David Bruiners, AMS

ʼn 19-jarige toeris van Ysland se liggaam is Sondagoggend deur ʼn voetganger op Tafelberg in Kaapstad aangetref.

Johann Marais, woordvoerder van Wildernis-soek-en-redding (WSAR), het Maandag aan Maroela Media gesê die jong man het Saterdag omstreeks 16:00 saam met twee vriende die Platteklip-ravynroete gaan stap.

“Dit was baie winderig en die jong man het halfpad besluit om om te draai en terug af te stap. Hy het met sy vriende afgespreek om hulle by ʼn sekere plek te ontmoet. Sy vriende het verder opwaarts gestap, die kruin bereik en is later met die kabelkar af na onder, maar hul vriend was nie daar nie,” het Marais gesê.

Volgens Marais het sy vriende hom omstreeks 23:00 as vermis aangemeld toe hulle hom nie kon opspoor nie. Wildbewaarders van SANParke het in die donker die roete uitgestap, maar kon geen teken van die man vind nie.

Kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, het aan Maroela Media gesê ʼn man se liggaam is Sondag omstreeks 08:00 opgemerk.

“ʼn Gereelde stapper was besig met sy oggendstaptog op die Platteklip-ravynroete toe hy die liggaam opgemerk het. Die man het dadelik die polisie en soek-en-reddingsdienste ontbied.”

Marais het gesê weens winderige toestande het dit wildbewaarders en reddingswerkers nagenoeg vier uur geneem om die man se liggaam van die berg af te bring, waar sy vriende hom uitgeken het.

Die vermoede bestaan dat hy na sy dood geval het. Van Wyk het egter gesê ʼn nadoodse ondersoek sal gedoen word om die presiese oorsaak van sy dood te bepaal.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek. Die man se naam is nog nie bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

groenewaldt ·

Ai dit is jammer, dat hy hir moes sterf. Die arme ouers en familie.

Stapper ·

Die natuur is wonderskoon maar ook onverbiddelik. Moet nooit iemand alleen laat onder GEEN omstandighede.

ada ·

Ware woorde Stapper. Ek hoop sy dood was pynloos en hoop sy familie vind vrede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.