Jong vlieënier se lyk gevind: ‘Hy het ʼn hart van goud gehad’

Jannes Scheepers. Foto: Facebook

Jannes Scheepers. Foto: Facebook

ʼn Jong vlieënier wat Vrydag vermis geraak het se liggaam is Sondagmiddag laat gevind waar die vliegtuig in ʼn bergagtige gebied naby Graskop in Mpumalanga neergestort het.

Jannes Scheepers (23) het Vrydagoggend van die Wonderboom-lughawe in Pretoria vertrek. Sy werkgewer het bekommerd geraak toe hy nie later die middag vir werk opgedaag het nie en sy ma gekontak. Scheepers het by sy ma, Antoinette Ackerman, ʼn mediese dokter, in Johannesburg gewoon. Scheepers se pa, Pieter, is ʼn bekende dokter in Nelspruit.

Santjie White, hoof van die lugvaart-soek-en-reddingskoördineringsentrum, het gesê die wrak is Sondagmiddag in ʼn bergagtige gebied, sowat 16 km van Graskop, gevind. Volgens White is die wrak gevind ná ’n uitgebreide lug- en grondsoektog en nadat daar ʼn vlugplan op Scheepers se skootrekenaar gevind is.

Rina Scheepers, Jannes se stiefma, het aan Maroela Media gesê hy was ʼn ware heer. “Hy was ʼn sagte, liefdevolle kind met ʼn hart van goud.”

Volgens White was verskeie organisasies by die reuse-soekoperasie betrokke waaronder die polisie, die lugmag, rampbestuur in Mpumalanga, die bergklub van Suid-Afrika, die Magaliesbergse soek-en-reddingspan, die veldry-reddingseenheid ORU, private vlieëniers en ander organisasies en vrywilligers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.