Jong vlieënier se toestand ‘onveranderd’ ná ongeluk

Joshua Cilliers. Foto: Verskaf

Joshua Cilliers (28), die vlieënier van die helikopter wat Woensdag naby Queenstown in die Oos-Kaap neergestort het, se familie het Sondag gesê sy mediese toestand is onveranderd.

Maroela Media het vroeër berig Cilliers was saam met George Frederik Snyman, ʼn veearts van Port Elizabeth, in die helikopter toe dit in die Sterkstroom-gebied neergestort het.

Snyman is op die toneel dood. Cilliers is met ernstige beserings in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal in Queenstown gehaas.

Cilliers is Woensdagaand eers na ʼn hospitaal in Oos-Londen en later na ʼn tweede hospitaal in die stad oorgeplaas.

Danie Cilliers, Joshua se broer, het Sondag aan Maroela Media gesê die familie is in dié stadium slegs bereid om te sê dat Joshua se mediese toestand onveranderd is.

Hy wou nie onmiddellik kommentaar lewer oor die breinoperasie wat Joshua Donderdag sou ondergaan weens die bloeding wat hy op sy brein opgedoen het nie.

“Ons wil almal vir hul ondersteuning in dié tyd bedank, en vra vir verdere gebede,” het Danie gesê.

Joshua het ook sy arm gebreek tydens die voorval en vermoedelik ʼn longbesering opgedoen.

Danie het Donderdag bevestig dat Cilliers en Snyman besig was om met wild te werk toe die ongeluk gebeur het, maar teen Donderdag was die oorsaak van die ongeluk nie duidelik nie.

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die burgerlugvaartowerheid (BLO), het aan Maroela Media bevestig dat die owerheid ʼn volledige ondersoek na die ongeluk doen.

Kol. Michelle Matroos, woordvoerder van die polisie, het gesê hulle doen ook ʼn geregtelike doodsondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.