Jong vlieënier was ʼn ware “gentleman”

Marco Pfeil (21). Foto: Verskaf.

Marco Pfeil (21). Foto: Verskaf.

Marco Pfeil, die 21-jarige vlieënier van Bredasdorp in die Wes-Kaap wat Dinsdag in ʼn ligtevliegtuigongeluk gesterf het, sal as ʼn ware “gentleman” onthou word.

Marco se suster, Marizanne Pfeil, het Donderdag bewoë aan Maroela Media gesê haar broer was baie doelgerig en hardwerkend. “Almal wat met hom te doen gehad het, onthou hom as ʼn positiewe mens wat hul lewe ten goede beïnvloed het,” het Marizanne, ʼn 19-jarige teologiestudent aan die Universiteit van Stellenbosch, gesê.

“Ek het groot skoene om vol te staan. Sy ongeluk was vir ons almal ʼn groot skok en dit voel nou nog onwerklik dat hy weg is.”

Marizanne het gesê haar broer, wat in Bredasdorp grootgeword het en aan die Hoërskool Bredasdorp matrikuleer het, het nog die naweek saam met hul ouers in Stellenbosch by haar gaan kuier. “Hy was Maandag nog so opgewonde dat hy Dinsdag weer sou vlieg,” het sy gesê.

Marco het ná skool studeer om ʼn kommersiële vlieënier te word. Hy was besig met sy laaste kursus en sou ná die kursus kommersieel begin vlieg het. Hy het meer as 200 ure vlugtyd op sy kerfstok gehad.

Op ʼn vraag oor wat haar broer se passie was, het sy gelag en gesê: “As my broer nie ʼn voël was nie, was hy ʼn vis. Hy was altyd in die lug of in die water.” Buiten vlieg as ʼn stokperdjie het Marco ook uitgeblink in swem, roei en onderwaterhokkie. Hy het ook onlangs begin skubaduik.

Maroela Media het Dinsdag berig die vliegtuig waarin Marco was, het op ‘n plaas naby die M19 in Melkbosstrand neergestort, waarna dit aan die brand geslaan het. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie en word ondersoek. Lees meer hier.

“Volgens ʼn voorlopige ondersoek blyk dit dat my broer op slag dood is, wat beteken dat hy gelukkig nie doodgebrand het of enigsins gely het nie,” het Marizanne bygevoeg.

ʼn Troosdiens word vir Woensdag in Bredasdorp se NG-kerk beplan. Die tyd van die diens is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

iris seegers ·

My innige meegevoel aan die familie! Hy was hulle en baie ander mense se ikoon! RIV,!!

Gideon Keyser ·

Hy was ‘n legend en ‘n goeie mens. Ons almal gaan hom baie mis. Sterkte aan sy familie. RIP Marco!

Dave & Stephanie Smith ·

Baie sterkte word die Familie toe gebid! Hannes, Marissa en Marizanne julle is in ons gebede. Ek wens R.I.P. Het gestaan vir “return if possible” sodat julle hierdie hartseer kon vryspring! Baie sterkte en liefde! Rus sag by God se voete Marco!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.