Twee jongmense is Sondag dood toe die Cessna-vliegtuig waarin hulle gevlieg het naby die Ingwe-lodge in Magaliesburg neergestort het.
Konst. Gloria Maswanganye, woordvoerder van die polisie, het gesê die eienaar van ʼn plaas het Sondag omstreeks 15:30 ʼn brand op sy plaas gewaar en bure gevra om te kom help. “Dit was ʼn klein, wit vliegtuig wat neergestort en die brand veroorsaak het,” het Maswanganye gesê.
Volgens haar is polisie en paramedici na die toneel ontbied waarna twee liggame gevind is. “Hul identiteite is nie aan ons bekend nie,” het sy bygevoeg.
Die oorsaak van die vliegtuigongeluk is nog nie bekend nie. Die polisie het gesê die burgerlugvaartowerheid sal die voorval ondersoek.
Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die burgerlugvaartowerheid, het aan Maroela Media bevestig dat ʼn vliegtuig oor die naweek neergestort het, maar het gesê hy sal eers later meer kommentaar kan lewer.
Maroela Media verneem die vliegtuig het vanaf die Wonderboom-lughawe opgestyg voordat dit neergestort het.
Jabulani Mapumulo, waarnemende bestuurder en uitvoerende direkteur van die Wonderboom-lughawe, het die oorledenes as Annene le Roux en Ben Laas geïdentifiseer. Hy het gesê Le Roux was ʼn student aan die Eagle Air-vliegskool by die Wonderboom-lughawe. Volgens inligting op Facebook was Le Roux 23 jaar oud en Laas 24 jaar.
Mapumulo het aan Maroela Media gesê daar sal later ʼn verklaring oor die voorval uitgereik word.
Le Roux was ʼn oudleerder aan die Hoërskool Hoogenhout. Medelye het sedert Sondag op die twee jongmense se Facebook-bladsye ingestroom. Een Facebook-gebruiker het geskryf: “Bennie, vandag vlieg jy saam met die engele, hoër as vantevore.”
Op Le Roux se profiel is geskryf: “Rus sag jong. Nou is jou lugmyle in die hemel baie meer werd as op aarde.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
15 Kommentare
Dit is jammer dat so iets gebeur het. Hoop families en vriende kry vertroosting. RIV
Ai dis so hartseer.
Twee pragtige jong blanke mense. Sterkte aan famielies
Woorde is min…rus in vrede. Sterkte aan di familie en Vriende.
sterkte aan familie en al di geliefdes. Ons het ook n seun in die lugvaartbedryf. Vra ons God om Sy Bewarende Hand oor ons seun en sy studente te hou te alle tye. Amen