Jong vrou aangerand, geskop op Noordwes-plaas

Argieffoto: Kent Williamson

Die VF Plus in Noordwes prys die polisie, buurtwag en inwoners van Palmietfontein by Klerksdorp vir hul flinke optrede wat volgens lede verhoed het dat ʼn plaasaanval in ʼn tragedie ontaard.

Twee rowers het Woensdag helder oordag op die woning op die plaas Buffeldoring toegeslaan nadat hulle blykbaar gesien het hoe die boer en sy vrou in afsonderlike voertuie dorp toe ry en ʼn 20-jarige familielid alleen tuis laat, vertel Fanie du Toit, VF Plus-onderleier in Noordwes.

“Dit is kommerwekkend dat die aanvallers [blykbaar] die gesin dopgehou en hul kans afgewag het om toe te slaan,” meen hy.

Dit was vermoedelik dieselfde mans wat die afgelope week bokke en skape op die plaas gesteel het en na wie buurtwaglede eergisteraand onsuksesvol in die omgewing gesoek het.

Du Toit sê die twee rowers het die huis Woensdagmiddag binnegekom deur ʼn deur wat nie gesluit was nie. Hulle het die vrou glo op die grond gegooi en geskop, waartydens een van haar ribbes gebreek is.

“Hulle het haar toe in die badkamer gegooi en wou geld by haar hê,” vertel Du Toit. “Haar foon het gelui, wat die rowers laat skrik het.” Hulle het op die vlug geslaan voor hulle enigiets kon roof.

“Die jong vrou het toe die buurvrou gebel, wat ʼn buurman in kennis gestel het van die aanval,” sê Du Toit. “Hy het die buurtwag laat weet. Hulle en die polisie was binne minute op die toneel.”

Werner Vermaak, ER24-woordvoerder, sê toe paramedici omstreeks 16:00 op die plaas aankom, het hulle die jong vrou en die polisie buite die huis aangetref. “Sy is beseer toe sy geskop en op die grond gegooi is.

“Paramedici het haar ondersoek en behandel voor sy na ʼn plaaslike hospitaal geneem is vir verdere behandeling.”

Du Toit, wat self die plaas besoek het, vertel die soektog na die twee aanvallers het tot laat Woensdagnag aangehou. Die buurtwag en polisie is bygestaan deur ʼn plaaslike helikopter en een wat van Johannesburg af gekom het.

Van die buurtwaglede het hommeltuie ingespan om te help soek, maar tot dusver is nie een van die twee mans aangekeer nie.

“Die VF Plus wil gemeenskappe aanmoedig om betrokke te raak by gemeenskapspolisiëringsforums en buurtwagorganisasies,” sê Du Toit. “Dit is tyd om terug te slaan teen misdaad en geweld en deur samewerking is die stryd half gewonne.”

Lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder van Noordwes, het by navraag die gebeure bevestig. Sy sê die polisie ondersoek ’n klag van aanranding en poging tot huisbraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Essie ·

Dit is hoekom ek sê stel net weer die doodstraf terug want hul het met ander gedagtes gekom.

Stem saam ·

Ek stem 100% met jou saam Essie, bring die doodstraf terug en dan sal die tronke nie so oorvol wees nie.

Ruan ·

Ek stem glad nie saam nie. Dink net met ons gebreukte “Justice system” watse onskuldige mense sal die dood straf opgelê word. Veral sekere klerurige.

Gerhard ·

Bring die doodstraf terug en dan is dit die boer wat een van hulle doodskiet wan sal boet, nie die skelms nie.

Skote Petoors ·

Essie, ek sou met jou saam stem, as ons n eerlike regering en regstelsel gehad het, maar met die huidige spul, sal ons net aan die kortse ent trek met die doodstraf.

Realis ·

@Essie, kan almal nou net ophou praat oor doodstraf asb??? As daar doodstraf was, was dit die voorland van die ouens wat iemand in n kis gedruk het, was dit die voorland van die ouens waarvan n kind van die bakkie afgeval het en so kan jy aangaan. Dit terwyl die plaasmoordenaars & verkragters lewenslank sal tronkstraf kry. Glo jy werklik dat daar n eenparige regstelsel sal wees wat almal oor dieselfde kam skeer? As jy doen, kyk jy nie genoeg nuus nie.

Thinus Erasmus ·

Daar is te min opgeleide spoorny honde, dit is al wat vinnig verdagtes se spoor kan volg en uitsnuffel. Hul le en wag tot donker in die veld en dan maak hul spore. SOEK HULLE!

Dries ·

Dis di jaar 2018. Misdaadstatistiek is skokkend hoog. N enkele dame op n plaas met n OOP deur – het NIKS uit te waai met di doodstraf of bloedhonde ni…

christa ·

Essie, ek het ook so gedink maar het jy gedink hoe maklik hulle dan die blankes gaan doodstraf ople?. Hulle beskerm hulle eiendom, dan word hulle gevonnis vir optrede.

marous ·

Genadiglik het sy dit oorleef . Hoop hulle kom hul moses tee voor daar ‘n uitgerekte hofsaak is …..

waarheid ·

Ai ek dink aan die jong vrou – alle sterkte vorentoe!!

LB ·

Hoekom aaneen na haar verwys as die jong vrou… as sy ouer was sou julle na haar verwys het as die ou vrou?

Baie sterkte, so ‘n aanval laat diep letsels.

George Els ·

Stem saam Dries.Oor algemeen is boere ook agterlosig.Dis tragies maar waar .Behalwe eie veiligheid opskerp raak betrokke by gemeenskap veiligheid forums.Ons bly in die wilde suide

Gemaskerde Sopbeen ·

Ek verstaan nie waarom almal vassteek by “Bring die doodstraf terug” nie? Julle weet mos nou al teen die tyd dat die regering NIKS vir NIEMAND beteken nie……….en dat jy op jouself aangewese is en alles vir jouself moet doen? Hou op om die regering te pla met goed wat hulle nie wil doen nie……………DOEN DIT SELF!!

RG ·

Sterkte mense.
Hou van die hommeltuie ingespan, dink dit kan nogal op groot skaal werk, veral met buurtwag.

Christian ·

Ongelukkig, volgens wet, mag mens nie ‘n drone vlieg oor bv. jou bure se huis sonder toestemming nie. Jy mag ook nie ‘n drone in die nag vlieg nie. Daar is ‘n paar wette wat nagekom moet word. So ek glo nie dit sal sommer gou ingespan kan word vir buurtwag nie. Die mense met die hommeltuie wat help in sulke gevalle soos genoem, word deur die polisie self beroep en word gevra om hulp en bystand aan te bied.

Theunis Buys ·

George
Ek dink jy veralgemeen te makilik
Ons Boere is n teiken vir alle midadigers en daar is n duidelike tendens dat daar n goed beplande wyse is waar daar op alle blankes geteiken word. So , as jy nie deel is van die statistiek is nie vra ek nederig dat jy eerder kommentaar lewer wanner jy seker is van jou feite

Julia ·

Wil net graag weet, hoe werk mens in die dag op n plaas/Kleinhoewes met geslote deure? Met n 38 grade soos vandag soek mens ook vars lug al is jy alleen en werk jy in die huis. Dis tog my basiese mensereg. Die aanklagtes teen hierdie skurke is ook heeltemal verkeerd. Dit was aanranding met die doel on ernstig te te beseer nie poging tot roof nie; eeder poging tot moord.

George Els ·

Theuns. Ja jys miskien reg .Ek moes nie die woord algemeen gebruik het nie Dit is nog steeds nie lekker om te lees van ons mense wat seerkry en die berig sinspeel daarop dat die mense nie genoeg doen vir hulle eie veiligheid nie. My simpatie le nog by die slagoffers en ek hoop net die beste vir hulle toe

LOUISE ·

Bietjie inside info….

Die dame was nie heeldag alleen op plaas met oop deure nie….

Die man was in die dorp om bande reg te maak. Die ouer dame het plaaswerkers by teerpad gaan aflaai wat retoer minder as 20km is so sy was skaars 15min weg. Die dame het tuis gebly om klere van die draad af te haal…. toe sy die klere klaar gaan bêre het en teruggestap het om honde in te laat en deur te sluit het hulle huis ingebars… honde met sambokke geslaan… 3 graaot honde…

Hierdie was nie as gevolg van nalatigheid nie, daar word geglo hulle was dopgehou en daar was gewag dat almal ry….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.