Jong vrou byna dood op ertsroete

Die ongelukstoneel in Orania. (Foto: Verskaf)

’n Jong vrou van die Noord-Kaap is Maandag in ’n ernstige toestand per helikopter na ’n hospitaal gevlieg nadat die bestuurder van ’n ertsvragmotor na bewering ’n vierrigtingstop in Orania verontagsaam en teen haar motor gebots het.

Dié voorval het opnuut die aandag gevestig op die ernstige gevolge wat die vervoer van erts tussen die ertsmyne in die omgewing van Kathu en Postmasburg in die Noord-Kaap en Port Elizabeth in die Oos-Kaap inhou.

Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en provinsiale leier in die Noord-Kaap, sê die ertsroete skep ’n verskeidenheid van probleme aangesien tientalle vragmotors daagliks tussen die myne en die verskepingsdepot by die hawe van Port Elizabeth ry.

“Hardnekkige gerugte lui dat vragmotors normaalweg oorlaai is, maar die afwesigheid van provinsiale weegbrûe op die roete maak dit moeilik om te bewys.”

Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, sê ’n jong vrou moes Maandag met meganiese toerusting uit die wrak van haar motor bevry word nadat ’n vragmotor ’n vierrigtingstop in die dorp verontagsaam en teen die kant van haar motor gebots het.

Die vrou is op die toneel gestabiliseer voordat sy na ’n hospitaal in Kimberley gevlieg is. Die vrou was teen Maandagaand nog in die waakeenheid van die hospitaal behandel. Die bestuurder van die vragmotor het ongedeerd van die voorval afgekom.

Volgens Strydom word gereeld gesien hoe vragmotors die verkeersreëls oortree wanneer hulle deur Orania ry. “Dit maak mens woedend dat so iets soos gister moet gebeur voordat daar daadwerklik iets aan die probleem gedoen word. Die feit dat niemand dood is nie, is ’n wonderwerk.”

Boshoff sê op sy beurt alle dorpe op die ertsroete word deur die krisis van ertsvervoer geraak. “Wat Orania uitsonder, is dat kameras by die vierrigtingstopstraat aangebring is, waar die roekelose gedrag van vragmotorbestuurders op rekord geplaas word.”

Die VF Plus sê daar moet daadwerklik ingegryp word. Die party beveel aan dat weegbrûe in die besit van boere en landboumaatskappye vir wetstoepassing geakkrediteer word om te verhoed dat ertsvragmotors oorlaai word.

Nog ’n manier om die gewig van die vrag te bepaal, is om te vereis dat die laaisertifikate by myne en die hawe vir wetstoepassing beskikbaar gestel word.

“Op die oog af bestaan die wil om ’n oplossing te vind, egter nie in die regte kringe nie,” meen Boshoff.

Hy sê hoewel die oorlading van vragmotors nie in dié stadium bewys kan word nie, is die toestand van paaie daar vir almal om te sien. “Die groot aantal slaggate het al tot talle ongelukke gelei.

“Gemeenskappe in die Noord- en die Oos-Kaap is geregverdig om te vra of hul veiligheid vir owerhede opweeg teen die belange van padvervoer van erts – iets wat ideaal geskik is om per spoor vervoer te word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pampoen ·

Die erts moet per spoor vervoer word, maar weens die wanbestuur van die spoorwee word die paaie gebruik. Die lorries trap die paaie flenters. Dit gebeur by al die myne.

Chantel ·

Ja-nee dis absoluut waar. Ek kyk maar net na ons plattelandse dorpe se paaie met die swaar vragmotors en dan ry hulle nog soos buffels ook.

Racheltjie Debeer ·

Dis nie net die plattelandse dorpe se strate wat stukkend gery word nie, in die stede gaan dit dieselfde. Die meerderheid vragmotorbestuurders steur hul eenvoudig gladnie aan die padreëls nie. Ek sien dit elke dag.

Pandora ·

Absoluut die waarheid.
In die oostelike omgewing van Mpumalanga & Limpopo moet werknemers van chroom en platinum myne daagliks hulle lewens waag tussen magdom vragmotors wat erts aanry. Dan sal die busdrywers wel ook die vragmotors op steil opdraendes probeer verbyvat. Die paaie is in so ‘n toestand van oorlaaide vragmotors wat vreeslik vinnig ry dat ons daagliks voertuie langs die pad opmerk wat skade aan hul voertuie opgedoen het. Dis wesenlik ORAL ‘n probleem.

Tanja ·

Vra ek al vir jare… hoekom word ons spoor vervoer nie gebruik nie?

Misky ·

Bo en behalwe dat hy die stop straat verontagsaam het, moes hy met n hengse spoed gejaag het as mens die skade aan die kar sien. Sluit hom op en kla aan vir poging tot moord

Gert ·

Spoorlyne en treine word gesaboteer sodat vriende se vragmotors die vrag kan vervoer. Daar gaan amper nie ‘n dag verby dat vragmotors nie in ongelukke betrokke is nie.
Erts vragmotors is van die ergstes, maar meeste vragmotors ry erger as taxis.

Johan ·

Ek het verlede Woensdag afgery Oos Kaap toe al met die N1 langs, Pad was wonderlik totdat ek vanaf Colesberg die erts trokke begin kry. Hulle ry plek plek meer as 120km/h, verontagsaam omtrent elke pad reel en elke tweede drywer sit op sy selfoon. Hulle ry tot soveel as 5 trokke agter mekaar en so na aanmekaar dat mens nie kan verby kom nie. Die verkeers manne langs die pad doen absoluut niks. Dit is die oorsaak van ongelukke. Ek stem saam kry die spoorwee aan die gang. Minder ongelukke en lewens verlies. Punt.

Adri ·

Daardie kruising in Orania skreeu vir ‘n verkeersirkel met spoedwalle op die grootpad ter wille van die inwoners.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.