Jong vrou eindelik ontslaan na slangbyt

Elné Erasmus (Foto: Verskaf)

Elné Erasmus, die 21-jarige vrou wat deur ’n Mosambiekse spoegkobra in haar ouerhuis in Limpopo gepik is, is na ’n maand in die hospitaal ontslaan. Sy sal nou van vooraf met dié hand moet leer skryf en moontlik eersdaags ʼn veloorplanting moet kry.

“Alles voel nog so onwerklik. Ek was in trane toe ek by die huis ingestap het. Ek het die bosveld gemis,” vertel Erasmus. Sy het verlede Vrydag weer by haar ouers se plaas naby Thabazimbi aangekom, ná 34 dae in die Steve Biko- Akademiese Hospitaal in Pretoria.

Maroela Media het vroeër berig Erasmus is op haar regterhand deur die slang gepik toe sy ’n kledingstuk uit haar kas wou haal. Haar pa het terstond met haar na die Mediclinic-hospitaal in Thabazimbi gejaag, waar sy betyds teengif ontvang het.

Haar toestand het twee dae later vererger, waarna haar broer, Wynand, (31), met haar na Steve Biko-hospitaal gejaag het. Daar het haar intensiewe behandeling begin om te verhoed dat sy nie haar hand of arm verloor nie.

Sy is in die afgelope maand drie keer geopereer om dooie weefsel uit haar hand en arm te sny.

Die dokters is baie tevrede met Erasmus se vordering, veral aangesien die kans groot was dat sy haar arm kon verloor. “Die weefsel is stadig besig om oor haar senings te groei. Ek gaan volgende Donderdag terug hospitaal toe en sal dan heel moontlik ’n veloorplanting kry.”

Dit is hoe Elné se hand einde Januarie gelyk het (Foto: Verskaf)o

Sy moet tot dan ’n pleister dra wat die groei van die vleis en weefsel in haar hand stimuleer. Na die veloorplanting sal sy ook rehabilitasie vir haar hand moet ondergaan.

“Omdat dit my sterk hand is, moet ek weer leer skryf en my hand gebruik. Op hierdie oomblik kan ek nie my gewrig beweeg nie omdat daar nie nou vel oor is nie.”

Erasmus vertel sy kan nie veel van die eerste paar dae in die hospitaal onthou nie omdat sy drie keer per dag met morfien ingespuit is.

“Toe ek begin besef wat aangaan, was ek baie onseker oor of ek my hand of arm sou behou. Maar ten spyte daarvan het ek probeer positief bly.”

ʼn Dag voor sy ontslaan is, het die dokters erken dat sy baie amper haar arm verloor het.

Sy sê die verpleegsters en personeel in die hospitaal het haar tyd in die hospitaal ook makliker gemaak.

“Daar kleef altyd ’n stigma aan ’n staatshospitaal. Ek kan na my ervaring in Steve Biko sê dat ek nie met daardie stigma saamstem nie. Die verpleegsters het my ongelooflik ondersteun en kalm gehou.”

Erasmus vertel die vriendelike gesigte om haar het vir haar vertroosting gebring omdat haar ouers weens Covid-19 haar nie in die hospitaal kon besoek nie.

“In moeilike tye soek ’n mens juis jou ouers naby jou. Om jou te troos of net ’n drukkie te gee.”

Erasmus sê alhoewel die afgelope maand moeilik was, is sy tog dankbaar dat dit met haar gebeur het omdat dit haar geloof in God versterk het.

“Ek sou nie hierdie sonder die Here kon doen nie. Elke beproewing word oor jou pad geplaas om jou kans te gee om in jou geloof te volhard. Ek het nooit gevra waarom dit met my gebeur het nie. Ek het eerder gevra waarom juis nie ek nie?”

Omdat die gesin nie ’n mediese fonds het nie, is ’n noodfonds begin om geld in te samel vir die mediese uitgawes. Om ’n finansiële bydrae te lewer, stuur ’n e-pos na [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tanniepetoors

Sterkte op die pad vorentoe.

Willem

Jong dame in geloof is alles moontlik

Vlooitjie

Mooi pluimpie vir die hospitaal, goed om te hoor.

Sêmanet

Ek sou dit nie gemaak het nie. Ek hou daarvan om in die hospitaal te wees (vir die bederf en almal wat kloek ) maar 34 dae is ver te erg. Mens weet mos waar in jou kas is sekere goed, dan gryp jy net en doen nie ondersoek nie (jy verwag mos nie so iets nie). Ek doen so, maar as ek nou dink aan hoeveel goggies my al kon byt, word ek skoon senuagtig. Ek hoop sy gaan haar hand weer ten volle kan gebruik. NS: Hopelik het haar pa hulle die slang doodgemaak.