Jong vrou in hospitaal ná spoegkobra pik

Elné Erasmus (Foto: Verskaf)

“Sy was in skok. Die ergste van alles was die onsekerheid en vrees in haar oë.”

Só vertel Wynand Erasmus (31), broer van die 21-jarige Elné Erasmus, nadat sy Maandag deur ’n Mosambiekse spoegkobra in haar ouerhuis op hul plaas naby Thabazimbi in Limpopo gepik is.

Elné word tans in die Steve Biko- Akademiese Hospitaal in Pretoria behandel.

Wynand vertel die kobra het op ’n manier in Elné se klerekas beland. Toe sy ’n kledingstuk daaruit wou haal, het die slang haar op haar regterhand gepik.

“Ons verstaan nie hoe die slang in die huis ingekom het nie, want my ouers probeer al die nodige voorsorgmaatreëls tref. Hulle het honde en katte op die erf en daar is sif voor al die vensters in die huis. Die deure word ook altyd toegehou,” sê Wynand.

Elné se pa het terstond met haar na die Mediclinic-hospitaal in Thabazimbi gejaag.

“Sy was gelukkig binne ’n halfuur nadat sy gepik is, by die dokter.”

Wynand, wat op Thabazimbi woon, is plaas toe om te gaan vasstel watter soort slang haar gepik het sodat die dokters kon weet watter teengif sy moes ontvang.

“Sy het teengif gekry en die dokters en verpleegsters het wonderlike werk gedoen om haar lewe buite gevaar te kry.”

Elné het die Maandagaand in die intensiewesorgeenheid van die hospitaal deurgebring en is die Dinsdag na ’n gewone saal oorgeplaas.

’n Mosambiekse spoegkobra se gif is sitotoksies, wat beteken dat dit jou weefsel beskadig en dadelik pyn en swelling veroorsaak.

“Woensdagmiddag het haar toestand begin versleg en toe het ek met haar deurgejaag Pretoria toe. Die hospitaal in Thabazimbi het nie ’n slangbyt-afdeling gehad nie en sy het dringend mediese behandeling vir haar hand en arm nodig gehad.

“Met die hele Covid-19-situasie was die meeste hospitale in die stad vol. Ons het darem ’n plek vir haar in die Steve Biko-hospitaal gekry wat die regte behandeling kon gee. Ons het ook verneem dat dié hospitaal ’n goeie navorsingseenheid oor slangbyte het.”

Wynand sê Elné se toestand is bestendig, maar hulle is bekommerd oor haar hand en arm.

“Ons weet nie hoe groot die skade aan die weefsel is nie.”

Omdat die gesin nie ʼn mediese fonds het nie, is ’n fondsinsameling begin om geld in te samel vir die mediese uitgawes. ’n Gholfdag word ook Saterdag by die Thabazimbi-gholfklub ten bate van Elné gehou.

“Dit is wonderlik om te sien hoeveel mense reeds gehelp en bygedra het. Almal is so gewillig om te help. Dit was weereens ’n bewys van hoe kragtig gebed is.”

Wynand wil ook mense waarsku om bewus te wees van die werklike gevaar indien ’n slang jou pik.

“Ons was in die duister oor wat jy moet doen indien jy in so ʼn situasie beland. Die ergste is die uitwerking wat so ʼn traumatiese ervaring op jou as gesin het – die onsekerheid oor wat gaan gebeur en wat jy moet doen.

“Wat ons ook geleer het, is dat skok en vrees in só situasie jou ergste vyand is.”

Hy raai veral mense op plattelandse dorpe aan om opleiding te kry oor wat om te doen as ’n slang jou pik en om die nodige noodnommers byderhand te hou indien dit sou gebeur.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare911, het verlede jaar aan Maroela Media gesê slangbyte is dié tyd van die jaar baie algemeen.

Om ‘n bydrae te lewer, stuur ‘n epos na [email protected] 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Willem ·

Baie sterkte aan haar en die gesin. Ons dra julle almal in ons gebede

Nico ·

Baie sterkte vir julle. Ons glo en vertrou sy sal volkome herstel.

Conrad ·

“Dit is omdat slange se gif tydens somermaande die giftigste is omrede hulle tydens die winter hiberneer en genoeg gif opgebou het.”
Dit is absoluut vals.

Die stelling verwar moontlik kamer sake met die werklikheid.

Om ‘n lang storie kort te maak, koudbloedige of ektotermiese diere is bloot minder aktief wanneer temperature daal, soos byvoorbeeld gedurende winter maande, wat noodwendig beteken dat hul minder aktief sal wees gedurende die tyd.

Dit het absoluut niks met gif sterkte wat kwansuis hierdeur beïnvloed word uit te waai nie.

Sterkte aan die dame wat gebyt is. Ek glo dat haar behandeling geskied volgens die protokols wat gevolg word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.