Jong vrou in koma: ‘Sy was al ʼn wonderwerk’

Huibré van Zyl. Foto: Facebook

Huibré van Zyl. Foto: Facebook

Huibré van Zyl (21), die jong vrou van Schweizer-Reneke in Noordwes wat op 6 Junie ernstig beseer is nadat die motor waarin sy en vier vriende was buite Wolmaransstad gerol het, het sedert die ongeluk nog nie uit ʼn diep koma ontwaak nie.

Van Zyl is ernstig beseer toe sy en Petroné Gnade (18), Henk Terblanche (18), Wian Gagiano (18) en Barnardus Steyn (21) in die vroeë oggendure op pad terug was van Potchefstroom na Schweizer-Reneke. Corle Gnade, Petroné se ma, het vroeër gesê hulle vermoed al die insittendes het aan die slaap geraak.

Jennily Viljoen, Huibré se niggie, het Donderdag aan Maroela Media gesê die swelling en bloeding op Huibré se brein het ná ʼn week afgeneem, maar sy het beperkte breinfunksie. “[Die gedeelte van die brein wat] bloeddruk, asemhaling, ensovoorts, hanteer, toon wel tekens van breinfunksie,” het Jennily gesê.

“Die dokters het oor die naweek besluit om die medikasie vir haar bloeddruk, ensovoorts, te verminder sodat hulle kan agterkom watter [brein]funksies oor is, maar dit het nie goed gelyk nie. Die dokters het Maandag bevestig dat daar nie veel meer is wat hulle kan doen nie. Ons wag dus en kyk hoe sterk daai niggie van my is. Sy was al ʼn wonderwerk.”

Die motorongeluk is die tweede tragedie wat die jong Huibré die afgelope paar jaar getref het. Sy is ongeveer vyf jaar gelede in ʼn veldbrand vasgekeer en het ernstige brandwonde opgedoen.

“Sy is ʼn ongelooflike amazing mens wat soveel mense se harte aanraak oral waar sy gaan,” het Jennily gesê. “Almal wat haar al ontmoet het sal met my saamstem, ʼn mens kan nie help om te glimlag as jy aan daardie jolly mens dink nie. Sy wil net almal om haar laat lag!”

Volgens Jennily het die familie ongelooflike ondersteuning ontvang sedert die ongeluk gebeur het. “Ons wil net dankie sê vir almal se oproepe, kuiertjies en gebede. Dit beteken vir ons baie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Byt vas ·

Byt vas Huibre byt vas – jou mamma en dadda wag vir jou – hulle weet jy gaan gesond word want God se hand is oor jou. Kom uit daai koma uit.

Berhalet Beukes ·

Met God is niks onmoontlik nie…. Kom Huibré, jy kan… Ons almal bid vir jou!

Saloom ·

Huibs-masjien… jy het al , jy sal weer. Byt vas maat. Ons mis jou.

hoop25 ·

Ou huibre is vanoggend oorlede..ons weet God is saam die familie in hierdie swaar tyd..

wilma venter ·

Dit is met diepe hartseer dat Ons almal moet meedeel dat Huibre gisteroggend oorlede is.
RUS IN VREDE OUNOOI….Jou stem is still, dit was God se Wil…

wilma venter ·

RUS IN VREDE OUNOOI….Jou stem is still, dit was God se Wil…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.