ʼn 20-jarige vrou is Woensdag in die vroeë oggendure in haar huis glo met ʼn baksteen doodgeslaan.
Kol. Thembeka Mbele, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 01:00 in Winstonpark in Hillcrest, KwaZulu-Natal, plaasgevind.
“Die vrou en ʼn 30-jarige man, met wie sy in ʼn verhouding is, het na bewering omstreeks 01:00 ʼn geskil gehad. Die vrou het tydens die voorval die man met ʼn skerp voorwerp in sy maag gesteek,” het Mbele gesê.
“Die man het glo ʼn baksteen gevat en die slagoffer daarmee aangerand.”
Paramedici van ER24 het die vrou op die toneel dood verklaar.
“By paramedici se aankoms op die toneel is die vrou in ʼn plas bloed aangetref. Sy het ʼn ernstige kopbesering gehad en geen tekens van lewe getoon nie,” het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, gesê.
Volgens Mbele het paramedici die man op die toneel behandel voordat hy deur die polisie in hegtenis geneem is.
Die man moet binnekort in die hof verskyn op aanklag van moord.
Die rede vir die rusie is onbekend en word ondersoek.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
18 Kommentare
As jy my gaan steek in die maag, gaan ek my self verdedig met enige iets wat ek aan die hande kan kry.
Klink vir my soos selfverdediging.
@KR ek stem saam as jy kan uitdeel moet jy kan ontvang ook
Dis net vir my verstommend hoe goedkoop ‘n lewe geword het, en dit maak my regtig hartseer. Daar’s oral konflik en haat onder mekaar oor somtyds regtig kleinlikhede.
Ons het ‘n baie siek gemeenskap geword, en ek sien nie gou lig in hierdie donker tonnel nie.
Die SAPD moet geen steen onaangeroer laat nie.