Jong vrou se lyk in stroom gekry

‘n Polisiebeampte op die toneel. Foto: Verskaf

ʼn 23-jarige vrou se liggaam is Maandag in ʼn stroom in die Groenfontein-boerderygebied buite Heidelberg gevind nadat sy Vrydag vermis geraak het.

Kol. Amanda Viljoen, stasiebevelvoerder van die Heidelberg-polisie, het gesê die vrou is Vrydag omstreeks 16:00 die laaste keer gesien toe sy na haar kêrel in die omgewing gestap het.

“Sy het vermoedelik ʼn stroom wat in vloed was, oorgesteek en was nie bewus van hoe sterk die water vloei nie. Sy is glo deur die vloedwater meegesleur en het verdrink,” het Viljoen gesê.

Haar familie het Saterdag ʼn vermistepersoon-saak by die Heidelberg-polisie aanhangig gemaak en ʼn soektog na haar is van stapel gestuur.

“Beamptes van die Benoni-watervleuel is ontbied en het Saterdag en Sondag sonder welslae na haar gesoek. Haar liggaam is Maandag omstreeks 10:00 ná ʼn deeglike soektog in die stroom gevind en uit die water gehaal.”

Die vrou se oupa het die polisie geloof vir hul poging om sy kleinkind op te spoor. Die polisie doen ʼn geregtelike ondersoek.

Viljoen het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om nie riviere of strome ná swaar reënval oor te steek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.