Jong vrou twee keer in voertuig geskiet

Argieffoto

ʼn Jong vrou van Port Elizabeth veg om haar lewe in ʼn plaaslike hospitaal nadat sy die afgelope naweek twee keer tydens ʼn mislukte rooftog geskiet is.

Kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, het Woensdag aan Maroela Media gesê die 21-jarige vrou was saam met haar 36-jarige vriend om voorraad vir hul sakeonderneming by ʼn plaaslike kuierplek op te laai toe die voorval plaasgevind het.

“Die onderneming doen spysenering vir funksies en verhuur ook voorraad uit. Die 36-jarige man het Sondag omstreeks 07:30 by ʼn taverne in Motherwell stilgehou om van hul toerusting wat daar gehuur is, in ʼn vragmotor in te laai,” het Beetge gesê.

Volgens Beetge het die man uit die vragmotor geklim en die perseel binnegegaan terwyl die vrou in die geslote kajuit van die vragmotor bly wag het.

“Vier mans, waarvan een met ʼn vuurwapen gewapen was, het die vragmotor genader en probeer om die deure op te maak. Ons vermoed hulle wou geld steel. Een van die verdagtes het een van die kantruite uitgeslaan in ʼn poging om toegang tot die kajuit te kry.”

Die 36-jarige man het intussen die geraas gehoor en is na buite om ondersoek in te stel, waarna een van die verdagtes op die vrou geskiet en haar in haar bors en maag gewond het. Hulle het met leë hande op die vlug geslaan.

“Die vriend het met die vrou na ʼn nabygeleë hospitaal gejaag waar sy opgeneem is. Sy was teen Dinsdag in ʼn stabiele toestand in die hoësorgeenheid en moes nog ʼn operasie ondergaan om ʼn koeël in haar bors te verwyder.”

Die polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord en poging om te roof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Beetge het gesê op versoek van die slagoffers moet hul name weerhou word uit vrees vir hul veiligheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

PTM ·

Onmiddellik poging tot moord . hoekom nie ook poging tot moord as plaasboere aangerand en gemartel en geskiet word nie .. werk julle syfers dan nie lekker uit nie of wat? Ek hoop die arme vrou herstel volkome .. ek stem vir ‘n poging tot moord saak en ek hoop hulle keer die skuldiges aan, ek wens net alle aanvalle kan oor dieselfde kam geskeer word.

Oom Kalahari ·

So hou die misdaad daagliks aan en onskuldige en hardwerkende mense word die slagoffers en kriminele leef te lekker. Wens die vrou alle sterkte toe tot herstel en hoop jy sal hierdie sinnelose daad kan verwerk.

Alida ·

Genade wat gaan aan in PE? Is die SAPD sigbaar en ry hulle rond wonder mens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.