Jong vrou vasgekeer toe motor in dam beland

Die Hartbeespoortdam in Noordwes. (Foto ter illustrasie: NSRI via ANA)

ʼn Jong ma van Centurion is Maandagaand dood toe haar ligte voertuig in die Hartbeespoortdam in Noordwes beland het.

Die vrou is intussen deur polisie as Nonhlanhla Dlamini (29) geïdentifiseer.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê alle pogings is aangewend om die Dlamini se lewe te red nadat NSRI-reddingswemmers haar uit die voertuig in die water gehaal het.

Volgens Lambinon het reddingswerkers aanvanklik gedink dat die vrou se baba saam met haar in die motor was en moontlik in die water vermis word.

“Geen teken van ʼn baba is egter in of om die voertuig gevind nie. Die polisie het later bevestig dat die baba veilig by die ouers van Dlamini se lewensmaat is,” sê Lambinon.

Kol. Adele Myburgh, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n karstoeltjie in die motor was en vandaar die vrees dat ’n baba ten tyde van die ongeluk teenwoordig was.

Die omstandighede wat tot die voorval gelei het, kon egter nog nie bevestig word nie.

Myburgh sê die polisie doen tans ’n geregtelike doodsondersoek.

*Hierdie berig is aangepas sedert publikasie. – Red

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.