Jong vrou vertel van Parys-aanvalle: ‘Ek het in vreemdelinge se bloed gelê’

Isabel Bowdery. Foto: Facebook

Isobel Bowdery. Foto: Facebook

’n 22-jarige vrou het beskryf hoe talle mense reg voor haar doodgeskiet is en hoe sy in die bloed van vreemdelinge gelê het terwyl sy gemaak het of sy dood is tydens ʼn musiekkonsert in Parys.

Isobel Bowdery, wat aan die Universiteit van Kaapstad studeer het, het in ʼn Facebook-inskrywing vertel sy het Vrydagaand gedink haar lewe is verby. Bowdery was by ʼn rockkonsert by die Bataclan-teater toe gewapende aanvallers skielik op die skare losgebrand het.

“Jy dink nooit dit sal met jou gebeur nie. Dit was net ʼn Vrydagaand by ʼn rockkonsert. Die atmosfeer was so gelukkig en almal het gedans en geglimlag. Dit is toe dat die mans deur die voorste ingang inkom en begin skiet. Ons het almal naïef geglo dit is als deel van die vertoning.”

Bowdery het die foto van haar bebloede klere gedeel.

Bowdery het die foto van haar bebloede klere gedeel.

Volgens Bowdery was dit nie net ʼn terrorisme-aanval nie, maar ʼn slagting. “Dosyne mense is reg voor my doodgeskiet. Die vloer was vol poele bloed. Die geskreeu van volwasse mans wat hul meisies se lyke vasgehou het, het die klein musieklokaal deurboor. In ʼn oomblik was toekomste weg en families se harte gebreek. Geskok en alleen het ek vir langer as ʼn uur gemaak of ek dood is. Ek het langs mense gelê wat kon sien hul geliefdes beweeg nie. Ek het my asem opgehou en probeer om nie te beweeg of te huil nie – om nie vir daardie mans die vrees te gee wat hulle wou sien nie.”

Bowdery het gesê sy was ongelooflik gelukkig om te oorleef terwyl soveel ander nie het nie. “Hierdie wêreld is wreed. Dade soos hierdie is veronderstel om die verdorwenheid van die mens te beklemtoon en die beelde van daardie mans, wat soos aasvoëls om ons gesirkel het, sal vir die res van my lewe by my spook. Dit het nie werklik gevoel nie. Ek het enige oomblik verwag dat iemand vir my gaan sê dit was net ‘n nagmerrie.”

Bowdery het kort na die aanvalle die foto opgelaai.

Bowdery het kort na die aanvalle die foto opgelaai.

Bowdery het in die Facebook-inskrywing, wat wyd op sosiale media gedeel is, hulde gebring aan die “helde” van daardie aand. “Aan die man wat my gerusgestel het en sy lewe op die spel geplaas het om my te beskerm, aan die paartjie wie se laaste woorde van liefde my steeds laat glo het dat daar goedheid in die wêreld is, aan die polisie wat daarin kon slaag om honderde mense te red, aan die vreemdelinge wat my opgetel en getroos het vir die 45 minute wat ek gedink het die man wat ek lief het, is dood.”

Volgens Bowdery is daar niks wat ooit die pyn sal kan wegvat nie. “Terwyl ek in die bloed van vreemdelinge gelê en wag het dat ʼn koeël my 22 jaar tot ʼn einde moet bring, het ek elke gesig gesien wat ek ooit liefgehad het en saggies oor en oor gefluister ek is lief vir jou. Gisteraand [Vrydagaand] het die lewens van talle vir altyd verander en dit is ons plig om beter mense te wees en lewens te lei waaroor die onskuldige slagoffers van die tragedie gedroom het, maar nou ongelukkig nooit sal kan vervul nie. RIV engele. Julle sal nooit vergete wees nie.”

Klik hier vir alle vorige berigte oor die Parys-aanvalle op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Genis ·

Ai, en die slagoffers kon hulself nie eers verdedig nie, want Parys is ‘n vuurwapen vrye sone. Donald Trump praat die waarheid as hy sê die prentjie sou bietjie anders gelyk het as die slagoffers bewapen was.

HEVW ·

Hierdie ervaring word bykans daagliks hier in ons midde beleef.

Jakoba ·

Ek stem saam HEVW. Daagliks gebeur dit in Suid Afrika en niemand toon enige simpatie in die wye wereld nie, maar nou maak die moorde in Frankryk oor die wereld groot opslae omdat so baie mense op een slag vermoor is op een dag in Frankryk. Dit is ‘n vreeslike tragedie en my hart gaan uit na al die families wat ‘n geliefde/s verloor het. Mag God ons almal genadig wees. Mag God die moordenaars in die hel werp, hulle skuil agter hulle galoof om ander te vermoor. God sal nooit so ‘n opdrag gee nie. Dit kom van Satan homself

rietrot ·

Die lewe is kosbaar, die selfde hartseer en vra is nou op die harte van talle mense. Selfde as by ons as ons die nuus sien, en moet aanskou hoe monsters ons geliefdes vertrap, vermoor en pynig. Dit maak mens rou van frustrasie… Maar dit is geskrywe wat sal kom met die tye en wat nog moet kom. Bewaar ons harte teen haat en wraak. Beskou dit vir wat dit is…

Sue ·

Waarom kan die Islamiete hulle nie by hul eie lande bEpaal nie. Waarom moet hul altyd inmeng?
Ek verstom my dat daar komentare is wat hierdie tereur aanval met ZA politiek kan verwar. Dit is onmenslik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.