ʼn Jong Vrystaatse boer se liggaam is Maandagoggend op ʼn plaas buite Reitz gevind nadat hy sy eie lewe geneem het, glo weens die dood van sy pa.
Thiou Lourens (22) se liggaam is vroeg die oggend deur ʼn werker in ʼn motorhuis aangetref. Hy het homself geskiet.
Sers. Sinah Mpakane, woordvoerder van die polisie, het gesê polisiebeamptes is omstreeks 06:15 na die plaas Oranjefontein ontbied. “Die oorledene het Maandag om 01:30 vir die laaste keer telefonies met iemand gepraat. Hy moes dus tussen 01:30 en 06:00 selfmoord gepleeg het,” het sy gesê. ʼn Geregtelike doodsondersoek is begin.
Thiou, wie se volle name Marthinus Jacobus is, het saam met sy oom, Marius Lourens, op die plaas geboer. Marius het aan Maroela Media bevestig Thiou het ʼn brief agtergelaat, maar wou nie uitbrei oor die inhoud van die brief nie. Hy het wel bevestig dat die dood van Thiou se pa in ʼn motorongeluk 13 jaar gelede bygedra het tot sy besluit om sy eie lewe te beëindig.
Intussen het boodskappe van vriende en familie van Thiou op sosiale media ingestroom. Hy is beskryf as ʼn opregte mens wat baie gelag het en mal was oor boer, jag en die buitelewe.
ʼn Gedenkdiens vir Thiou sal Maandag om 11:00 in die Reitz-Moedergemeente gehou word. Hy sal langs sy pa begrawe word.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
4 Kommentare
ai wat ‘n tragedie so jammer vir die familie.ons het jong boere so nodig
Ag te hartseer man… rus in vrede ouboet…heeltemal te jonk om te sterf..ai..
My hart bloei vir die familie…
Daar is soveel vrae en selfverwyd wanneer iemand na aan jou sy of haar lewe neem.