Jong Vrystaat-vrou in motor doodgeskiet

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Jong vrou van Sasolburg is Maandag dood toe sy agter die stuurwiel van haar motor geskiet is.

Sers. Sellwane Mapamela, woordvoerder van die polisie, het gesê Patricia Mokoena (22) het omstreeks 19:20 in haar swart Chevrolet-bakkie in DF Malanstraat gery. ʼn 54-jarige man was saam met haar in die bakkie.

“Toe hulle net verby die vulstasie in die straat ry, het ʼn silwer VW Polo verskyn en hulle van die pad af probeer dwing. Mokoena het beheer oor die bakkie verloor en teen ʼn struktuur gebots,” het Mapamela gesê. “Die insittendes in die Polo het met vuurwapens op Mokoena losgebrand en sy is noodlottig gewond. Sy is op die toneel dood.”

Die Polo het saam met ʼn Toyota-minibus van die toneel weggejaag. Volgens Mapamela is die bakkie se passasier in die hospitaal opgeneem met geringe kopbeserings, maar hy is later weer ontslaan.

ʼn Saak van moord word ondersoek, maar geen motief is in hierdie stadium bekend nie. “Die polisie versoek enigiemand met meer inligting om die ondersoekbeampte, kapt. Mbuyiswa Jack, by 076 669 5587 of 016 973 2192 te kontak,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.