Jong wetenskaplike sterf ná beweerde gaslek

Ndoni Mcunu het saam met vriende vir die naweek by die Wieg van die Mensdom in Krugersdorp gekuier toe sy dood is. (Foto: Verskaf)

Ndoni Mcunu, een van Suid-Afrika se voorste jong wetenskaplikes in klimaatsverandering, is Saterdag oorlede ná ’n beweerde gaslek by die Wieg van Mensdom in Krugersdorp aan die Wes-Rand. Sy het saam met vriende daar vir die naweek weggebreek.

Volgens Nobuntu Hlazo-Webster, die familie se woordvoerder, het die polisie die familie in kennis gestel dat ’n gaslek by die verblyfplek die waarskynlike oorsaak van Mcunu se dood is. Die familie wag nog vir die amptelike nadoodse ondersoekverslag.

Hlazo-Webster sê die familie is hartgebroke en probeer sin maak van die tragedie.

“Die familie soek antwoorde, wat ek glo vir hulle die nodige berusting sal gee,” het Hlazo-Webster aan Maroela Media gesê.

Behalwe dat Mcunu haar as omgewingswetenskaplike bekwaam het, was sy ook die stigter van die nie-winsgewende organisasie Black Women in Science. Dié organisasie is daarop gemik om kennis en bewustheid van wetenskap aan vroue in landelike gebiede te verskaf en opkomende vroulike navorsers aan navorsingsgeleenthede bloot te stel.

Maroela Media het ’n navraag aan die polisie en die Wieg van die Mensdom oor die voorval gerig, maar wag nog vir terugvoer.

Baanbrekerswerk in klimaatsverandering

Mcunu was besig met haar PhD-graad in klimaatsverandering en landbou by die Global Change Institute aan die Universiteit van die Witwatersrand. Sy het in haar studie op klimaatsverandering en voedselstelselbeleid gefokus.

Sy was ook mede-outeur van die Greenpeace International‑ en Greenpeace Africa-verslag oor uiterste weergebeure en klimaatsverandering in Afrika. Die verslag, getiteld “Weathering the Storm: Extreme Weather and Climate Change in Africa”, wat in 2020 vrygestel is, het voorspel dat toekomstige gemiddelde temperature teen ’n tempo vinniger as die globale gemiddelde in alle verwarmingscenario’s sou toeneem.

Die Nederlandse ambassade het haar as een van die top‑50 inspirerendste vroue in tegnologie in Suid-Afrika gelys.

Volgens dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, wetenskap en tegnologie, het Suid-Afrika ’n baken van hoop vir die waarde van wetenskap in die samelewing verloor.

“Met meer as tien jaar se ondervinding, sal haar werk in klimaatsverandering en leierskap in die ontwikkeling van vroue vir ewig voortleef.”

Nederig, liefdevol

Volgens Hlazo-Webster het Mcunu nederig gebly ondanks al haar prestasies en toekennings.

“Sy was die nederigste en mees liefdevolle mens wat ek geken het. Sy sou jou ’n duisend keer op ’n dag vertel hoe lief sy vir jou is,” het Hlazo-Webster gesê.

Volgens Hlazo-Webster was Mcunu van kindsbeen af toegewyd en ’n harde werker. “Sy het nog altyd geweet wat sy wil hê.”

’n Gedenkdiens word Vrydag in Sandton vir Mcunu gehou en sy sal Saterdag in La Lucia, Durban, neergelê word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Mariaan ·

Dis tragies! Dis tyd dat lodges ens verantwoordelik gehou word vir die gebeure..hulle moet sorg dat hul toebehore ens gereeld nagegaan word…dis nou al n paar gevalle soos die…HEELTEMAL ONNODIG

Kerrie ·

Chemtrails elke dag in die lug oor ons plase en dorpe…droogte hier en vloede op ander plekke soos hulle spuit en die weer beheer….kyk op.

Sarie ·

Shhht. Mense wil dit nie weet. Dit shatter hulle comfort zone

KatjieDeKat ·

Ag nee, dis baie hartseer! My innige simpatie met haar geliefdes. Watter verlies vir ons land ook. Tragies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.