Jonges by die duisende ingeënt

(Foto ter illustrasie: Unsplash)

Meer as ʼn halfmiljoen mense tussen 18 en 34 jaar oud is die afgelope week teen Covid-19 ingeënt.

Só het dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, Vrydag by die departement se weeklikse nuuskonferensie oor dié pandemie gesê.

Die regering se inentingsprogram is verlede Vrydag ook aan dié ouderdomsgroep oopgestel wat beteken dat enigiemand bó 18 nou die entstof kan ontvang.

Phaahla sê meer as 560 000 jong mense in dié ouderdomsgroep het in die eerste dag op die regering se aanlynstelsel vir die inenting geregistreer terwyl 81 000 op dié dag ingeënt is.

“Teen Donderdag (gister) is 158 000 mense in dié ouderdomsgroep in Gauteng ingeënt, gevolg deur 106 000 in die Wes-Kaap, 83 000 in KwaZulu-Natal, 42 000 in Limpopo, 37 000 in die Oos-Kaap, 35 000 in Mpumalanga, 23 000 in Noordwes, 22 000 in die Vrystaat en 8 000 in die Noord-Kaap.”

Hoewel Phaahla meen die reaksie van dié ouderdomsgroep is “oorweldigend”, sal dit waarskynlik nog lank neem voordat die land kudde-immuniteit bereik, aangesien daar nog verskeie vlae van die virus verwag kan word.

Volgens Phaahla het die regering voorstelle van “invloedryke mense in die samelewing” ontvang dat die regering ʼn verpligte inentingsbeleid moet oorweeg.

“Ons prioriteit is om te verseker dat alle gewillige volwasse Suid-Afrikaners eerste ingeënt word. Eers dan kan ons ander voorstelle oorweeg.”

Phaahla sê die departement is ook bewus van besprekings oor ʼn moontlike Johnson & Johnson-aanvulling (booster) en dat dié kwessie na die ministeriële advieskomitee (MAC) oor entstowwe verwys is.

Kommer oor syfers in die Wes- en Noord-Kaap

Phaahla sê daar was die afgelope week slegs ʼn 2,2% afname in positiewe gevalle in die land, wat nie baie goeie nuus is nie.

“Daar is egter minder hospitaalopnames die afgelope week aangemeld wat die las op die gesondheidsektor effens verlig.”

Hy sê die wisseling van gevalle in veral die Wes-Kaap en Noord-Kaap is egter kommerwekkend.

“Dié twee provinsies het ʼn algehele positiwiteitskoers van onderskeidelik 27% en 30% terwyl die res van die land ʼn algehele positiwiteitskoers van 19% toon.

“Boonop toets al hoe meer jong mense tussen tien en 19 jaar oud positief vir Covid-19 in dié twee provinsies.”

Phaahla sê dit kan waarskynlik tot ʼn mate aan die oopmaak van skole toegeskryf word, maar dat sosiale aktiwiteite soos partytjies en byeenkomste die grootste rol in die verspreiding van die virus onder jong mense speel.

Die aantal nuwe virusgevalle in Gauteng hou egter aan daal, wat volgens Phaahla baie positief is.

Meer as 11 miljoen reeds ingeënt

Volgens Phaahla lyk die situasie rondom die beskikbaarheid van entstowwe in Suid-Afrika, die volhoubare kapasiteit om inentings toe te dien en die algehele aanvraag na die entstof baie belowend.

Luidens statistieke is minstens 11 648 581 mense tot dusver in die land ingeënt. Dit dui op ʼn toename van bykans 1,5 miljoen inentings oor die afgelope week.

Phaahla sê meer as vyf miljoen mense is nou volledig ingeënt, wat beteken dat hulle die eerste J&J-entstof of albei dosisse van die Phizer-entstof ontvang het.

Phaahla sê voorts die gaping tussen die getal vroue teenoor die getal mans wat vir die inenting aanmeld, het ook verklein.

“Meer as 240 000 mense het sedert Vrydag elke dag vir inentings aangemeld. Woensdag en Donderdag is onderskeidelik 268 000 en 265 000 mense ingeënt.

“Die regering het nou die kapasiteit om 300 000 mense per dag in te ent.”

Phaahla het ʼn beroep op jong mense gedoen om hul ouer gesinslede en kennisse aan te moedig om ook die inenting te ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.