Jonges leer oor herkoms by nuwe sentrum

Funda Ontdekkingsentrum (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Om jongmense te onderrig en bewus te maak van hul erfenis en dié van die wye verskeidenheid kulture in Suid-Afrika, was nog altyd een van die kerndoelwitte van die Voortrekkermonument. En nou spog die monument met ʼn splinternuwe “ontdekkingsentrum” wat gebruik word om presies dit te doen.

“Ek persoonlik kan nie insien hoe dat ’n mens deur die lewe kan gaan sonder om te weet waar jy vandaan kom nie,” sê Cecilia Kruger, besturende direkteur van die Voortrekkermonument. “Jou geskiedenis en erfenis en wat vir jou nagelaat is in terme van jou waardes en hoe jy oor die algemeen na die lewe kyk, is van kritieke belang. Dit is ons verantwoordelikheid om ons kinders op te voed sodat ons kultuur nie versaak word nie.”

Kruger vertel die Funda Ontdekkingsentrum het op 25 April vanjaar op die terrein van die Voortrekkermonument in Groenkloof, Pretoria, oopgemaak. Dié sentrum is grootliks moontlik gemaak deur befondsing van die Nasionale Loterye-kommissie en die Trust vir Afrikaanse Onderwys.

Die Funda Ontdekkingsentrum is ’n multikulturele en multifunksionele sentrum wat skoolgroepe kan besoek om kennis en leermateriaal deur selfontdekking en studie te bekom wat aanvullend is tot die nasionale en private skole se kurrikulums.

Die naam “Funda” word afgelei van die begrip “fundamentele”, wat beteken om te vestig, ʼn fondament te lê, of iets te bevestig, verduidelik Kruger. Die term “Funda” het ook in verskeie Afrika-tale met die konsep van leer te make.

Funda Ontdekkingsentrum uitstalling (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Johan Nel, hoof van die erfenishulpbronbestuur wat al sedert 2000 betrokke is by die verskeie aspekte van die erfenishulpbronbestuur, het Maroela Media stap vir stap deur dié sentrum geneem.

Die Funda Ontdekkingsentrum bestaan uit drie hoofareas, naamlik die ouditorium, die foyer en die hoofuitstalsaal, asook die opelug-area waar skoolgroepe tradisionele aktiwiteite kan aanpak soos onder meer broodbak.

In die foyer word die onderskeie skoolgroepe ontvang en na die verskeie punte van die sentrum toe geneem, afhangende van watter leerplan-temas hulle wil bespreek.

In die ouditorium kan skoolgroepe ’n visuele inleiding van die betrokke leerplan-tema ontvang. Hier word die baie vroeë geskiedenis van Suid-Afrika vir leerders uitgebeeld met die fokus op die Vroeë Steentydperk, die Middelsteentydperk en die Latere Steentydperk. Daar word ook omvattend aandag aan die Khoi- en Boesmanrotskuns gegee.

Hoofuitstalsaal (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

In die hoofuitstalsaal word skoolgroepe op ’n ontdekkingsreis geneem waar die oorsprong en kulturele verskeidenheid van Suid-Afrika aan die hand van breë temas soos nasionale simbole, voedsel, kleredrag, nedersetting, en materiale (hout, metaal, leer, gras, klei, keramiek en glas) verduidelik word. Die verskillende temas skakel by mekaar in.

“Die hoofuitstalsaal word in werklikheid ʼn klaskamer, waar die onderwyser leerders kan onderrig met behulp van oorspronklike voorwerpe, replikas, historiese foto’s, visuele materiaal en geskrewe inligting oor temas wat nie noodwendig in skole hanteer word nie,” verduidelik Nel.

Hy beklemtoon dat die hoofuitstalsaal nie ʼn museum is nie, maar eerder ʼn opvoedkundige uitstalling.

Die kruks van die uitstalling is om inligting baie neutraal te stel en weg te beweeg daarvan om een kultuur met ’n ander kultuur te vergelyk of te kontrasteer. “Met hierdie ontdekkingsentrum hoop ons om ’n nuwe era in opvoedkundige programme buite die klaskamer in te lei,” sê Kruger.

Die Funda Ontdekkingsentrum speel ook ʼn groot rol om die jeug te bereik en so ’n bewusmaking te skep van hoe belangrik die bewaring van erfenis vir die jeug se toekoms is. Met die oprigting van die sentrum probeer hulle ook om kinders op ’n ander manier na die Voortrekkermonument te lok en slaag sodoende daarin om die monument as erfenisterrein relevant te hou.

Skoolgroepe kan vooraf bespreek om die Funda Ontdekkingsentrum te besoek deur 012 326 6770 te skakel of ʼn e-pos aan [email protected] te stuur.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Disselboom ·

Dit moet goed wees, want dis deels deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys gefinansier.

Andreas ·

Maroela, is daar nie ‘n webwerf van die Erfenisstigting (Funda ontdekkingssentrum) waar mens hierdie inligting van die land se geskiedenis oor die internet kan naslaan nie?

Leonard van der Dussen ·

@Disselboom se skerp opmerking: Dis ongelukkig waar dat die ewolusie en dinge soos Steentydperke en dat die mens daarin oor miljoene jare “ontwikkel” het ook in Afrikaans verkondig kan word. Dis ongelukkig ook so dat daar deesdae ‘n vasklou aan Afrikaans is asof dit ‘n reddingsmiddel kan wees, wat ook waar sou kon wees as Afrikaans weer eerstens ‘n taal word wat trots daarop is dat die versnel is om die Bybel daarin te kon vertaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.