Jonggetroude tydens besigheidsroof doodgeskiet

rowersMandie Jansen van Rensburg is skaars vier maande na haar troudag tydens ʼn rooftog op haar kleinhoewe in Kroondal, buite Rustenburg in Noordwes, doodgeskiet.

ʼn Woordvoerder van die Staan Saam Rustenburg Buurtwag (SSRB), wat ná die aanval op die toneel was, het Woensdag aan Maroela Media gesê Jansen van Rensburg (51) het ‘n drankwinkel en skrootwerf vanaf haar kleinhoewe bedryf. Sy was glo besig om die skrootwerf se kantoor te sluit toe gewapende mans haar daar oorval en twee keer in die kop geskiet het. “Jansen van Rensburg is in Februarie getroud. Haar man was nie tydens die aanval op die perseel nie, hy was hartgebroke toe hy na die tyd daar aangekom het,” het SSRB gesê.

Sers. Kealeboga Molale, ʼn polisiewoordvoerder, het die voorval aan Maroela Media bevestig. “Die vrou was omstreeks 18:30 deur twee gewapende mans oorval toe sy haar sakeperseel wou sluit,” het Molale gesê. “Hulle het die vrou naby die toonbank aangetref en haar noodlottig gewond. Sy is op die toneel dood. Haar aanvallers is vandaar na ʼn kantoor waar hulle ʼn werknemer van ʼn onbekende hoeveelheid kontant beroof het. Hulle het gevlug.”

Molale sê die polisie ondersoek ʼn saak van moord en sakeroof. Niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie. Die polisie versoek enigiemand wat meer inligting het oor die voorval om die ondersoekbeampte, ao. George Brander, by 082 338 3070 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.