Jongman bid vir boere op tog deur SA

Siya Simelane-Swart stap van Ermelo tot Kaapstad om mense hoop te bring (Foto: Facebook/Nicholas Jaco Swart)

“God het my geroep om vir mense oor die hele Suid-Afrika hoop te bring.”

Só sê die 19-jarige Siya Simelane-Swart wat in April besluit het om sy stapskoene af te stof en die lang pad van Ermelo in Mpumalanga tot Kaapstad te voet aan te pak.

Siya stap al sowat vyf maande stoksielalleen al langs die Suid-Afrikaanse kus met die doel om vir elke plaasboer en sy plaasgrond wat hy verbygaan te bid vir reën, veiligheid en welvaart. Hy bring ook hoop vir mense wat hy op sy reis raakloop deur vir hulle te bid en hulle te inspireer met sy storie.

“Ek het besluit om elke tree ter ere van God te gee,” vertel hy aan Maroela Media.

Hierdie geesdriftige jongman vertel dat hy as veldwagter op ’n wildreservaat gewerk het toe God hom as prediker roep om die evangelie te verkondig. Dit is tóé dat hy besluit het om met net die klere aan sy lyf in die pad te val en te antwoord op sy roeping.

“Al wat ek wil doen, is om vir mense te bid en hulle weer hoop te gee.”

Siya vertel dat die staptog tot dusver allermins maklik is en dat hy al deur talle uitdagings in die gesig gestaar is. Hy is tydens sy reis al ses keer beroof en moes met tye vir sy lewe veg. Snags moes hy meestal langs die pad op die harde grond slaap.

Ondanks dié uitdagende omstandighede het sy geloof hom gehelp om vas te byt. “God is goed vir my. Ek wil deur my staptog vir mense wys dat moeilike tye ook tot ’n einde kom. Net soos myne.”

Deur al Siya se struikelblokke langs die pad, onthou hy veral die barmhartige samaritane wat oor sy pad gestuur is.

Siya se geloof het om gehelp om vas te byt (Foto: Facebook/Nicholas Jaco Swart)

Sommige aande het Siya by mense oorgeslaap wat hom sonder vrae by hul huis ingelaat het. “Mense het hul huise en harte vir my oopgemaak.”

Hy onthou veral vir Eugene van der Walt wat tussen Stilbaai en Witsand oor sy pad gekom en hom slaapplek en ’n rygeleentheid gegee het.

“Ons het mekaar geïnspireer met ons geselsies. Hy het die aand vir my slaapplek betaal by ’n hotel langs die Breederivier,” vertel Siya.

“Ek het ook op my tog besef dat jy nie geld nodig het om gelukkig te kan wees nie.”

Met meer as 100 km wat nog voorlê, het Siya geleer dat daar meer goedheid in mense skuil as wat ons besef. Hy het wonderlike mense op sy pad ontmoet en ook besef hoeveel mense ’n motiverende woord in vandag se moeilike lewe nodig het.

Die pad vorentoe is nog onbekend, sê Siya, maar ál wat hierdie geesdriftige jongman weet, is dat hy sy hele lewe lank die goeie boodskap van God wyd en syd wil versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

45 Kommentare

Erika ·

Wens daar was meer van hierdie mense dan sou SA ‘n beter land gewees het, maar ons mense het ophou bid en glo! Sibiya hoop dit gaan goed met jou ons bid saam met jou vir ons land en boere!

Leana ·

Ek haal my hoed af vir Siya af. Ons het meer sulke mense in SA nodig. Gebed is ‘n kragtige wapen.

Chantel ·

Dit is absoluut wonderlik wat die jong man doen. God bless you!!!!!

$ ·

Siya, mag jy die seëninge wat jy uitdeel honderdvoudig terugontvang.

Ons is trots op jou – veral oor die boodskap waarvoor jy die tog aangepak het; om die goeie boodskap van God (en Jesus!) wyd en syd te versprei. Suid-Afrika het dit so nodig.

john langenhoven ·

Die jong man se lewe is op die regte pad, sterkte en voorspoed en dankie dat jy vir ons boere opstaan.

CHAPPIES ·

WENS…daar kán méér mense,soos JÝ wees,Siya…!!!!
Wat swart,geel,pienk,blou en WÍT is, wat ééder wil BEGIN BID en ophou twak praat en dood spreek oor SA!

Marita Blignaut ·

Dankie Heer vir hierdie jongman wat U gebruik as voorbeeld vir almal in hierdie mooi land.

Suzelle ·

Sooooo amazing! Ek wens ook daar kan nog van hom in die land wees om vir ons land se boere te bid. Aan die wat geen goeie komentaar kan gee nie, moet asb eerder niks se nie, terwyl jy elke aand na n warm huis met lekker kos huistoe gaan, stap die man die land plat om vir ons mense te bid, iets wat ons nie eens waag om te doen nie, want ons is te bang vir aleen stap. Maar iets wat die man nie alleen doen nie is alleen bid…

Denise ·

WONDERLIK siya, jyt GUTTTS wat min mense het,baie SEËN vir jou

Maria ·

Siya Swart my self gese gaan weer kommentaar gee in maroela nie maar vir jou sal ek en sal vir jou spesiale more op my hart gebed plaas dit verseker….. met n smile. Dankie jy is getrou aan jou vader Here en mag Here jou op die pad baie seen…dankie met blye hart ons boere het dit nodig en waardeer opreg min sal so iets doen soos jy. Dankie x

Ella ·

@ Maria ja ek het ook so besluit maar Siya Swart is n uitsondering werd.
Siya se soort mens het ons baie nodig. Wat hy aanpak is groot en moet deur almal waardeer word. Ook deur die wat hom al beroof en aangeval het. Daaroor ek is jammer.
Ek stem saam wat hy doen vir SA moet nie net weer doodloop nie.
Mooi loop Siya

Geurt ·

Ai, die negatiewe kommenteerders, God roep en vra elkeen om te hoor. Hy kies ons en al wat ons moet doen is hoor en kies. Die jonge man het gehoor en hy gehoorsaam deurdat hy sy ervaring gaan deel. Wees verseker dat God nie onderskei met ons kleur verwarring en dan net regte “kleur” aanraak nie. Hy wil alle mense aanraak! Dankie Mnr Simelani-Swart, mag jy ook geseënd wees met God se helpende hand!!

Bridget ·

Dit is so wonderlik van hom om dit aan te pak veral in die dae van van dag rerig moet daar altyd negatiewe mense wees skaam julle ons almal bid dat ons land ‘n beter plek word dan kry mens die negatiewe kommertaar well done daar is mense wat glo jy doen ‘n uitskende taak

Natersea ·

Ek was vanogged weer baie negatief met die stand van sake in ons SA – hierdie gee my weer hoop in my mede mens, ras ter syde gestel.
En ons sal bid vir hom ook, want ek weet sommer God het nog groot planne vir hierdie man omdat hy gehoorsaam was.

Catherine ·

Well done young man. Hope folks help you all along the way

Jerry ·

Afriforum moet Siya se verhaal gebruik om jong Afrikaners en Afriforumlede te inspireer om versoenend en verdraagsaam op te tree teenoor mede Suid Afrikaners! Dit is nou n gebeure van hoop, dit is positief en moet gebruik word om denke positief te rig! Dit kan baie help om n bietjie ontslae te raak van die skoorsoek, verdelende en beledigende mentaliteit van sommiges! Dalk inspireer Siya se versoenende gebaar sangers om n liedjie te skryf! Sal dit darem nou nie vir jou n ommeswaai teweeg bring nie!

Nettie ·

Mag God se hand van beskerming en Seën oor jou wees jongman!

Pray ·

Prys die Here en mag jy geseend bly, veilig wees en aanhou goed doen….

Dina ·

Jong man, ons het meer soos jy nodig. Baie sterkte, en mag God jou ryklik seen op hierdie pad van jou.

Bekkie ·

Jongman, hou so aan, gelukkig ken God ons almal se harte en jy gaan nog baie geseen word!

Se maar net ·

Eerste gedagte is dis nou ‘n pot nonsens maar as jy sy video gesien het op faceboek, dink jy twee keer! wow die kind vra niemand niks en bedel beslis nie, het ons lewens regtig so beinvloed geword deur haat en agterdog dat ons blind geraak het vir God se genade en goedheid….. ek laat sak my kop in skaamte

Se ma net ·

Wel ek kan nie vir eeen oomblik glo dat n ” bedelaar” soos sommige verwys graag op n harde pad sou wou slaap nie. Sterkte jong man kort baie van jou soort.

LADY ·

Wel gedaan jong man. As sy beursie dik staan is dit deur God se hand. Doen so voort ons Vader sal na jou kyk. Ek hou jou in my gebede. Wens ek kan doen wat jy doen..maar die bene van my gaan dit nie hou nie. Voorspoed en mag jy sommer arms vol blessings kry.

Vivian ·

God seen jou vir die woorde van hoop en lewe wat jy bring!

CDB ·

Jip. Hy is opreg , ‘n motivering en oog oopmaker. Sy aanneem pa is Nicholas Jaco Swart wat kaalvoet om Suid afrika gestap het. Volg hulle op FB.

Caroline ·

Kan Maroela Media dalk sy selfoon nommer bekend maak. Ek wil vir hom geld na sy foon toe stuur vir die laaste stretch.

Ilze Mostert ·

Wow!! Wat n wonderlike gesindheid en dissipel van ons Here. Mag daar daagliks NOG sulke mense opstaan. Be blessed-for being such a great blessing

Caroline ·

Kan Maroela Media ‘n selfoonnommer of rek nommer bekend maak. Ek wil graag vir Siya geldelik ondersteun vir die laaste stretch.

Elandré ·

Jaaaa….en almal wat net kan galbraak, nie kan bid nie, nie glo nie en boonop jok, as hulle sê,hulle bid vir andere,in nood…
Dié braak nou gal!
Hahaaa..siestog!
WELGEDAAN JONG siya,jys n voorbeeld vir miljoen pessimistiese siele

Amelia Steenkamp ·

Ek wens jou sterkte toe…Die pad wat jy besluit het om te loop is nie maklik maar moontlik met gebed.Jy is my gebede,verseker!

Melis ·

Wat n inspirasie! * :)

Hy laat my dink aan die liedjie ” hierdie klein liggie van my ek gaan hom laat skyn”

Michael P ·

Mooi so ou seun Nou moet jy net vir die ANC ook bid dat hulle wakker word en reg kom.

Elize ·

Wat n inspirasie.sterkte vir jou pad voretoe jongman.mag ander jongmense sien die lewe bied baie meer mooi as lelik.

Stan ·

Baie inspirerend, mag God elke tree seën. Dit is mense soos hy wat Suid Afrika weer op die regte pad sal hou. Hy laat my aan Johannes die dooper dink.

Arno Scheepers ·

Wat n pragtige jong mens. Dankie vriend ons gebede is met jou.
Ons lewende God stap tree vir tree saam met jou.
Jy versterk ons geloof en ons hoop. Jy is n voorbeeld vir ons almal. Baie sterkte.

Elaine Schalkwyk ·

Wat ‘n mooi en insperende storie ek glo hy is in sy hart opreg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.