Jongman vermis ná hy glo van Pta wou ryloop

Charlie Duvenhage. Foto: Verskaf

Charlie Duvenhage. Foto: Verskaf

Pink Ladies het Woensdag ʼn beroep op die publiek gedoen om op die uitkyk te wees vir Charles Nicolaas “Charlie” Duvenhage (25) wat verlede Donderdag spoorloos verdwyn het nadat hy vermoedelik van Pretoria af wou ryloop.

Dessie Rechner, stigter en direkteur van Pink Ladies, ʼn organisasie wat hom daarop toespits om vermiste mense op te spoor, het aan Maroela Media gesê Duvenhage kom oorspronklik van Witbank in Mpumalanga waar hy by sy ouers woon. Hy het ’n tweelingbroer en vier ander broers en susters.

“Hy het verlede Woensdag saam met sy ouers van Witbank na Pretoria gery om sy suster se kinders terug te neem nadat die kinders by hulle gekuier het,” het Rechner gesê.

Die suster woon op ʼn kleinhoewe in die Paardefontein-omgewing in Kameeldrift, noordoos van Pretoria. Sy ouers se motor het onklaar geraak en hulle het Woensdagaand by sy suster oornag.

Daar word vermoed dat Duvenhage homself Donderdagmiddag vir iemand vererg het. “Hy het omstreeks 17:30 sy ma vir die motor se sleutels gevra, ʼn kledingstuk daaruit gaan haal, die sleutels terug in haar handsak gesit en is daarna nie weer gesien nie.”

Hy het geen geld, ʼn beursie, identiteitsdokument of ander besittings by hom gehad nie. Hy het ook sy selfoon in die motor gelos. Sy ouers het aanvanklik vermoed dat hy van Pretoria na Witbank geryloop het, maar ʼn saak van vermiste persone by die Kameeldrift-polisie aanhangig gemaak nadat hy nooit by die huis opgedaag het nie.

“Hulle het ook vermoed dat hy dalk na sy tweelingbroer sou gaan, maar hy het ook nie daar opgedaag nie,” het Rechner gesê. Sy familie en vriende weet glo ook nie waar hy is nie.

“Sy ouers is rasend van bekommernis. Die dag wat hy vermis geraak het, is ʼn verdagte blou bakkie in die omgewing waar hy vermis geraak het opgemerk.”

Rechner het ʼn beroep op mense gedoen om pamflette met inligting oor Duvenhage op sosiale media te versprei, in die hoop dat iemand hom sal herken. “Hoewel hy in Gauteng of Mpumalanga kan wees moet mense in gedagte hou dat hy moontlik ʼn ryloopgeleentheid gekry het en dus enige plek in die land kan wees.”

Duvenhage is skraal, weeg 55 kg en is sowat 1,6 m lank. Hy het bruin hare en groen oë. Hy het ʼn tatoeëermerk van ʼn poema op sy linkerskouer. Die klere wat hy aangehad het toe hy vir die laaste keer gesien is, is ʼn driekwart denimbroek, ’n blou T-hemp en Billabong-plakkies.

Mense met inligting oor waar hy hom moontlik mag bevind, word versoek Pink Ladies by 072 214 7439 of 083 378 4882 te bel.

Charles charlie nicolaas duvenhage widbank pretoria

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SNEL ·

Ja, ek wens ek weeg 55kg, ek was self geskok toe ek dit lees, dis mos n skoolkind se gewig, maar ja. 1.6 is nie lank. Dis my probleem te kort vir my gewig.
Dit is so gevaarlike deesdae om selfs in n kar te ry, wat staan nog van ryloop. Hierdie ouers moet rasend van bekommernis wees. Die Pink Ladies was al so baie kere suksesvol, ek hoop regtig hulle kry hom sommer baie vinnig dat die ouers weer vrede en rus in hulle gemors kan hê. Baie sterkte aan die ouers en familie, hoop hy word veilig gevind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.