Jongmense was bloot op ‘verkeerde plek’

Johanco Fleischmann en Jess Kuhn. (Foto: Facebook)

Die private speurder Mike Bolhuis se ondersoekspan vermoed in die stadium dat Johanco Fleischman en Jess Kuhn bloot op die verkeerde plek sonder brandstof gaan staan het toe hulle Sondag koelbloedig op Putfonteinweg in Benoni doodgeskiet is.

“Daar is groot onwettige mynbedrywighede onder die Zama Zama’s [onwettige mynwerkers] in dié area en ons vermoed dat grootkoppe van dié groep Fleischman se bakkie vanaf die informele nedersetting oorkant die pad dopgehou het.

“Dit is ʼn plaasbakkie en hulle het tien teen een gedink dat [die jongmense] onwettige goudstof wou koop of oplaai. Hulle is as ʼn bedreiging gesien en toe doodgeskiet,” het oudkol. Vince Harris, lid van Mike Bolhuis se ondersoekspan, aan Maroela Media gesê.

“As hulle maar net twee of drie kilometer verder kon gery het, was daar ʼn vulstasie…” voeg Harris by.

Die ondersoekspan is Sondag deur Fleischman se familie genader om die skuldiges vas te trek nadat Fleischman (19) en Kuhn (23) se liggame Sondag langs die pad aangetref is.

Die span het Maandag die ondersoek getakel waar hulle eerstens die familie en die twee werkers wat tydens die voorval saam met die oorledenes was, ondervra het.

Luidens die inligting wat ingesamel is, het Fleischman se bakkie dié dag omstreeks 10:00 sonder brandstof langs die pad met hom, Kuhn en die twee werkers gaan staan. Fleischman het ʼn familielid gebel om brandstof te bring waarna hulle sowat twee uur langs die pad vir dié persoon gewag het.

Die familielid was egter nie presies seker waar die bakkie gaan staan het nie en het lank in die area rondgery en na hulle gesoek. “Die persoon het omtrent 12:00 nog met Fleischman gepraat en gesê hy weet nou waar hulle is en dat hy op pad is,” verduidelik Harris.

Sowat 20 minute later het die familielid Fleischman en Kuhn se liggame op die Putfontein-wisselaar aangetref. Daar was geen teken van die werkers nie.

Die voorlopige ondersoek dui daarop dat Fleischman en die werkers buite die bakkie gewag het terwyl Kuhn in die bakkie gesit het toe drie verdagtes skielik nadergestap het.

Een van die verdagtes het Kuhn met ʼn enkele skoot in die motor doodgeskiet. “Ons vermoed sy was onmiddellik dood,” vertel Harris.

Die skieter het daarna op Fleischman losgebrand. Dit lyk in die stadium of minstens 14 skote op dié jongman afgevuur is. Hy is eers later dood nadat die familielid op die toneel aangekom het.

“Die skieter het die vuurwapen se magasyn op hom leeggemaak. Dit kan wees omdat hy buite gestaan en hulle hom as die grootste bedreiging gesien het,” spekuleer Harris.

Die werkers het gedurende die voorval op die vlug geslaan.

Die bakkie langs die pad. Maroela Media het die foto verbloem weens die grafiese aard daarvan. (Foto: Twitter)

Die een werker het oor vier van die N12-snelweg se verkeersbane gehardloop. Een van die verdagtes het hom egter agternagesit, gevang en kon daarin slaag om die werker van sy selfoon te beroof. Die werker het toe losgekom en aanhou hardloop tot by ʼn oom van Fleischman se plot.

Volgens Harris is dié plot sowat 10 km padlangs van die toneel af, maar die werker het sowat 8 km tot daar gehardloop. “Hy wou net wegkom. Hy was lyk my gedaan toe hy daar aankom,” vertel Harris.

Die ander werker het ʼn ander rigting ingeslaan en oor die N12-brug gehardloop. Hy het op sy beurt na die voorval vertel dat iemand op hom in die stadium geskiet het, maar uit ʼn ander rigting. Die ondersoek dui daarop dat ʼn vierde verdagte, ’n “spotter”, sowat ʼn kilometer verder staan en wag het. Die verdagte het na vermoede die voorval dopgehou soos dit ontvou het en die werker in sy spore probeer stuit. Die werker is nie raakgeskiet nie en kon daarin slaag om weg te kom.

“Nie een van die jongmense was betrokke by iets nie. Dit was nie ʼn georganiseerde misdaad nie en hulle is nie deur iemand geteiken nie. Dit was ook nie roof nie, aangesien daar net selfone gesteel is. Hulle het nie juweliersware of gereedskap op die bakkie gesteel nie. Hulle het ook nie probeer om die bakkie aan die gang te kry om dit te steel nie,” verduidelik Harris.

Die verdagtes het wel probeer om die bakkie op die agterste sitplek aan die brand te steek, vermoedelik om bewyse te vernietig. Hulle het ook ʼn skoot in die brandstofklep afgevuur, vermoedelik in die hoop dat die voertuig sou ontplof.

Al dié vermoedens kan egter eers in ʼn latere stadium bevestig word, het Harris beklemtoon.

“Ek is amper 100% seker dat die Zama Zama’s gedink het hulle wil goudstof koop omdat hulle so lank daar gewag het en toe hulle ‘hit squad’ gestuur het. Al die inligting wys daarop. Dit is ʼn gevaarlike gebied en daar word gereeld oor en weer geskiet,” verduidelik Harris.

Die ondersoek in samewerking met die polisie se georganiseerde misdaadeenheid duur voort.

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

82 Kommentare

jongste oudste gewildste
christine

Dit is so verskriklike hartseer dat twee jong mense so moes sterf sterkte aan ouers ,maar hul weet ons bly in n gevaarlike samelewing nerens veilig en nog ry sonder genoeg brandstof .Sterkte hoop die vuilgoed word gevang .

Christelle

So met ander woorde: Moet nêrens gaan staan met jou kar nie want dit kan moontlik die verkeerde plek wees en jy kan met jou lewe betaal.

Henk

Hoe kan n openbare pad n “verkeerde plek” genoem word. As dit die geval is dan is die hele Suid Afrika n “verkeerde plek. ”
Gek en sinneloos.

Sharon

…. En die arme naasbestaandes moet nou daardie storie glo. Ons leef in n wettelose land…. Waar dit dus aanvaarbaar is dat daar links en regs doodgemaak kan word… Net omdat iemand “bedreig” voel.

Koos

As hulle vermoed dit is zama-zamas vang hulle almal en sit hulle op n pollie of tube hulle tot hulle praa. Iemannd sal begin praat