Jongste bewerings teen Manana ook deur parlement ondersoek

Mduduzi Manana buite die Randburg-landdroshof (13 September 2017) Foto: : Lindi Masinga / ANA

Baleka Mbete, die speaker van die nasionale vergadering, het Woensdag kommer uitgespreek oor die jongste aanrandingsbewerings teen ANC-LP Mduduzi Manana en gesê sy sal die parlement se etiekkomitee vra om dié bewerings in te sluit by ʼn voortgesette ondersoek wat van stapel gestuur is ná sy vorige skuldigbevinding.

Mbete het gesê dit is prysenswaardig dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) die beweerde aanranding van Manana se huishulp ondersoek ondanks die feit dat die huishulp haar klag by die polisie teruggetrek het.

“Geweld, veral geweld teen vroue, kinders en weerloses in ons samelewing, is ʼn plaag wat beveg moet word sonder ophou. Dit gebeur gereeld dat oorlewendes van geweld, veral huishoudelike geweld, klagtes wat by die polisie aanhangig gemaak word, terugtrek. Dit gebeur om verskeie redes.”

Mbete het gesê hoewel Manana as onskuldig geag moet word totdat hy skuldig bewys is, is hy steeds onderwerp aan ʼn parlementêre etiese gedragskode wat ontwerp is om te verseker dat LP’s aan ʼn sekere vlak van behoorlikheid en integriteit voldoen.

“Die doel is om ʼn gevoel van openbare vertroue en geloofwaardigheid te skep. Dit vereis onder meer dat lede van die parlement die wet gehoorsaam en etiese optrede ondersteun en aanmoedig deur leierskap en ʼn voorbeeld te stel,” het die speaker gesê.

“Daar word van staatsamptenare verwag om hulself te gedra op ʼn manier wat gepas is vir hul amp en status as eerbare lede van die parlement, sowel binne as buite die parlement.”

Sy het verwys na Manana se skuldigbevinding verlede jaar aan aanranding en sy vonnis van 12 maande tronkstraf of ʼn boete van R100 000 en dat daar van hom verwag is om ʼn rehabilitasieprogram en 500 uur gemeenskapsdiens te voltooi. “Sy gedrag word ook deur ʼn interne parlementêre ondersoek bekyk deur die gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange.”

Mbete het gesê in die lig van die jongste “kommerwekkende bewerings oor Manana se gedrag” sal sy die komitee opdrag gee om ook hierdie bewerings te ondersoek en ʼn aanbeveling te maak.

Manana moes verlede jaar noodgedwonge uit sy amp as adjunkminister van hoër onderwys bedank nadat hy drie vroue by ʼn nagklub aangerand het. Hy het egter aangebly as ANC-LP.

Maroela Media het vroeër berig Manana se huishulp, Catherine Wiro, het Sondag ʼn klag van aanranding teen Manana aanhangig gemaak nadat sy beweer het hy het haar by die trappe in sy huis in Fourways afgestamp nadat sy sonder toestemming die deur vir ʼn gas oopgemaak het. Sy het minder as 24 uur later die klag teruggetrek en beweer nou sy het dit gedoen omdat Manana haar R100 000 aangebied het om die klag te laat vaar en sy glo vir haar veiligheid gevrees het.

Manana ontken dit en beweer Wiro het hom afgepers om R100 000 aan haar te betaal. Hy ontken ook dat hy haar aangerand het en beweer hy het haar slegs berispe omdat sy “nie sy huisreëls nagekom het nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theresa B ·

Is daar enige plek enige iemand wat eerlikheid deur sy/haar are loop…..???????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.